Getsemane
(Markus 14)
In die tuin sien ek ‘n Man.
In sy oë sien ek hy’s bang.
Op sy voorhoof pêrel sweet
omdat hy sy toekoms weet.
Voor hom wag die kruis,
eers daarna die Vaderhuis.
Die Godskind
sien die rede.
Die menskind
bid die bede:
Vader, as dit moontlik is,
laat my dan die beker mis.
Voor my wag die kruis,
eers daarná
die Vaderhuis.
Voor die donker kloof
buig hy weer sy hoof
en sy hart word skielik stil.
Nie my wil nie,
maar dit wat U wil.
God het mens geword
op die aarde
om al sy genade
oor óns uit te stort.
© Andrea Sieberhagen, 2024