Noodroep
O Vader God,
sien my
as ek soos Saggeus
bo in die boom bly sit
diep afhanklik
van deernis
en vergifnis.
O Vader God,
hoor my
as ek soos Daniël
onder uit die leeukuil roep
en staatmaak
op ontferming
en beskerming.
O Vader God,
vat my hand
as ek soos Petrus
wantrouig
sonder hoop
op water wil loop.
Sonder U
tuimel ek
sink ek
verdrink ek.
© Andrea Sieberhagen, 2024
