Die taal van bome
Die sewejarige
se speelmaat
is ‘n wilgerboom
langs ‘n silwergrys stroom.
As die wind waai,
gryp die sewejarige
die lang slap boomvingers
vas, hardloop
deur die modder
die wal oor.
Swaai, swaai, swaai.
Die sewentigjarige
se geesgenoot
is die broodboom
in haar agtertuin.
In haar russtoel
by die venster
volg haar oë,
stekelrige vinger
vir vinger
die onmeetlike
blouwit lug in.
© Corlia Fourie, 2024
