Shongolo
Die duisendpoot, die millipede, rol op ter beskerming,
boonop stinkende toksines soos hidrokloriese suur
wat kan brand en hidrogene sianied vir versmoring.
Ukushonga van die Xhosa en Zoeloe-woord spring
uit ‘n woordeboek vanoggend langs my dubbelbed.
Ek tel sy pootjies een vir een 750, nes my seëninge.
Die spirtituele handleiding meen ‘n waarskuwing
oor ‘n onsigbare teenstand, ‘n “evil eye”, maar let
op hoe die gedig invou, terugbuig teen ontwrigting.
Die gedig as amulet of talisman: ‘n klein gelukbringer.
© Joan Hambidge, 2024
Ek hou baie hiervan, dis pragtig.