Witgatboom
Rotsvas staan jy in die dorre vallei,
die Richtersveld jou wydgeleë moeder
wat jou voed en bewaar, jou behoeder
wat met beplooide hand jou voedsel berei.
Hoe diep moes jy nie delf vir lewensbies?
Hoe fel kon haar asem jou nie skroei?
Jy smag na die rivier wat véraf vloei,
vér van dié graniethuis wat jy nie kies.
Júís het jy sterk geword: elke druppel
het jy ten volle benut, jouself verskans
teen die hellestraal wat rondom jou sou dans.
In jou skadu sal die veldfeë huppel,
voëls sal in jou ruie arms kom skuil:
die kelkiewyn, diederik, hoep-hoep en uil.
© Stephan du Toit, 2024
