Eugène N. Marais se gedigte oor die Anglo-Boereoorlog[i]
Johann Lodewyk Marais
I
Fransjohan Pretorius se Historical Dictionary of the Anglo-Boer War (2009: 336–339) wy vier bladsye aan “Poetry in the War”. Ten opsigte van die Nederlandse en/of vroeë Afrikaanse poësie wat tydens die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boere ontstaan het of, veral belangrik, grootliks nog nie behoorlik wortel kon skiet nie, word onder meer die volgende stelling gemaak:
The extremely simple, even primitive, rural existence of the Boers prevented the level of education and the habits of a literary culture required for the creation of poetry of quality during the war. (338)
[Die uiters eenvoudige, selfs primitiewe, plattelandse bestaan van die Boere het die opvoedingspeil en die gewoontes van ’n literêre kultuur wat nodig was vir die skepping van poësie van gehalte tydens die oorlog verhinder.]
Pretorius (2009: 338–339) vervolg dat die beste Afrikaanse poësie in die jare ná die Anglo-Boereoorlog ontstaan het as deel van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Volgens hom is dié gedigte in “impeccable Afrikaans – supple, evocative and taunt with new energies” [onberispelike Afrikaans – soepel, evokatief en propvol nuwe energie”]. As voorbeeld word Eugène N. Marais (1871–1936) se “Winternag” genoem, wat nie eksplisiet na hierdie oorlog verwys nie.
Marais het weliswaar slegs drie gedigte geskryf wat eksplisiet of implisiet oor die Anglo-Boereoorlog handel of iets van die aura van die oorlog oproep. Hierdie handvol gedigte, naamlik “Winternag”, “Die oorwinnaars” en “1902” het die eerste keer in 1905 en toe weer in 1933 die lig gesien as deel van ’n beskeie oeuvre van sowat 63 gedigte.
Waar dit oor ’n gesprek oor oorlogsgedigte handel, is dit ter sake om te kyk na Marais se Die volledige versamelde gedigte (2005) – helaas nie werklik volledig nie! – waarin oorlog en dan ook gebeurde in die lotgevalle van die Transvaalse of Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ter sprake kom. Dit is ook nodig om ’n kort oorsig van Marais se lewe te gee voor ek in enige besonderhede aandag skenk aan sy vroeë oorlogsgedigte, en veral dié na aanleiding van die Anglo-Boereoorlog. Uit dié oorsig sal enkele van die momente na vore kom wat heel dikwels in gesprekke en navorsing oor Marais voorop staan.
II
Eugène N. Marais is in 1871 in Pretoria gebore waar hy die eerste tien jaar van sy lewe woon. Op 5-jarige ouderdom begin hy sy skoolopleiding by ’n Nederlandstalige onderwyseres in die konsistorie van die ou grasdakkerkie op Kerkplein. Daarna ontvang hy onderrig van ’n Engelse predikant (kyk Du Toit, 1940: 2). Sy eerste Nederlands-onderrig (“feitlik as ’n vreemde taal”, volgens Nienaber-Luitingh, 1962: 13) ontvang hy een keer per week.
Marais gaan woon in 1881 by sy oudste broer, Charles Gerard Marais, op Boshof in die Vrystaat (Du Toit, 1940: 5–7) waar hy tot aan die einde van 1884 skool gaan, waarna hy by sy suster Lizzie Niemeyer in die Paarl gaan woon en op 16-jarige ouderdom aan die Paarl Public School (later die Hoër Jongenskool Paarl) matrikuleer. Marais word hoofsaaklik deur medium van Engels onderrig en in hierdie tyd verskyn sy eerste gedigte (wat in Engels geskryf is) in The Paarl District Advertiser.
Die inligting in verband met Marais se taalverwerwing moet in ag geneem word wanneer sy gedigte in Engels en pre-Standaardafrikaans bekyk word.
III
Twee gedigte, naamlik “The soldier’s grave” en “Majuba” is van Marais se vroegste gedigte wat hy geskryf het in die Paarl waar hy in daardie stadium skoolgegaan het. (Pogings om die oorspronklike skool en koshuis volhoubaar te bewaar, het tot dusver nie geluk nie.)
’n Nota bo-aan “The soldier’s grave” verklaar dat die gedig oor die oorskot van ’n Britse soldaat handel wat ná die Eerste Vryheidsoorlog (1880–1881) deur jagters naby ’n stroom gevind en begrawe is. Die 12-jarige Marais is só deur hierdie gegewe aangegryp dat hy ’n gedig van agt strofes in kwatrynvorm met ’n abab-rympatroon hieroor skryf. Die gedig het op 7 November 1885 in The Paarl District Advertiser verskyn. Die vyfde strofe lui soos volg:
Here sleeps a son of that great Queen,
Who rules the mighty deep
In his low grave, unknown, unseen
For whom no one did weep.
Die lang gedig “Majuba”, wat op 25 September 1886 in The Paarl District Advertiser verskyn het, handel oor die Slag van Majuba van 27 Februarie 1881. Dit was die laaste en beslissende botsing tussen Groot-Brittanje en die Boere van Transvaal tydens die Eerste Vryheidsoorlog. Die gedig beskryf op dramatiese wyse die gebeure tydens die slag en gee aandag aan die landskap en die Britte se “swords and helmets bright,/ Glittering in the early light/ Of the day”. Die Boere is deur patriotiese liefde aangevuur om ’n glorieryke oorwinning te behaal en die gedig gee ’n goeie beeld van die geweld tydens hierdie geveg.
In die gedig “’Anglified’ Africanders” skryf Marais oor die proses van verengelsing van Bolandse Afrikaners. Diesulkes het die gutterale Nederlands van hulle vanne byvoorbeeld aangepas om sosiaal meer aanvaarbaar te wees en “home they’ll send their children fair/ To study life and manners there”. Die gedig het op 5 Maart 1887 in Het Paarl District Advertentieblad verskyn.
IV
Ná skool keer Marais na die ZAR terug, waar hy in Pretoria as prokureursklerk begin werk. Op grond van sy skryftalent, wat reeds op skool uit sy bydraes as joernalis van die Union Debating Society geblyk het, begin hy vir die Transvaal Advertiser skryf (kyk Du Toit, 1940: 9). In 1890, op 19-jarige ouderdom, word hy redakteur en, ’n jaar later, mede-eienaar van die Nederlandstalige weekblad Land en Volk wat krities teenoor pres. Paul Kruger was. Dikwels het sy berigte oor korrupsie en nepotisme hom by lasteraksies betrek sodat hy as geregshofmonomaan geëtiketteer is. Marais se morfienverslawing dateer vermoedelik uit hierdie era.
Marais tree in 1894 met Aletta (Lettie) Beyers uit Colenso in Natal in die huwelik. Skaars elf maande later, nege dae na die geboorte van hulle seun Eugène Charles Gerard, sterf sy aan kraamkoors (kyk Rousseau, 1984: 92). Die seun sou nooit permanent by sy vader woon nie. In Desember 1896 dra Marais die redakteurskap van Land en Volk aan J.Y. O’Brien oor (kyk Du Toit, 1940: 14) en vertrek met die Dunottar Castle na Londen om hom aan die Inner Temple te gaan inskryf as regstudent.
Marais bly vyf jaar in Europa en blyk baie ontvanklik vir die strominge van die tyd te wees. Benewens sy regstudies is hy ook in ander onderwerpe geïnteresseerd. Hy doen heelwat mediese kennis op, wat veral gedurende sy verblyf in die Waterberg nuttig sou wees en hom help voorberei het om etologiese waarnemings van dieregedrag in die natuur te doen.
Tydens ’n groot deel van die Anglo-Boereoorlog word Marais as Britse burger ná die anneksasie van die ZAR toegelaat om in Londen te bly (kyk Van der Merwe, 2015: 202) om sy finale regseksamen in September 1901 te kan aflê. In die regte sou Marais helaas in sy later lewe min vervulling vind.
In 1902 sluit Marais aan by ’n ekspedisie onder leiding van ’n Duitse geneesheer, dr. E. Schultz, wat met Duitse finansiering medisyne en chemikalieë vir die vervaardiging van plofstowwe via Brussel na die Boeremagte wil smokkel. Die ekspedisie reis per skip langs die ooskus van Afrika af “om in aanraking met die kommando van genl. Beyers in Soutpansberg te kom” (Marais, 1984: 422). In Beira, in die destydse Portugees-Oos-Afrika (die huidige Mosambiek), kry hulle egter berig van die sluiting van die Vrede van Vereeniging en die geselskap gaan uiteen.
Enkele maande ná Marais se malaria-aanval tydens die reis kan hy na Pretoria terugkeer, waar hy in Oktober 1902 tot die Balie toegelaat word. Hy besluit om Land en Volk weer te laat verskyn, maar kan weens sy swak gesondheid nie self die redakteurskap behartig nie.
Marais oorreed die later befaamde koerantredakteur en joernalis Gustav S. Preller (1875–1943), wat na sy terugkeer as krygsgevangene uit Indië van plan was om na Argentinië te emigreer (kyk Preller, 1925: 197), om van sy planne af te sien en die redakteurskap te aanvaar (kyk Du Plessis, 1988: 100–101). Sowel Preller as Marais neem in die koerant krities standpunt in teen aspekte van die Britse bewind, soos lord Alfred Milner se verengelsingsbeleid. In die koerant self, in korrespondensie en in twee persoonlike gesprekke met Milner het Marais vir die verslane Boere in die bresse getree. Dit lei meermale tot botsings met die owerheid en dreigemente om die koerant, wat finansiële steun van die Milner-regime ontvang het, te sluit.
In 1905, die jaar waarin Marais se “’n Winter Nag” (voorloper van die later beroemde “Winternag”) op 23 Junie in Land en Volk verskyn, verkoop hy die koerant. Die gedig van tien reëls het onder die skuilnaam Klaas Vakie, een van die skuilname wat Marais gebruik het, verskyn:
WINTERNAG
O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou.
Reeds in 1891 het Marais in Land en Volk as pleitbesorger vir Afrikaans na vore getree. Dit was egter veral in 1905 dat Marais en Preller, wat sedert 1903 assistent-redakteur van die meer bestendige De Volksstem geword het, begin het om proaktief op te tree. Van Marais het ’n handvol gedigte en jakkals-en-wolfstories verskyn, terwyl hy in artikels die belangrikheid beklemtoon het om ’n Afrikaanse letterkunde tot stand te bring en Afrikaans in plaas van Nederlands te gebruik. Marais se eie eerste gedig in Afrikaans, “Gert Senekal”, het reeds op 8 September 1891 in Land en Volk verskyn. Daarna het nog gedigte in ’n meermale ballade- of narratiewe vorm verskyn.
Die publikasie van “Winternag” was ’n groot wins vir sowel Marais as Preller se pro-Afrikaanse standpunte. Preller het onmiddellik die betekenis van die gedig ingesien en in een van sy artikels in De Volksstem die gedig aangehaal as voorbeeld van dit waartoe Afrikaans in staat is. Volgens Preller is die gedig geskryf deur “’n ongeleerde Boer, wat nimmer of nooit Hollands kan schrijf nie, maar hy is ongetwijfeld ’n digter”.
Leon Rousseau, een van Marais se drie biograwe, het in ’n artikel, “Profetiese woorde van Eugène Marais eggo nog” (Die Burger, 4.4.2005), die mening uitgespreek dat “Winternag” al in 1902, kort ná die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog, geskryf is. Aanvanklik was “Winternag” deel van ’n langer epiese gedig, “Die nagwag”, wat Marais nie klaargemaak het nie. Uit manuskripte (van onder meer “Mabalêl”) weet ons dat hy hard en verbete kon werk. Omdat dit blykbaar vir Marais moeilik was om gedigte te skryf, het hy min gedigte nagelaat. Een van sy belangrikste literatuuropvattings was dan ook dat ’n digter aan sy gedig moet werk en nie op inspirasie moet staatmaak nie; vakmanskap was vir hom belangrik.
Indien Rousseau se afleiding korrek is dat “Winternag” reeds in 1902 geskryf is, kan dit die siening versterk dat die gedig by die hartseer oor die oorlog aansluit. Hiervolgens sou Marais die gedig kon geskryf het in die losieshuis van sy suster, Jess Rex, langs die bestaande Staatsmodelskool in Pretoria waar hy ná sy terugkeer uit Londen gaan bly het, of in sy advokate-kantoor in die Nederlandse Bank-gebou. As ’n mens na sy korrespondensie met onder andere lord Milner kyk, is dit opvallend dat hy dikwels briefhoofde met laasgenoemde adres gebruik het. In 1905, ten tyde van die publikasie van die gedig, het Marais in Brooklyn, destyds ’n landelike buitewyk van die stad, gewoon. Marais se liefde vir die landelike atmosfeer daar het bes moontlik in die gedig neerslag gevind.
Maar wat het van “Winternag” ’n gedenkwaardige gedig gemaak? Ongetwyfeld is dit die woorde en organisasie van die gegewens in die gedig. As dit nie so was nie, sou geslagte lesers die gedig nie as ’n besondere estetiese ervaring beleef en groot dele daarvan nog jare later onthou het nie. Daarby is die gedig van groot literêr-historiese belang vanweë die publikasie daarvan ná die Anglo-Boereoorlog (met eggo’s van die oorlog in die gedig) asook die gedig se “oortuigingskreet” – soos F.G.M. du Toit dit in Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940) gestel het – in die stryd om Afrikaans. Belangrike tekste word dikwels belangriker weens die tyd en omstandighede van hul ontstaan.
Ongetwyfeld het “Winternag” se kanonisering ook te doen met die waarde wat veral in die eerste helfte van die twintigste eeu aan Marais se poësie (en poësie in die algemeen) toegeken is. Dit was immers ’n besonder gunstige tyd vir die poësie. Eers heelwat later, so laat as die 1960’s, toe prosa as genre (ook wêreldwyd) sterk na vore gekom het, sou Marais se prosa – veral Dwaalstories en sy wetenskaplike prosa – tot hul reg kom en intensief bestudeer word.
Gustav Preller het in 1939 in sy idiosinkratiese Afrikaans die volgende stelling gemaak: “Dit is altemit ’n bietjie te veel gesê, dat daar A.D. 2139 slegs tien reëls nog orend [sic] sal staan van ál wat vandag in Afrikaans geskryf is, maar ek het altoos gemeen dat dié tien reëls van Eugène se ‘Winternag’ daaronder sal wees.” Eugène N. Marais het inderdaad ’n meesterlike gedig geskryf.
“Winternag” is in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis van die allergrootste belang; ’n mens kan dit selfs die “belangrikste” gedig in Afrikaans noem. Vir geslagte Suid-Afrikaanse lesers was Marais die digter van “Winternag” wat in die Afrikaanse taalstryd kort ná die Anglo-Boereoorlog ingespan is as bewys van wat Afrikaans kan vermag.
V
Nog van Marais se gedigte wat betrekking op die Anglo-Boereoorlog het, is “Die oorwinnaars”, “1902” en “Is daar nog trane?” Laasgenoemde het in Junie 1927 in Die Boerevrou verskyn en vermeld die tot dusver onbekende “Belgiese hospitaal vir ongeneeslike kinders”. (Die oud-LV Koos van der Merwe wat onlangs oorlede is, het jare lank sonder sukses by die Belge en die Belgiese Ambassade navraag gedoen om te probeer uitvind na watter hospitaal daar in die gedig verwys word.)
Die gedig handel oor die pyn en lyding van kinders in die genoemde hospitaal en sluit goed aan by so baie ander gedigte in Marais se oeuvre wat oor lyding en die ondeurgrondelikheid daarvan handel. Die eerste klinkende woorde van die eerste strofe bly ’n mens by:
Is daar nog trane?
Sal ooit weer skyn van smart,
deur sinsbedrog en ydel wane,
’n enkel’ sug roep uit die hart?
Is daar nog trane?
Die twee daaropvolgende gedigte in Die volledige versamelde gedigte handel spesifiek oor die trauma van die Anglo-Boereoorlog.
Die gedig “Die oorwinnaars”, wat in 1933 die eerste keer in Marais se Versamelde gedigte verskyn het, handel oor die kindergraffies in die konsentrasiekamp van Nylstroom (tans Modimolle) in die Waterberg waar Marais lang tye deurgebring het en sluit enigsins aan by die gedig oor die kinders in die Belgiese hospitaal. Dit is ’n wrang gedig wat protesteer teen die prys wat kinders tydens die Anglo-Boereoorlog moes betaal in die aangesig van besluite wat op ’n ander, hoër vlak geneem is:
DIE OORWINNAARS
By die kindergraffies uit die Konsentrasiekamp van Nylstroom
Oorwinnaars vir ons volk,
bly u vir al wat beste in ons is ’n ewig’ tolk;
nooit weer sal vyands voet u stof so diep vertrap en smoor
dat ons u langer nie kan sien – en hoor.
Nie onse Helde, wat die magtig’ leër
op glansryk’ velde kon weerstaan en keer;
nie onse Seuns, wat aan die galg en teen die muur
die diepe liefde vir hul eie moes verduur;
nie onse Moeders, wat met bloeiend’ hart en seer,
in swart Gethsemané die ware smart moes leer;
nie onse Generaals, vereer met krans en riddersnoer;
– was waardig vir ons volk die hoge stryd te voer en te oorwin.
Nie ons, met vuile hand en hart ontrou was waardig om die
vaandel hoog te hou.
Maar u, o bleke spokies, in U kermend’, klagend’ wee,
staan voor ons ewiglik beskermend – uit die lang verlee.
Die gedig “1902” het ook die eerste keer in Versamelde gedigte verskyn, maar volgens ’n nota by die gedig is dit “[o]p die eiland Chiloaan aan die monding van die Save, net vóór die tyding van Vereeniging se vrede” geskryf. Vir my is hierdie gedig, selfverklarend wanneer ek dit voorlees, boeiend as duidelike voorloper en inspirasie vir ’n digter wat ná Marais gekom het, naamlik N.P. van Wyk Louw, wie se reeks gedigte, “Gedagtes, liedere en gebede van ’n soldaat” in Die halwe kring (1937) en moontlik selfs die versdrama Die dieper reg (1938) aansluit by “1902” se woorde en versugting.
1902
God van ons Vaders, as U wil bestaan,
dat ons as Staat en Nasie moet vergaan, –
besoedeld deur verraad, ontrou
aan alles deur ons Vaders opgebou
(die ideale vir ons opgegaar
deur worst’ling van ’n halwe duisend jaar!);
bedwelmend deur elke lawwe vrees,
onwaardig langer nog ’n volk te wees;
ons diepste liefde steeds gesmoor
om vreemdeling en vyand na te spoor;
en vuile hande, rooi bevlek,
met bloed van broer en vriend bedek; –
God van ons Vaders, bly U wil bestaan,
leer ons genadiglik die dood blymoedig in te gaan.
VI
In Marais se beperkte oeuvre sien ons ’n digter wat hom steur aan die geweld tydens die oorloë waarby die ZAR betrokke was. Uit die biografieë van F.G.M. du Toit, M. Nienaber-Luitingh en Leon Rousseau leer ons meer van sy lewe, wat met sy selfmoord op 29 Maart 1936 naby Pelidaba tot ’n einde gekom het. Oor Marais se lojaliteit teenoor die Boere en die ZAR se oorlogspoging kom meer nuanses na vore in Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (2015).
Uit die klompie gedigte waarna ek verwys het, blyk Marais se lojaliteit teenoor die mense waarmee hy aan die suidpunt van Afrika ’n bloedband gehad het. Marais se kritiek vóór die Anglo-Boereoorlog teen pres. Paul Kruger is ’n onderwerp waarmee verskillende navorsers hulle die afgelope jare bemoei en selfs enigsins verlekker het. Ook in die lig van die gedigte wat Marais oor die koloniale onreg van die Anglo-Boereoorlog geskryf het, verstaan ek waarom een van die kranse wat in 1904 op die ontslape president se graf geplaas is, gekom het van Eugène N. Marais.
© Johann Lodewyk Marais, 2024
Departement Historiese en Erfenisstudies
Universiteit van Pretoria
Bibliografie
Baard, Marissa, J.C. Kannemeyer, Kristèl Roets, Nicol Stassen en Marni Viviers (reds.). 2005. Eugène N. Marais: Die volledige versamelde gedigte. Pretoria: Protea Boekhuis.
Du Plessis, P.J. 1988. Die lewe en werk van Gustav Preller (1875–1943). Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Ongepubliseerde D.Phil.-proefskrif.)
Du Toit, François Guillaume Marais. 1940. Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: N.V. Swets & Zeitlinger.
Marais, Eugène N. 1984. Versamelde werke 1 en 2. Pretoria: J.L. van Schaik. (Onder redaksie van Leon Rousseau.)
Marais, Johann Lodewyk (samest.). 2006. Honderd jaar later: Ter viering van die
publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905. Dainfern: Praag.
Nienaber-Luitingh, M. 1962. Eugène Marais. Kaapstad: Human & Rousseau.
Pretorius, Fransjohan. 2009. Historical Dictionary of the Anglo-Boer War. Lanham, Maryland, Toronto and Plymouth, UK: The Scarecrow Press, Inc.
Rousseau, Leon. 1984 (1974). Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. Derde uitgawe. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
Van der Merwe, Carel. 2015. Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Tafelberg.
[i] Lesing gelewer tydens die simposium oor Oorlogstaal uit die Digtersmond: Die Anglo-Boereoorlog, aangebied deur die Vriende van die Oorlogsmuseum in die Helpende Hand Hoofkantoor, Irene, Centurion, 2 November 2024.
