Van skakerings grys tot fassinering (Pretoria: Imprimatur, 2024)[1]
MB: Die twee boeke, ’n Afrikaanse en Engelse weergawe, ondersoek die geskiedkundige en literêre tekste waarin Shaka, koning van die Zulu’s, uitgebeeld of voorgestel word. Die mondelinge oorlewering oor Shaka is dus nie in berekening gebring nie. Waarom het jy so ’n studie aangepak? Bestaan daar vandag nog ’n mondelinge tradisie in isiZulu waarin die historiese figuur/legendariese koning van die Zulu’s oorgelewer word?
JLM: Ek het in my standerd 9-jaar op Harrismith, naby KwaZulu-Natal, die eerste keer met koning Shaka kennis gemaak. Dit was helaas nie in Geskiedenis, een van my vakke vir matriek nie, maar danksy ’n artikel in die tydskrifbylae van Rapport. Die artikel het oor Cecil Skotnes en Stephen Gray se indrukwekkende The assassination of Shaka (1974) gehandel, wat kort tevore verskyn het. Veral Skotnes se houtsneekuns-afdrukke het my én van my skoolmaats beïndruk en iets van die Zulu-monarg se lewe en gewelddadige en tragiese einde gewys. Gray se gedigte en, in die artikel, ’n verwysing na die bronne wat hy gebruik het (onder meer ’n gedig van D.J. Opperman), het my belangstelling geprikkel. André P. Brink se gloeiende resensie in Rapport van prof. Chris Swanepoel se eerste Afrikaanse vertaling van Thomas Mofolo se roman Tjhaka (1974/1926) en die lees van die roman het my verder op Shaka se spoor gesit. Vandag leef hy ongetwyfeld nog voort in die mondelinge Zulu-tradisie. Of daar in hierdie vertellings nuwe of tot dusver onopgetekende inligting bestaan, is wel debatteerbaar. Dan Wylie, waarskynlik Shaka se belangrikste (anti-)biograaf, meen dit is onwaarskynlik. Ek verkies om die moontlikheid oop te laat en erkenning te gee aan die rol van mondelinge oorlewering in die bestudering van die geskiedenis.
MB: In die eerste hoofstuk gee jy ’n kort oorsig oor wat feitelik bekend is oor Shaka. Van watter bronne het jy hier gebruik gemaak en wat sou jy wou uitlig as van die belangrikste biografiese gegewens?
JLM: Ten opsigte van die feitelike of biografiese deel het ek my veral deur die seminale studies van die historikus John Laband en die letterkundige Dan Wylie as maatstaf laat lei. Ek verwys ook na ander bronne soos dié oor die betroubaarheid al dan nie van James Saunders King se skets in Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa (1836), wat ’n visuele beeld van Shaka geskep het en op die titelblad van my boek verskyn.
MB: Dan volg ’n oorsig oor die belangrikste historiese voorstellings van Shaka. Een van die bekendstes is Thomas Mofolo se Tjhaka (1926) wat in Sesotho geskryf is. Waarin lê die waarde van hierdie boek?
JLM: Thomas Mofolo se roman het in 1926 die lig gesien en was die eerste roman in een van Suid-Afrika se inheemse tale. Brink het in sy resensie die aandag op die belangrikheid van hierdie roman en die vertaling daarvan gevestig, wat prof. Swanepoel ongetwyfeld moes geïnspireer het om meer oor Mofolo se roman te publiseer en in 2017 selfs met ’n tweede, nuwe vertaling vorendag te kom. Dat Mofolo met ’n fiets in landelike gebiede in Zululand rondgery het om mondelinge inligting oor Shaka te versamel, het my as later ook rondreisende navorser (darem gewoonlik per motor!) in landelike gebiede geboei. Mofolo lê onder meer klem op die rol van die bonatuurlike in Shaka se lewe, skep fiktiewe karakters en skryf oor die, volgens hom, moord op sy ma, koningin Nandi, wat tot groot wreedhede en die uiteindelike sluipmoord op hom deur sy halfbroers Dingane en Mhlangana en sy lyfwag Mbopa in KwaDukuza gelei het. Die roman is wyd vertaal en het baie tot die belangstelling in Shaka en Swart Bewussyn bygedra.
MB: Vir Afrikaanssprekendes was D.J. Opperman se epiese gedig “Shaka” in sy debuutbundel Heilige beeste (1945) van besondere belang. Kan jy uitbrei hieroor (o.a. sy getrouheid aan die historiese data en sy uitbeelding van die hooffiguur)?
JLM: Opperman se “Shaka” is naas die epos Joernaal van Jorik (1949) sy langste gedig. In die gedig kry die leser as ’t ware in die vyf dele chronologies ’n oorsig oor Shaka se traumatiese jeugjare, sy opgang as krygsman en leier van ’n nuwe groep mense (die Zulu’s), oorwinnings wat hy oor teenstanders behaal het, ekstreme wreedhede en uiteindelik sy dood aan die hand van twee halfbroers en sy lyfwag. Opperman se bronne vir die historiese gegewens in die gedig was onder andere drie isiZulusprekers, A.T. Bryant se Olden times in Zululand and Natal (1929) en Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa (1836). Opvallend in die gedig is sy vertroudheid met die Natalse ruimte en samelewing tesame met sy buitengewone metaforiese vermoëns. Hy maak egter van vrye rymlose verse gebruik en nie die klinkende rymvorme waarvoor hy in die meeste van sy langer gedigte bekend is nie. Nadat ek ’n referaat gelewer en ’n artikel oor die gedig gepubliseer het, het J.C. Kannemeyer teenoor my opgemerk dat die afwesigheid van “stutte” of bindmiddels (soos rym) die gedig vir hom minder geslaagd gemaak het. In die lig van die mindere of geen rol wat rym in die inheemse tale speel, dit wil sê die hantering van ’n ander soort versvorm geïnspireer deur die mondelinge tradisie, het Opperman myns insiens wel ’n outentieke versvorm geskep om oor Shaka te skryf. Hierdie gedig is een van die mees geslaagde tekste oor die koning.
MB: Jy beskou Mazisi Kunene se Emperor Shaka the Great: A Zulu epic (1979) ook as ’n betekenisvolle werk ook Shaka. Waarop het hy klem gelê, en verskil hy van Mofolo en Opperman se sienings?
JLM: Kunene het baie jare as balling in die buiteland deurgebring. Ná hy na Suid-Afrika teruggekeer het, is hy as Suid-Afrika se eerste hofdigter aangewys. Emperor Shaka sluit by die groot tradisie van literatuur oor Shaka aan en is later ook in isiZulu gepubliseer. Dit is ’n groots opgesette epiese gedig waarin Shaka se lewe breedvoerig uitgebeeld word. Hy fokus op Shaka as heldefiguur en behandel op simpatieke wyse die groei van die Zuluvolk onder Shaka se leiding. Nes Opperman maak hy van die vrye vers gebruik. Vir Kunene is Shaka bowenal ’n held binne die pan-Afrikanistiese tradisie en sluit hy dus aan by die werk van skrywers in veral Franssprekende Afrikalande wat via die vertaling van Mofolo se roman met hierdie figuur kennis gemaak het. Een so ’n skrywer/digter was die voormalige Senegalese president Léopold Sédar Senghor. Mofolo se roman het geweldige groot invloed gehad en dit is steeds die geval.
MB: Jy noem ook die voorstellings van Shaka deur Afrikaanse skrywers soos P.P.R. van Coller, J.P. Bruwer, F.W. Strydom en P.J. Schoeman, en die versdrama van Pieter Fourie wat nooit opgevoer is nie. Watter van dié werke wil jy uitsonder?
JLM: Prof. Dan Wylie van Rhodes-universiteit, wat kommentaar op die manuskrip van my boek gelewer het, het my bespreking van die Afrikaanse tekste oor Shaka as een van die bydraes tot die bestaande literatuur oor Shaka beskou. Daar is dekades lank belangstelling in Shaka van onder meer skrywers met ’n antropologiese skoling. Twee van hierdie skrywers, naamlik P.J. Schoeman en J.P. Bruwer, was hoogleraars in antropologie. Ek was beïndruk met Schoeman se Pampata: Die beminde van koning Tsjaka (1978), wat getuig van die skrywer se redelike vertroudheid met die Zulukultuur en -geskiedenis. Hy fiksionaliseer die gegewens en gebruik die fiktiewe karakter Pampata om Shaka se verhouding met vroue uit te beeld. Die roman is ook in Engels vertaal en nog steeds die moeite werd om te lees. Bruwer, in lewe viserektor van die toenmalige Universiteit van Port Elizabeth en een van die slagoffers van die Rietbok-vliegramp naby Oos-Londen van 1967, skryf oorsigtelik oor Shaka as een van die invloedryke swart manne uit die verlede.
MB: Daar was, benewens ander publikasies, ook ’n televisiereeks Shaka iLembe. Hoe geslaagd was dit, en is dit nog as video beskikbaar?
JLM: Shaka het as ’t ware in ’n previsuele era gelewe. James Saunders King se tekening van Shaka skep ’n redelike en heroïese beeld van hom, maar is eers enkele jare na sy dood gemaak en na alle waarskynlikheid onakkuraat. Die skildvel en assegaai wat Shaka by hom het, lyk byvoorbeeld nie soos die wapentuig wat in sy era ontwikkel is en aan sy krygers ’n effektiewe voordeel bo hulle teenstanders gegee het nie. Oor die jare is daar nietemin talle skilderye, tekeninge en strokiesprente van Shaka gemaak. Televisiereekse soos Shaka Zulu (1986), met Henry Cele in die hoofrol, en meer onlangs Shaka iLembe (2023) was groots opgeset. Die uitbeelding van Shaka se geskiedenis bly weliswaar ’n uitdaging in die lig van die beskikbare bronne en die wyse waarop hy heel dikwels verkeerd uitgebeeld word. Sowel John Laband en Dan Wylie lê klem op hoe min ons oor Shaka weet en dui dus ook waarskynlik op betekenisvolle oordrywing van die wreedhede wat aan hom toegeskryf word. Shaka iLembe was in vele opsigte skouspelagtig met baie klem op sensualiteit en die kwesbaarheid van die menslike liggaam, maar die historiese gegewe is meermale verdraai of vergesog. Dit is nog as video beskikbaar.
MB: Ten slotte, en kortliks: Is dit vandag nog moontlik om by “die ware Shaka” uit te kom of moet ons met die mite volstaan?
JLM: Die historiese navorsing oor Shaka moet voortgaan en beskikbare bronne verken en herinterpreteer. My boek probeer om rigting in hierdie verband te gee en minder bekende tekste te betrek. Die gesprek oor Shaka as historiese figuur gaan voort soos blyk uit die onlangse publikasies en werk oor hom in ander media, wat aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis help herinterpreteer. Ons moet voortgaan om te probeer uitvind wie “die ware Shaka” en sy moeder, koningin Nandi, was. Laasgenoemde is een van die projekte wat tans my aandag verg.
[1] Aangebied tydens die bekendstelling van die boek by Exclusive Books by The Grove Mall, Lynnwoodweg, Pretoria, op 18 Oktober 2024.