Vers 81
(vir Breyten)
ydel monumente pronk
dikgevreet en praalsiek
die lang vingers
van skraapsug laat
serfyne swyg
die paladyn op ‘n donkie
verklaar oorlog
teen ‘n windpomp
gooi jakkalsdraaie
om ideologie en geloof
jou bloed het jou
twee keer verloën
vir sewe jaar
skryf jy in ‘n tuin
sonder loof of blom
ek droom jou vry
dreineer die salpeter
van die klakkelose katarsis
van stom beton
die gekla van slotte
het stil geword
ek bid in metafore
en kyk hoe die aasvoëls
pik aan die siele
van alledaagse serafyne
* Hierdie vers vir Breyten is geïnspireer deur sy uitstalling The 81 ways of letting go a late self (18 October tot 24 November 2018) by die Stevenson Galery in Kaapstad. Dit is ook vir my belangrik om te noem dat beide die Buddha en die Griekse filosoof Plato op 81 oorlede is. Die bestaan van ‘n mens wat in China die ouderdom van 81 haal, word bestempel as volkome.
© Christiaan Diedericks, 2024
