alpha centauri
Openbaring 22:13
ek gryp vanaand na U
sterstellasie van God
na die drie-enigheid
van U swaartekrag
ek roep U aan
deur die fyn melkdoilie
van gehekelde kalaharinag
geloof en hoop,
die dubbellig
met liefde se
klein rooi dwerg
(basterklip)
‘n afgeleë proxima,
eksentriek in boogsekond
my orbitêre metgesel
ek bid dat U
my broos geloof
se geskroeide vingers vat,
my binêre ster
tans, van die grootte, núl,
in Gees sal raak,
dat U my wys waar
die Alfa en Omega is
© Anne-Marie Bartie, 2024