Namib
Koningin van Afrika, jou kleed
lê uitgestrek langs die kus van die dood
ruim is die lug bo jou, jou landskap groot
en so wyd deur die Skepper afgemeet
voor die eerste blom van jou wonderplant
voordat jy sou heers oor gemsbok en leeu
oerjare voor die mens se eerste eeu
is verhale geskryf in jou okersand
jy sorg vir jou kinders, jou woestynhand
voed, hul dors word geles deur die oggendmis
deur jou stilte en vrede word hul gesus
beeldskoon is jy vanaf Spreetshoogte se rant
Sossusvlei kies jy as jou goue troon
‘n diamant is Solitaire in jou kroon
© Stephan du Toit, 2024