Theorists have license to get pretty creative
– Marc Kamionkowski (teoretiese fisikus en kosmoloog)
“In die Begin …” Sou Moses dit anders kon vertel?
Miskien: “Als was woes en leeg en toe kom die bevel:
Laat daar lig wees! En toe, toe volg daardie knal,
ʼn groot big bang en siedaar, die heelal,
grote kosmos wat glans met sterre en planete
wat tol in tollende galaksies; en komete
wat elke eeu of wat weer gesig kom wys,
en hier en daar ʼn reusenewelwolk
en in die Melkweg se hart, ʼn gravitasiekolk …
Sou Moses, heel feitelik, dit so aan ons vertel
en boonop dat die heelal nog steeds aanʼt swel
is ná die knal van daardie Oerbegin?
Sou ons hom glo of sou ons later, erg verleë,
sing: Ja, daar is geen land so ver of woes geleë …
© Chris Venter, 2024