Emily Hobhouse
jy rus nou in Bloemfontein
in vrede
maar vroeër
was ‘n vlymswaard deur jou gemoed
die dood van vier-en-twintigduisend
kinders
kinderloos
tog
‘n moeder vir ons volk
jou sorg ‘n genoegsame tent
teen son en ryp
masels en tifus
britse apatie
jou briewe die nemesis
van generaal en edelman
in ink word jy hulle gewete
in 1926
sou ses meisies jou kissie dra
staatsmanne jou eer
as die heler van ons wonde
‘n engel van vertroosting
in die mooiste maand
deur die lenteblou Vrystaatlug
voer ‘n wit duif jou
na die groter stad van God terug
(Na aanleiding van Elsabé Brits se boek Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, 2016)
© Stephan du Toit, 2024
Baie dankie Jannie!
Ek hou baie van hierdie gedig, Stephan du Toit. Die losstaande woord of twee in enkele reëls is treffend en beklemtoon byvoorbeeld die kontras van “kinders” teenoor “kinderloos” waarmee een strofe eindig en ‘n volgende strofe begin. Tegnies wel oorwoë. Hierdie kontras word voortgesit in strofe 3, terwyl die woorde “britse apatie” sterk op mekaar wring. Ook die tydsaanduiding wat alle ruimte in beslag neem, trek aandag. “Emily Hobhouse” is ‘n gestroopte gedig (soos dit van ‘n gedig verwag kan word) met ‘n diep en pynlike geskiedenis. Ook ek het my ooit laat verlei deur die Vrouemonument en die obelisk wat die blou, Vrystaatse lug deurklief. Baie geluk!
Lieflike huldeblyk!