Reeds in Maartmaand was dit al bekend dat die Vlaming Tom Lanoye die prestigieuse prys van die Nederlandse Letterkunde vir sy oeuvre in Oktober sou ontvang. So gesê, so gedaan. Dit is ’n prys wat één keer in drie jaar toegeken word aan ’n skrywer wat ’n belangrike plek in die Nederlandstalige literatuur inneem en dit het ’n prysgeld van sestigduisend euro. Dit is Lanoye se derde oeuvreprys. Die eerste Prijs der Nederlandse Letterkunde is in 1956 toegeken aan die Belgiese digter, roman- en toneelskrywer Herman Teirlinck. Drie jaar later was die wenner die Nederlandse digter Adriaan-Roland Holst, iemand wat destyds bekender was onder Afrikaanse letterkundiges as Teirlinck. Hoekom is dit belangrik dat Afrikaans en die Afrikaanse Letterkunde van Tom Lanoye se prys kennisneem?
Dit is algemene kennis dat Lanoye beurtelings in Kaapstad en in Antwerpen woon. Minder bekend, maar selfs belangriker, is dat hy in 2019 agt Kanna’s by die KKNK ontvang het vir sy Franse bewerking van Shakespeare se tragedie Koning Lear. Hy verander die Engelse koning in ’n koningin genaamd Koningin Lear (briljant vertolk deur Antoinette Kellermann) en plaas dié familiedrama binne die internasionale finansiële wêreld en teen die agtergrond van ’n klimaatkrisis. Eietyds! Koningin Lear is in Afrikaans vertaal deur Antjie Krog, terwyl die regie gedoen is deur Marthinus Basson. Lanoye, Basson en Krog se samewerking vir Koningin Lear is aanlyn beskryf as “a match made in theater heaven”. Dit was hulle gesamentlike produksie vir die vyf-en-twingtigste bestaanjaar van die KKNK. In Outshoorn het hulle met Koningin Lear skoonskip gemaak onder die Kanna’s.
Ruim twintig jaar voor Koningin Lear, wat ook in Duits vertaal was vir KKNK én Aardklop, het Lanoye al opspraak gemaak as dramaturg. Sy Shakespeare-verwerkings van agt aaneenlopende toneelstukke het twaalf ure in uitvoering geduur. Hy ontvang tussen 1998 en 2004 nie minder as nege pryse daarvoor nie. Het Goddelijke Monster: Ten oorlog! Zwarte Tranen en Boze Tongen was in alle opsigte ’n monstertrilogie.
Nié Lanoye se bekroonde boek oor sy ma – Sprakeloos – het my besonder aangespreek nie, maar eerder sy roman Gelukkige slaven uit 2013. Hierdie roman word op die agterblad beskryf as die “literêre eweknie van Quentin Tarantino” en speel af in Krokodilspruit naby die Krugerwildtuin. Tony Hanssens (2) het homself verbind aan ’n neushoringjag vir die Chinese casinomagnaat meneer Bo Xiang. Sy naamgenoot, Tony Hanssens (1), bevind hom in Buenos Aires as die gigolo van die skatryk mevrou Bo Xiang, natuurlik die vrou van meneer Xiang! Die twee Tony’s met hulle gesamentlike Xiang-verbintenis is nie van mekaar se bestaan bewus nie. Hulle lewens kruis amper as die Suid-Afrikaanse polisieagent Khumalo by Tony (1) aanklop op soek na Tony (2) in ’n hotel in Guangzhou. Hoe die verhaal verder ontplooi, gee ek nie graag weg nie. ’n Afrikaanse vertaling van hierdie roman sal nogal gepas wees aangesien dat dit so ’n tipies Suid-Afrikaanse aktuele kwessie aanspreek. Koerante soos die NRC Handelsblad het Gelukkige slawe so beskryf: “een thriller (als) vermomde roman om van te smullen”, in die Volkskrant as “bedwelmend” en in De Standaard as “een woest-intelligent boek met internationale potentie”.
Lanoye is in 1958 in Sint-Niklaas gebore. Hy is ’n besonder veelsydige skrywer, en miskien vergelykbaar met Teirlinck. Lanoye debuteer in 1984 amptelik as digter met In de piste – ’n digbundel as ’n sirkusvoorstelling – en was van 2003 tot 2005 die stadsdigter van Antwerpen. In 2008 het hy en Krog as Kaapstadse bure sáám die suksesvolle literêre program Geletterde Mensen aangebied. Daarin het sy onder andere voorgelees uit haar bundels Kleur kom nooit alleen nie (2000) en Verweerskrif (2006) en Lanoye uit sy digbundel Hanestaart (1990) opgedra aan sy bedgenoot R, wat verwys na sy man René Los. Die tema van die Poësieweek 2019 in Vlaandere en Nederland was Vryheid. Daarvoor het Lanoye die geskenkbundel vir die Poësieweek geskryf: vrij – wij? nieuwe gedichten lanoye. Hy sluit die bundel af met die rymende gedigtitel l’envoye de lanoye. Hier volg die eerste deel van sy selfkritiek waarin ek myself ook nogal kan spieël.
Nageslacht
– zo u nog leest
en dit verzoekschrift
tot u neemt: Ik schoot in alles wat ik deed tekort, gemeten
wees streng. naar de sterrenhemel waarin ik mij verloor
nog voor ik hem tot dansparket kon temmen.
Ik had hem willen voelen aan mijn blote voeten
terwijl ik walste met de zon. Nog steeds vergis
ik mij in de aanraakbaarheid van élke horizon.
Als ik me haat, is het daarom: ik ken geen maat.
Altijd: te veel, te luid, te grof, te groot, te graag en nooit
genoeg. Een drietal zielen in één borst. De nar, de nerd
en een vertwijfelde die zijn verlossing zoekt in zwoegen.
Luister hier na die Belgiese radiouitsending van vtrmax waarin Lanoye verlede jaar op sy vyf-en-sestigste verjaarsdag ’n persoonlike serenade voorlees aan sy lewensmaat van die afgelope drie en ’n halwe dekade.
Tom Lanoye (Foto: Wikipedia)