Nuwejaarsgebed
Deur dié jaar het U ons gesien, o Vader,
waar ons party dae hoog na die bergtop
kon sweef waar die oorwinnaars vergader;
maar soms, in klowe, digbegroei, moes stop,
beur en beangs langs kranse sou huiwer.
U het ons gedra, soos die planete in
hul baan het U ons pad gerig, U suiwer
ons in die smeltkroes van U liefde, te min
was ons geloof in dae van pyn, U
oortrek wit beendere met sening en spier,
‘n hart word sag deur U bloed wat daarin stu,
laste verskroei voor U aangesig van Vuur.
Mag ons in die nuwe jaar genadig wees,
soos U, vir ons vyande bid deur U Gees.
© Stephan du Toit, 2024