Dit is 29 Desember 2024 – en die Amerikaanse vlag hang halfmas. President Jimmy Carter, die 39ste president van die VSA, is op 100-jarige ouderdom oorlede.
Carter was nie net ’n wêreldleier en humanis nie, maar ook ’n skrywer en digter wat ’n omvangryke oeuvre nagelaat het. Meer as dertig publikasies het uit sy pen verskyn, insluitend memoirs, besinnings oor geloof, poësie, jeugverhale en fiksie.
James Earl (Jimmy) Carter is op 1 Oktober 1924 in Plains, Georgia in die VSA gebore. Sy ouers het ’n grondboontjieplaas en -pakhuis besit en Carter het as jong seun reeds geleer om fisies hard te werk – ’n eienskap wat hy vir dekades lank gebruik het deur self, met sy hande, huise vir armes te bou. Carter het sy skoolonderrig in Plains ontvang. As skoolseun reeds het hy grondboontjies verkoop, geld gespaar, en op dertienjarige ouderdom vyf huise gekoop wat hy verhuur het.
In 1942 het hy in Annapolis by die Vlootakademie met sy militêre opleiding begin. Hy het ook aan die Georgia-Instituut van Tegnologie begin studeer voor hy by die vloot aangesluit het en in 1946 ’n BSc-graad verwerf; dieselfde jaar wat hy sy suster se beste vriendin, Rosalynn Smith, ontmoet en met haar getrou het. Daar is vier kinders uit die huwelik gebore; en die egpaar was 77 jaar getroud, voor Rosalynn verlede jaar op die ouderdom van 96 oorlede is. Die Carters was geesgenote en Rosalynn het haar eggenoot in alles bygestaan.
Carter was vir langer as ses jaar werksaam as ’n vlootoffisier in die Amerikaanse Vloot en is gekies as een van die offisiere om onder leiding van kaptein Hyman Rickover deel van ’n kernduikbootprogram te word.
In 1962 het Carter hom as Senator van die deelstaat Georgia verkiesbaar gestel, en in 1970 is hy verkies as Goewerneur van Georgia. In 1974 het sy politieke loopbaan momentum gekry toe hy aangekondig het dat hy hom as ’n presidentskandidaat in die volgende verkiesing beskikbaar sou stel – net om twee jaar later met 297 stemme teenoor Gerald Ford se 241 stemme te seëvier. Carter se presidensie van een ampstermyn (1977-1981) het tot ’n einde gekom toe hy in 1980 die verkiesing teen die Republikeinse presidensiële kandidaat, Ronald Reagan verloor het, wat hom effektief opgevolg het as die volgende president van die VSA.
Carter se ampstermyn is gekenmerk deur sowel hoogtepunte as uitdagings. Een van sy grootste prestasies was sy volgehoue toewyding aan menseregte soos die Camp David-ooreenkoms van 1978, waarin hy vrede tussen Israel en Egipte bemiddel het. Die Carter-administrasie het ook die Panama-kanaal-verdrag gesluit, wat die kanaal aan Panama teruggegee het en ’n vreedsame verhouding met Latyns-Amerika bevorder het. Aan die ander kant was Carter se termyn gekenmerk deur ekonomiese probleme soos hoë inflasie (“stagflasie”) en werkloosheid. Sy hantering van die Iranse gyselaarskrisis, waarin 52 Amerikaanse diplomate vir 444 dae aangehou is, het sy gewildheid en geloofwaardigheid as wêreldleier geskaad en sy herverkiesing gekelder. Alhoewel Carter heelwat kritiek as president ontvang het, is dit sy volgehoue bemoeienis en post-presidensiële werk as humanitêre vredemaker wat sy reputasie herstel het. Dit sou ’n fout wees om Carter bloot op sy ampstermyn as president te beoordeel; ’n mens moet deur ’n holistiese bril na dié sonderlinge gemeenskapsdienaar kyk. Die Carter-sentrum het male sonder tal opgetree as bemiddelaar in internasionale konflik, toesig gehou oor demokratiese verkiesings in verskeie lande, en hulle beywer om siektes soos die Guinea-wurm te beveg. Carter het in 2002 die Nobelprys vir Vrede ontvang vir sy buitengewone werk om internasionale konflik vreedsaam op te los, menseregte te bevorder, en sosiale en ekonomiese geregtigheid te bevorder.
Jimmy Carter is op 29 Desember 2024 in sy geboortestad Plains, Georgia, op 100-jarige ouderdom oorlede. Hy het kort voor sy afsterwe die wens uitgespreek om vir die Demokraties verkose presidensiële kandidaat, Kamala Harris te stem; en sy wens is vervul. Ongelukkig moes Carter, wat ’n groot kampvegter vir demokrasie was, die Demokrate se neerlaag met Donald Trump as die verkose president op sy brose ouderdom verwerk.
Maar terug na Jimmy Carter se literêre prestasies. Sy memoir, An Hour Before Daylight was op die kortlys vir die Pulitzer-prys (2002), terwyl sy 2006-blitsverkoper, Palestine: Peace Not Apartheid robuuste debat ontlok het omdat hy die Israelies-Palestynse konflik met Suid-Afrika se eertydse apartheidsisteem vergelyk het. Laasgenoemde tersyde gestel; die Dayton Literary Peace Prize Foundation het vir Carter skuins voor sy honderste verjaardag vereer vir sy lewenslange literêre bydrae…. “for how he wielded ‘the power of the written word to foster peace, social justice, and global understanding.’”
Memoirs, soos An Hour Before Daylight wat deur belangrike politieke figure geskryf is, dien as onskatbare historiese dokumente wat ’n seldsame blik bied op die persoonlike motiewe ágter sleutelgebeurtenisse in die geskiedenis. Deur ’n persoonlike vertelling, vermeng met ’n politieke narratief, word lesers in staat gestel om die geskiedenis deur die lens van dié wat dit gevorm het, te bekyk. Hierdie memoirs bied ’n rare – en intieme – binneblik op die komplekse emosies, dilemmas en etiese kwellinge wat leiersfigure ervaar. Uiteindelik word hierdie boeke deel van die openbare geheue en nalatenskap van nie net ’n volk nie, maar ook van die wêreld. Carter se memoirs is belangrik, om al die voorgaande redes.
Jimmy Carter het ook sy hand aan poësie gewaag. Sy bundel, Always a Reckoning and Other Poems (1994) bied insig in sy persoonlike ervarings en waardes, die natuur, en sy empatie met die menslike kondisie. Carter se liefde vir poësie het vroeg in sy lewe ontstaan. In ’n artikel deur die Library of Congress word vermeld dat sy onderwyseres, Julia Coleman, ’n groot invloed op hom gehad het deur hom aan te moedig om gedigte te memoriseer en self te skryf. Hierdie vroeë blootstelling het ’n blywende indruk op hom gemaak en sy waardering vir letterkunde in geheel geprikkel.
Always a Reckoning bevat 44 gedigte wat temas soos Carter se kinderjare, familie en die politieke landskap verken. Die digter maak graag gebruik van bybelse metafore en simbole om digterlike betekenis te gegeneer. Volgens ’n persverklaring van die Carter-sentrum bied die bundel ’n rare en intieme blik op Carter se lewe en gedagtes.
Die resepsie van Always a Reckoning was oor die algemeen gunstig, met kritici wat lof gehad het vir Carter se eerlike en toeganklike styl….Maar watter kritikus gaan vir die magtigste man in die Vrye Weste ’n swak resensie gee? In ’n onderhoud met die Los Angeles Daily News het Carter erken dat hy, met die hulp van digters soos Miller Williams en James Whitehead, sy poëtiese vaardighede geslyp het. Hier volg ’n voorbeeld van ’n Carter-gedig:
Considering the void
When I behold the charm
of evening skies, their lulling endurance;
the patterns of stars with names
of bears and dogs, a swan, a virgin;
other planets that the Voyager showed
were like and so unlike our own,
with all their diverse moons,
bright discs, weird rings, and cratered faces;
comets with their streaming tails
bent by pressure from our sun;
the skyscape of our Milky Way
holding in its shimmering disc
an infinity of suns
(or say a thousand billion);
knowing there are holes of darkness
gulping mass and even light,
knowing that this galaxy of ours
is one of multitudes
in what we call the heavens,
it troubles me. It troubles me.
Uit: Always a Reckoning and Other Poems (1994)
Klik gerus op dié skakel om na Carter se voordrag van sy gedig te luister: https://www.youtube.com/watch?v=K1dAelI1ccU
Jimmy Carter het tydens onderhoude genoem dat die ritmes en nuanses van musiek, waarvoor hy so lief was, neerslag gevind het in die skryf van sy poësie. Die president was ’n veelkantige karakter en ook bekend as die “rock ’n roll”- president. As seun, wat opgegroei het in Georgia op ’n grondboontjieplaas, was sy aanvanklike liefde country- en gospel musiek; maar dit was die opbloei van rock ’n roll in die sestigerjare wat tot Carter gespreek het.
As president het hy nie ’n geheim gemaak van sy musieksmaak nie – alhoewel konserwatiewes rock ’n roll as kontradiktories tot Carter se geloof beskou het. Hy was ’n toegewyde Christen wat vir dekades lank Sondagskoollesse gegee het. Rock-musikante is dikwels oorgenooi na die Withuis, waar hulle selfs konsert gehou het. Carter se musikantvriende sluit in bekendes soos Bob Dylan, Willie Nelson, Paul Simon, Gregg Allman en Bono. En dan is daar natuurlik die gerugte dat Willie Nelson dagga op die Withuis se dak gerook het…
Die huwelik tussen poësie en musieklirieke is welbekend. En dit is die gemene deler wat Carter geprikkel het: die metrum en ritme van lirieke en poësie, en ’n voorliefde vir die presiese digterlike woord. Veral Bob Dylan se musiek het gereeld in die Amerikaanse Sanhedrin, die Withuis, weerklink. Carter het heelparty van Dylan se lirieke gememoriseer, en dit verbaas ook nie, want Dylan het in 2016 die Nobelprys vir Letterkunde vir sy oeuvre liriekkuns ontvang. Carter was die eerste president wat pertinent rockmusiek gemobiliseer het as politieke voertuig; en wéér eens is dit nie vreemd nie, want musiekgroepe in die sestigs het reeds kritiek gelewer op maatskaplike kwessies soos die Viëtnam-oorlog – ’n mens dink byvoorbeeld aan die The Beatles, of The Rolling Stones se lied, “Paint it Black”. In die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2023 het Beyoncé en Taylor Swift met hulle musiek hul invloed oor veral jonger generasie kiesers laat geld – en miljoene potensiële volgelinge vir die Harris-verkiesingsveldtog probeer lok. Bruce Springsteen, op sy beurt, is al ’n geruime tyd ’n instelling as rock-eksponent van die Demokratiese Party. Jimmy Carter se vriendskap met Dylan het, interessant genoeg, óók gesentreer rondom hulle wedersydse en gedeelde beskouings van hulle Christelike geloof. Die krag en invloed van lirieke, as aanvanklike impetus vir politieke meningsvorming, het na alle waarskynlikheid by die Carter-administrasie begin.
In ’n tydperk waar daar ’n groot ouderdomsgaping tussen politici en die jonger generasie was, het Carter se liefde vir rock ’n roll hom gehelp om ’n brug tussen generasies te bou. Die rockmusiek van die 1960’s en 1970’s was dikwels geassosieer met boodskappe van hoop, verandering en sosiale geregtigheid.
Alle Amerikaanse presidente skryf memoirs – maar Carter was van al dié leiers by verre die mees produktiewe skrywer, en ook die enigste digter. En dit is is hoe sy oeuvre benader moet word: as ’n verlengstuk van ’n humanitêre wêreldleier wat diensbaarheid, hoop en verdraagsaamheid propageer; eienskappe kenmerkend van die Übermensch wat hy was. Carter se staatsbegrafnis vind op 9 Januarie plaas; ’n dag wat Joe Biden as Nasionale Roudag verklaar het.
Verwysings:
Jimmy Carter – Rock & Roll President (2020). CNN films. https://www.dailymotion.com/video/x8jvvv6 (5 Januarie 2025 besoek)
Remembering Jimmy Carter: The life and legacy of the 39th President. First Coast News. https://www.youtube.com/watch?v=pa0Zx6B8ryE (6 Januarie 2025 besoek).
Alter, J. 2020. His Very Best: Jimmy Carter, a Life. New York: Simon & Schuster.
Carter, J. 1994. Always a Reckoning and Other Poems. New York: Crown Archetype.
Baie dankie vir al hierdie inligting. Heerlik gelees! Was nie bewus van Carter se literêre aamleg nie
Dankie Nini, ek het geniet om hierdie te lees! Dis ‘n jammerte dat President Trump net na sy dood uitlatings moes maak dat dit verkeerd van Carter was om die Panama-kanaal weg te gee en dat die VSA dit nou eerder moet terugvat. Helaas, dalk net aandagsoekery of andersins ‘n aktiewe poging om te skok en die aandag te verplaas van wat regtig in die wêreld aan die gang is.