
Pas na die verskyning van Marthé McLoud se debuutbundel, Ontbloot (Turksvy Publikasies), gesels sy met Nini Bennett-Moll oor dié bundel.
Nini Bennett-Moll (NB-M):
Marthé, baie geluk met jou debuutbundel, Ontbloot. Jy het jou digtersontwikkeling met sorg, en oor tyd benader en insgelyks het die literêre landskap uitgesien na dié langverwagte debuut. Lesers is nuuskierig: Vertel ons meer van Marthé, die mens en haar agtergrond – waar kom jou liefde vir poësie vandaan?
Marthé McLoud (MM):
Dankie Nini. Ek is op Stellenbosch gebore en het daar skoolgegaan tot st 8 (Gr 10). In st 9 (Gr 11) en matriek was ek in die koshuis in Paarl Gimnasium. Dit was my behoort-plek en ek het daar gefloreer. Dit was twee van die gelukkigste jare in my lewe.
Ek het my bekwaam as maatskaplike werker. Op ’n stadium toe my kinders nog in die laerskool was, het ek vir ’n aantal jare ophou werk en met ’n privaat naskool begin wat ek vir 7 jaar bedryf het. Ek het later verveeld begin raak en soggens ontvangs vir ’n hipnoterapeut gedoen voor die naskool die middag begin het.
Sy het ruikers en persente van pasiënte ontvang wat haar bedank het dat sy hulle lewens met hipnose verander het. Ek het haar oor die hipnose uitgevra en sy het aangebied om dit vir my gratis te doen sodat ek dit aan nuwe pasiënte kon verduidelik.
Ek het een oggend wakker geword en skielik het gedigte net in my kop ingestroom. Voor dit het ek dikwels digbundels gelees, maar nooit self gedigte geskryf nie. Toe ek dit vir haar noem, het sy gemeld dat dit nie vreemd is nie, want baie keer is daar kreatiewe gene wat dormant is omdat die persoon al sy/haar energie moet gebruik vir oorlewing. Sodra die trauma verwerk word en verminder, kom die dormante kreatiewe gene na vore soos ’n radio wat al hoe harder gedraai word.

Marthé McLoud
NB-M:
Op die agterflap verneem die leser Ontbloot is ’n memoir-digbundel, wat handel oor persoonlike, familie- en gesinsverwante ervarings wat ook relevant is op universele vlak. Die bundel ontvou soos ’n kroniek, met ’n outobiografiese opgaaf van herinneringe en memento’s wat strek van jou geboorte tot in die hede. Die bundel as geheel het tematies ’n narratiewe onderbou. Waarom het jy op hierdie tematiek (memoir-gedigte) besluit? Die titel reeds suggereer ’n blootleggings- of stropingsproses van die self. Vertel ons asseblief meer.
MM:
Ek het van die ouderdom 12-18 jaar daagliks dagboek geskryf. Dit het hoofsaaklik snags tussen 2-3 vm gebeur wanneer ek wakker geskrik het en nie kon slaap nie. Op daardie stadium het ek al aan onbehandelde depressie gely.
Ek het altyd vir myself gesê ek gaan eendag ’n boek oor my lewe skryf. Die gedagte aan ’n memoir was dus altyd daar, maar ek het nooit gedink dit sou in die vorm van ’n digbundel wees nie.
NB-M:
Van die gedigte het ’n somber of onheilspellende ondertoon, en herinner plek-plek aan die werk van Alfred Schaffer: die skielike, of abrupte ‘stolling’ – of ontbloting – aan die einde van die gedigte. Die jeugherinneringe is kennelik die waarneming van ’n uiters sensitiewe kind. Die onthutsende gedigte verleen ’n boeiende kwaliteit aan die bundel as geheel: ek het Ontbloot in een sitting deurgelees. Van al die honderde memoirs, waaruit ’n digter potensieel kan kies, het jy oorwegend gefokus op komplekse, selfs pynlike herinneringe. Is die skryf van poësie vir jou ’n terapeutiese proses? Vertel asseblief meer.
MM:
Ja, jy is reg. Ek het ’n uiters sensitiewe persoonlikheid en ook ’n buitengewone goeie geheue. Gedigte het net in my kop begin instroom op 46 jaar en uit die aard van die saak het dit gefokus op die tema’s wat in die hipnoterapie aangespreek is.
Een van de tema’s waarop gefokus was, is die Walking Zombie syndrome. In “Onsigbaar” verwys ek daarna. Dit is ’n term wat veral in mediese hipnose gebruik word. ”One of the biggest contributions that medical hypnoanalysis offers to the therapeutic community is the so-called Walking Zombie Syndrome described as a condition in which depression and withdrawal cause individuals to unconsciously believe that they are dead.” Jy gaan deur die lewe sonder enige lewenslus of -vreugde en met ’n konstante “dooie” gevoel in jou. Die skryf van die gedigte was definitief vir my ’n terapeutiese proses, en pynlik. Tog kon ek afstand kry en myself en gebeure objektief beskou, want die digbundel is oor ’n tydperk van 10 jaar geskryf en afgewerk.
NB-M:
Aansluitend tot die vorige vraag: donker familiegeheime en die rol tussen ouer en kind kom dikwels voor in die bundel. Die latere gedigte, wat handel oor die digter as maatskaplike werker, resoneer met die jeugtematiek; die volwasse spreker se kommer oor, en deernis met kinders. Bykans alle gedigte handel oor weerlose mense, vasgevang in komplekse situasies. Het jou loopbaan as maatskaplike werker gedien as inspirasie vir jou werk? Vertel gerus meer.
MM:
Ja, beslis. Daar is verskillende rigtings in maatskaplike werk, maar ek het al die jare met kinderbeskerming gewerk. Weerlose uitgelewerde getraumatiseerde kinders lê my baie na aan die hart. In die bundel is daar ’n handvol gedigte wat ek hieroor geskryf het.
NB-M:
Die liefdesgedigte in Ontbloot is besonder aangrypend, byvoorbeeld die rol wat jou man, Willie, in jou lewe speel. In die onderstaande gedig parodieer jy ’n teksvers uit ’n Hooglied op treffende wyse: “Die aandwind laat die skadu’s vlug”. Vertel ons asseblief meer van Willie, sy invloed op jou digkuns, ensomeer.
Tot die dood ons skei (2022)
vir Willie
Ons gly soos naaldekokers oor die water
verby Monet se breëblaarwaterlelie-skildery
aan weerskante van ons.
Die aandwind laat die skadu’s vlug,
ons lig ritmies die roeispane van ons kano
en steek gate in die stil rivier:
Sloep, slap, sloes, sloep, slap, sloes.
Die water glim ’n geriffelde sinkplaat
in die maanlig voor ons uit.
Vyf-en-dertig jaar roei ons al so saam
oor die deinings van die jeug
en deur stroomverstellings,
voorwaarts,
tot ons velle waterrimpels raak
en die maan se strale
soos silwervisse in ons hare blink.
MM:
Willie is my rots en baie standvastig. Hy is ’n fisikus en ’n skrywer. Gelukkig stel hy baie belang in my gedigte en luister graag daarna. Dit help as jy ’n klankbord in jou huis het.
NB-M:
Jou gedigte is fyn afgewerk en getuig van vakmanskap; jou gedigte is ook besonder sober en diafaan. Hoe benader jy die digproses? Hoe ‘gebeur’ ’n gedig? Skryf jy byvoorbeeld vinnig ’n vers klaar, of keer jy op analitiese wyse terug na jou werk en herskryf jy die gedigte? Wat is jou raad aan aspirant-digters?
MM:
Die aanvanklike gedigte wat in my kop in gestroom het, was baie rymelary, maar ’n begin. Ek het in Rapport gesien dat daar ’n hele blad vol Vonkfiksie was (100-woorde stories). Ek het gedink ek kan dit ook doen. So het verskeie van my stories in Rapport verskyn. Iemand sê toe vir my as jy vonkfiksie kan skryf, kan jy ook gedigte skryf, want dit gaan alles oor woordekonomie.
Ek het ’n kort digkursus gedoen wat as basis gedien het en daarna baie selfstudie gedoen soos om resensies te lees op literêre blaaie en akademiese artikels, of MA-verhandelinge oor digters en hulle werk om te sien wat ek moet doen en wat om te vermy.
Die meeste van my gedigte gebeur spontaan. Dit kom na my as ek wakker word, gaan slap, of op die promenade loop. Ek tik die gedig op die rekenaar en skuur en skaaf daaraan oor ’n tydperk. Soms is ek gelukkig en is die gedig feitlik reg met ontvangs.
Wenke vir aspirant-digters: Lees baie sodat jy van intertekstualiteit in jou gedigte gebruik kan maak. Moenie net emosies uitstort op papier nie. Doen “showing” met metafore/beelde en vergelykings i.p.v. “telling”. As jy ’n vrye vers skryf, vermy eindrym. Maak gebruik van binnerym en assonansie, konsonansie en alliterasie vir klank en binding.
NB-M:
Wat lees jy? Wie is jou gunsteling skrywers en digters?
MM:
Ek lees baie, want ek behoort aan ’n leeskring en moet dus elke maand ’n boek deurlees. Tans lees ek John Boyne se boeke. Ek hou ook baie van Kazuo Ishiguro se werk, sowel as SJ Naude s’n. Wat gedigte betref, hou ek van Kobus Lombard se gestroopte verse en Danie Marais se narratiewe gedigte. Leonard Nolens se ’n Digter in Antwerpen, vertaal deur Daniel Hugo, is my gunsteling. Ek het dit al verskeie kere deurgelees en elke keer is dit vir my nuut.
NB-M:
Gee asseblief ’n voorbeeld van ’n gedig in Ontbloot wat jóú persoonlik na aan die hart lê, en vertel waarom.
MM:
My skoolvriendin het ’n senuwee-ineenstorting in matriek gehad. Na matriek het ons kontak verloor, en tot vandag toe nog kan ek haar nêrens opgespoor nie. Ek wonder baie dae wat het van haar geword en hoe het haar lewe verder geloop.
Senuwee-ineenstorting (1981)
(vir my vriendin M)
Daar was ’n aand
jare gelede in Portugal
in ’n seekosrestaurant,
toe ’n krap op ’n plank
as voorgereg voorgesit
is saam met ’n klein
houthamertjie om
die eksoskelet
in stukkies te kap –
toe ek haar weer onthou.
Matriek. By die skool
in die siekekamer
sit ek langs haar bed.
Die kleine krap
met die harde dop
altyd besig om skuins
te skarrel weg van uitpraat.
Nou lê sy hier bleek
haar oë krake
waaruit soutwater syfer.
Dankie vir ‘n prikkelende onderhoud, Nini.
