Kannaland
Dié mensliefland
noem ons Kannaland
in ons huisies wit
nederig klein
het die lamp nog pit
en gesels nog grein
maar jy weet met ’n lekkerte
soos bruilofswyn
snags brand die sterre
en bedags die aalwyn
want oor Kannaland
oor Kannaland
ontplof kandelare klokkiesblom
in rooi kartetse van die son
Ja, dié mensliefland
noem ons Kannaland
Die son se onthou
in rosyn en olyf
keep rimpelgetrou
oor elke werkerslyf
Dis ’n land van was
van is, van sal wees
dis nie die kammaland
van ’n dromersgees
Al kry ons net
’n wydsbeentjiereën
baljaar ons baldadig
oor die Here se seën
Ja, dié mensliefland
noem ons Kannaland
in ons huisies wit
nederig klein
het die lamp nog pit
en gesels nog grein
Pieter Fourie
2 Augustus 1994