Zandra Bezuidenhout (née Bauermeister) is op 15 Junie 1945 in die Strand, Wes-Kaap, gebore, waar sy ook haar kinder- en jeugjare deurbring. Sy is ’n leerder aan die Laerskool Hendrik Louw wanneer haar eerste gediggie, “O skone lente!”, in Die Jongspan verskyn. In 1962 matrikuleer sy aan die Hoërskool Hottentots-Holland, waarna sy in 1965 ’n B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch behaal. In haar finale jaar was sy lid van prof. DJ Opperman se letterkunde-laboratorium. Ná die verwerwing van ’n Hoër Onderwysdiploma aan UNISA in 1978 gee sy etlike jare onderwys, maar word uiteindelik ’n vryskut-taalpraktisyn.
Bezuidenhout sit later haar letterkundestudies in Afrikaans-Nederlands aan die US voort en behaal in 1993 die honneursgraad cum laude. Daarna voltooi sy in 1995 die Nederlandse komponent van haar magistergraad aan die Rijksuniversiteit van Leiden. Die studie word aan die US onder leiding van prof. Lina Spies aangevul met ’n skripsie oor die laatwerk van Elisabeth Eybers. In 1995 verwerf sy die MA-graad cum laude.
Ter voorbereiding van haar doktorale proefskrif bring sy twee navorsingsperiodes in Nederland deur. Met ’n sosio-literêre studie oor die eietydse poësie van vroue in die Afrikaanse, Vlaamse en Nederlandse taalgebiede verwerf sy in 2006 die DLitt-graad aan die US, met prof. Dorothea van Zyl as promotor. Tydens haar nagraadse studiejare werk sy as tutor en assistent aan die US se departement Afrikaans en Nederlands, en as navorsingsassistent en vertaler aan die fakulteit Opvoedkunde.
Sedert sy in 1994 ernstig begin dig het, word haar werk in letterkundige vakjoernale en op poësie-webwerwe gepubliseer. In 2000 debuteer sy met ’n solo-digbundel getiteld dansmusieke (Suider Kollege Uitgewers), waarmee sy in 2001 die Ingrid Jonkerprys verower. ’n Tweede bundel, Aardling, verskyn in 2006 by Protea Boekhuis, gevolg deur Derde gety, in 2021 uitgegee deur Human & Rousseau. Verskeie van haar gedigte word in Groot Verseboek (Tafelberg, 2000, 2008) en ander versamelbundels opgeneem, terwyl Engelse vertalings van haar verse in bykomstige publikasies verskyn.
Ondertussen publiseer sy literêre kortverhale, artikels en resensies, en word sy ’n medewerker aan die destydse rubriek “Taalskatkis” in Die Burger. As intravertaler was sy betrokke by die Afrikaanse Bybelvertaling van 2020, waarvoor die boeke Spreuke en Judas aan haar toegewys is. Hoewel sy ook algemene Engelse publikasies in Afrikaans vertaal, is sy merendeels verantwoordelik vir die Afrikaanse vertaling van Nederlandse romans, poësie, niefiksie en kinderliteratuur. Hiervoor is ’n werksverblyf in die Amsterdamse en Antwerpse vertalershuise verskeie kere aan haar toegeken. Sy is ook die samesteller en vertaler van ’n tweetalige bloemlesing getiteld Arsenaal van klank met gedigte van die Nederlandse digter Anna Enquist (Protea Boekhuis, 2006). Sy dra ’n hoofstuk oor hierdie digter by in Verbintenis en venster: die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede, Deel 2 (Van Coller et al., 2019. Van Schaik).
Bezuidenhout tree plaaslik en in die Lae lande op by kunstefeeste en ander literêre geleenthede, en neem deel aan vertalerslypskole. Sy keur en redigeer poësiemanuskripte vir uitgewers, maar sit ondertussen haar vertaalwerk voort. Sy is getroud met Gert Bezuidenhout en die egpaar het drie volwasse kinders.
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.]