Linda Hutcheon in A Theory of Parody maak ons attent op die sogenaamde “double voice” van die parodie. Dit transformeer altyd die oorspronklike teks waarmee dit in gesprek tree soos in die skilderye van Francis Bacon waar Velázquez se Pous Innocentius X se mag gedekonstrueer word. Die troon, skryf sy, word soos ‘n bed-kou. Outoriteit word nou “restriction and terror” (1985: 62).
Study after Velazquez’s portrait of Pope Innocent X, 1953 – Francis Bacon – WikiArt.org Besoek 2 Februarie 2025
Die digter Johann de Lange het verskeie ekfrastiese verse geskryf en veral Francis Bacon word goed deur hom beskou.
Studie van ‘n portret van ‘n man
optelgedig oor die skildery van Francis Bacon
Die streepsuikerkleure van die man
slaan teen die oog:
‘n pimpel en pers en groen
en blou kadawer!
Kyk hy deur ‘n ruit: die raam
waardeur ons kyk?
Sy gesig, sy hempskraag: wit
wat breuk in baie kleure,
wit wenkbroue en donker hare.
Die vuis teen sy kop ontketen
‘n donkerte. Die oog glip
uit soos ‘n lens.
‘n Swart das is om sy nek geknoop.
Die verf is weefseldik.
Sy nerf word afgestroop:
plek-plek dun,
en plek-plek dik opgestoot.
Die inkarnaatkleur van bederfde vlees,
die sfumato-afdruk van ‘n vuis
op die vol lippe: sagte lyne
voor ‘n harde geweld.
So is daar in 2013 oor hierdie kwessie geskryf wat nou herbesoek word:
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=francis+bacon Besoek 2 Februarie 2025
Hierdie gedig uit Snel grys fantoom is gebaseer op Francis Bacon se bekende skildery. ‘n Belangrike kodewoord in die teks is die begrip sfumato, ‘n skilderstyl wat as ‘rokerig’ beskryf kan word (van die Italiaans fumo vir rook) waarmee die skilder kleure met groot subtiliteit laat mengel sonder skerp vlakke, of van lig na donker om die illusie van diepte te skep. Hier word die tegniek ironies beskou as ‘n vorm van geweld, word die kleure van die “vol lippe” onderwerp aan “die sfumato-afdruk van ‘n vuis”. (Sfumato – Wikipedia, the free encyclopedia. Afgetrek op 20 Julie 2013.)
Francis Bacon (1909 – 1929) se skilderkuns word gekenmerk deur ‘n aggressiewe aanslag. Deur “pimpel en pers” te gebruik aktiveer De Lange die gewelddadigheid van hierdie aanslag wat eweneens bekend is aan die werk van sy tydgenoot Lucian Freud. Die verf is “weefseldik” en hiermee word die idee van kuns as “mooi” gedekonstrueer. Alles staan in die teken van aftakeling, van bederf: paradoksaal eindig die gedig met die stelling van “sagte lyne /voor ‘n harde geweld”.
Francis Bacon se werk word sterk geïnspireer deur abjeksie. Sy kuns is sterk geïnspireer deur die selfmoord van sy geliefde George Dyer – hierna het sy werk introspektief en geobsedeerd geraak. Hy het ook dikwels sy eie skilderye verwoes. Dit is eweneens bekend dat Bacon tandheelkundige handleidings bestudeer het oor mondsiektes om in besonderheid te kon skilder. Hy het eweneens gereeld na Sergei Eisenstein se rolprent The Battleship Potemkim (1925) gekyk en meer spesifiek “Die skreeu”. Hierdie vinjet word as ‘n katalisator vir sy werk beskou en die kunskritikus en kenner van Bacon se werk, Michael Peppiatt, het opgemerk:
“it would be no exaggeration to say that, if one could really explain the origins and implications of this scream, one would be far closer to understanding the whole art of Francis Bacon.” (Francis Bacon (artist) – Wikipedia, the free encyclopedia)
“Another thing that made me think about the human cry was a book I bought when I was very young from a bookshop in Paris, a second-hand book with beautiful hand-coloured plates of diseases of the mouth, beautiful plates of the mouth open and of the examination of the inside of the mouth; and they fascinated me, and I was obsessed by them. And then I saw – or perhaps I even knew by then – the Potemkin film, and I attempted to use the Potemkin still as a basis on which I could also use these marvelous illustrations of the human mouth. It never worked out though.” — in ‘n onderhoud Mei 1966 opgeneem in David Sylvester se onderhoude met die kunstenaar. (Great interviews of the 20th century/ Francis Bacon interviewed by David Sylvester in 1963,1966 and 1979. Afgetrek 17 Julie 2013)
“One very personal recurrent configuration in your work is the interlocking of crucifixion imagery with that of the butcher’s shop. The connection with meat must mean a great deal to you.
Well, it does. If you go to some of those great stores, where you just go through those great halls of death, you can see meat and fish and birds and everything else all lying dead there. And, of course, one has got to remember as a painter that there is this great beauty of the colour of meat.
And what were your feelings towards him?
Well, I disliked him, but I was sexually attracted to him when I was young. When I first sensed it, I hardly knew it was sexual. It was only later, through the grooms and the people in the stables I had affairs with, that I realised that it was a sexual thing towards my father.”
Bacon se werk word beskou as grotesk en ‘n verheerliking van die nagmerrie-agtige. Ook die homo-erotiese aspek is bekend soos sy vriendskappe met Lucian Freud en John Deakin. In 1971 het sy geliefde, George Dyer selfmoord gepleeg en die invloed van hierdie tragedie kan afgelees word in sy donker, uitsiglose kuns waar mense vasgevang sit in ‘n glashokke.
In die gedig “Studie van ‘n portret van ‘n man” – met die sub-titel optelgedig – word die kleurrykheid van die Bacon-skildery beklemtoon. Die gedig is ingegee deur ‘n berig in Beeld oor die opveiling van die betrokke skildery vir ‘n enorme bedrag & ‘n foto van die skildery is by die berig afgedruk. Ook die gewelddadigheid (“pimpel en pers” aktiveer dit). Dan word die fokalisasie in die gedig geproblematiseer: wie kyk na wie? Hiermee word die selfportret-aspek van die gedig na vore gebring. Dit is asof die skilder na homself in ‘n verwronge spieël kyk. Die gewelddadigheid van sy lewe, die somberheid (waarskynlik ingegee deur die selfmoord van die geliefde) word die fokuspunt:
Die vuis teen sy kop ontketen
‘n donkerte.
Dit is hier asof die skildery die self-mutilasie van so ‘n portret wil beskryf en die self-walging van die “bederfde vlees”. Hierom eindig die gedig in die paradoks:
sagte lyne
voor ‘n harde geweld.
Sowel die skilder- en skryfdaad word ingegee deur wetes van self-haat, -ondersoek en ‘n beskrywing van konflikterende emosies.
Die gedig plaas ten slotte Francis Bacon – nes die leser – in ‘n hok!
Oog / lens / ruit
Die gedig aktiveer ook fokalisasie en die verwysing na sfumato – die tegniek om diepte voor te stel – bring ons by die tegelykertydaspek van die gedig. In die reeds genoemde onderhoud bely Bacan sy bewondering vir Velázquez. Kritici soek altyd na verbande met die religieuse aspekte en die simboliek van die kruisiging wat in Bacon se werk gevind word, maar Bacon volstaan met die siening dat hy die skildery oor Pous Innocentius X volmaak vind.
Soos Bacon Velázquez transporteer en herinterpreteer, doen De Lange dieselfde in sy gedig. Die werklikheid word verander in sowel ‘n skildery as ‘n gedig. Die digter doen taal geweld aan deur ‘n gedig te skryf; die skilder doen presies dieselfde: hierom die gebruik van soveel geweld-beelde in die gedig. Bacon se vader het hom letterlik aangerand; De Lange verwerk die psigiese geweld van sy vader se voortydige dood.
Die kunswerk is dan die ruimte van selfgelding, maar ook selfverwonding. Die skilderye van Bacon verraai immers uiters psigiese geweld en woede. By Bacon is daar eweneens ‘n belangstelling en fassinasie met die abjekte.
Mary Ann Caws skryf in The Eye in the Text. Essays on Perception, Mannerist to Modern verwys tereg na Derrida se konsep brisure, otewel, die sogenaamde “crossing over”, die spel tussen buite en binne (1981, 15).
Sy praat ook van “threshold imagery” oftewel liminaliteit: “border, hinge, articulation” en die mise-en-abyme wat De Lange se gedig aktiveer.
Liminaliteit is sterk gekoppel aan oorgange en in Caws se studie word daar gefokus op die “place-for-passing-through”.
Bacon het foto’s gebruik om te skilder. Die digter kyk na afdrukke of skilderye om sý teks te skep.
Oog – lens – ruit in die ewige transportasie van een kunswerk (Velázquez / Bacon / De Lange) na ‘n herinterpretasie deur sowel skilder as digter. Met die leser wat hierdie verskillende oorgange moet meemaak.
francis bacon *
ver & buite bakens lê venyn
die sny van paletmes deur skyn,
deur gekneusde vlees tot op die been –
asof verf kon verhoed dat een,
dat hý leegbloei op porselein
* Johann de Lange – versend per e-pos na my Julie 2013
Die digter maak my ook attent op die gebruik van Francis Bacon-skilderye in Bertolucci se Last tango in Paris (1972) (Magritte, Bacon & Bertolucci/ Last Tango in Paris. Afgetrek 21 Julie 2013.)
In hierdie artikel is dit duidelik dat Bacon ook sy selfportrette op Marlon Brando gemodelleer het.
Tot sover my lesing in 2013.
II
Studie van ‘n portret van ‘n man
optelgedig oor die skildery van Francis Bacon
Die streepsuikerkleure van die man
slaan teen die oog:
‘n pimpel en pers en groen
en blou kadawer!
Kyk hy deur ‘n ruit: die raam
waardeur ons kyk?
Sy gesig, sy hempskraag: wit
wat breuk in baie kleure,
wit wenkbroue en donker hare.
Die vuis teen sy kop ontketen
‘n donkerte. Die oog glip
uit soos ‘n lens.
‘n Swart das is om sy nek geknoop.
Die verf is weefseldik.
Sy nerf word afgestroop:
plek-plek dun,
en plek-plek dik opgestoot.
Die inkarnaatkleur van bederfde vlees,
die sfumato-afdruk van ‘n vuis
op die vol lippe: sagte lyne
voor ‘n harde geweld.
Kom ons lees die gedig apart van Bacon se werk:
Studie van ‘n portret van ‘n man
optelgedig oor die skildery van Francis Bacon
Die streepsuikerkleure van die man
slaan teen die oog:
‘n pimpel en pers en groen
en blou kadawer!
Streepsuiker geweld
Slaan geweld
Pimpel en pers geweld
Blou kadawer dood
Kyk hy deur ‘n ruit: die raam
waardeur ons kyk?
Suggestie van ‘n lykshuis?
Sy gesig, sy hempskraag: wit
wat breuk in baie kleure,
wit wenkbroue en donker hare.
Suggestie van wit dalk ‘n doodskleed?
Breuk hier ‘n tema wat later in Die algebra van nood ondersoek word
Die vuis teen sy kop ontketen
‘n donkerte. Die oog glip
uit soos ‘n lens.
Beserings weens die geweld
‘n Swart das is om sy nek geknoop.
Die verf is weefseldik.
Dalk weer ‘n suggestie van die lykshuis?
Sy nerf word afgestroop:
plek-plek dun,
en plek-plek dik opgestoot.
Lykskouing dalk?
Die inkarnaatkleur van bederfde vlees,
die sfumato-afdruk van ‘n vuis
op die vol lippe: sagte lyne
voor ‘n harde geweld.
Inkarnaat letterlik vleeskleurig met die vuis se afdruk
Die lyk se vol lippe
Die harde geweld van ‘n ongeluk wat ‘n tema in die digter se digkuns is o.a. in Snel grys fantoom
So word Francis Bacon ‘n troop vir die verwerking van De Lange se pynlike jeug en die voortydige dood van sy vader. Die reeks Pa-gedigte is bewys hiervan. Hutcheon beweer dat parodiese metafiksie die leser opsetlik oriënteer én disoriënteer(1985: 91). De Lange se gedig kan in tandem met Bacon se skilderye gelees word, maar ook teen die agtergrond van sy boeiende digkuns.
As die maan haar spieëltjie
As die maan haar spieëltjie/my visdam ophou
watter gesig sal sy daarin sien:
my Ouma grys voor haar Bybel en spieëlkas,
stilskreiende Francis Bacon-skildery,
die stil Oom Lood wie se beeld
bly eggo soos ‘n geweerskoot,
somber tantes in ‘n bitter huwelik,
jong seuns verlief op briljante breine,
skugter meisies deur hulle broers bemin
— gruwelik deel van my soos ‘n moedervlek.
Vir die speurende leser sal dit tersaaklik wees om uit te vind in watter bundel dit staan.
Die paradoks van die ekfrastiese gedig. Enersyds in gesprek met ‘n buite-teks (foto of skildery); andersyds gedig wat as outonome gedig benader moet word. Selfrefleks, maar onder draai die duiwels rond van ‘n komplekse familie-romanse soos selfuitwissing, bloedskendige begeertes en ongerealiseerde drome en begeertes.
Joan Hambidge
2 Februarie 2025
Bibliografie:
Caws, Mary Ann. 1981. The Eye in the Text. Essays on Perception, Mannerist to Modern. Princeton: Princeton University Press.
De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
– 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. Londen: Methuen.
– 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.
Briljante teksontleding, Joan. En ‘n skitterende lesing oor die bestaanswyse van ekfrastiese gedigte: ónafhanklik gebonde aan die kunswerk en nié blote beskrywing nie.