I
Ons beleef ‘n tyd waarin heldeakkers ómgeploeg word en pseudo-historici hulle uitlaat oor die geskiedenis. Alte dikwels sonder om argiewe te raadpleeg of ordentlike bronnavorsing te doen. Hierdie regstellende aksie is uiteraard gevaarlik. As daar wel iets vergete na vore kom, is dit tersaaklik, soos wyle Dan Sleigh, romanskrywer en navorser, by herhaling uitgewys het.
Deur die jare het Marthinus van Bart belangrike werk gedoen as kultuurredakteur by Die Burger. Nou ontvang ons sy pragboek oor Wolraad Woltemade ter herdenking van sy heldedaad in 1 Junie 1773.
Glanspapier met grafika en foto’s (volkleur en monochroom).
Die verhaal van Woltemade is oorbekend. ‘n Man wat sy lewe opgeoffer het deur te perd 14 drenkelinge te red. Dit was die gestrande VOC-handelsvaarder De Jonge Thomas.
Van Bart se uitmuntende studie begin by die Thunberg-verslag en die ontmaskering van die Feodale stelsel aan die Kaap die Goeie Hoop. (Carl Peter Thurnberg was ‘n Sweedse botanikus.)
Ook met verwysing na argivale navorsing, o.a. die Kanadese argivaris George McCall Theal, wat in die laat Victoriaanse era aangestel is om die Kaapse argief te orden. S.J. du Toit, daardie taalpionier, se sieninge word ook bespreek.
Beeldhouers soos Coert Steynberg en Danie de Jager het hom vereer en daar is ‘n diepsee-sleepboot Wolraad Woltemade. ‘n Medalje vir dapperheid, posseëls, geborduurde muurbehangsels is deel van die erkenining.
‘n Mens staan verstom voor die enorme inligting wat Van Bart vir die leser aanbied en ‘n mens leer opnuut hoe geskiedskrywing een van die mees fassinerende vakgebiede bly. En hoe interessant dit word wanneer skrywers in romans of digkuns historiese gegewens aanpas. Italo Calvino in Invisible Cities (1972) of D.J. Opperman in Komas uit ‘n bamboesstok (1979). Hier word dit dan historiografiese fiksie.
Benewens die goeie navorsing en feite, is die vergelyking met Herakles, die seun van Zeus en Alkemene van belang. Herakles word beskou as die beskermheer van mense.
In die analise van Herakles se Twaalf take wys E.S. van Bart op die argetipiese aspek van die held en dat die essensie van die held deugdelikheid is.
Wium van Zyl wys op die foutiewe aannames oor hierdie held en die kwessie van imagologie, oftewel die beoordeling van die aktiewe skepping van ‘n beeld in die publieke verbeelding. Van Zyl wys op die impak in die Nederlandse, Afrikaanse en Engelse Suid-Afrikaanse letterkundes.
II
En voor in die boek is daar ‘n fragment uit C. Louis Leipoldt se “Woltemade se Spook”.
So lui die gedig:
Hier agter troon die Duiwelskop;
Ou Tafelberg is vlak daarnaas—
‘n Egte tafelklip, waarop
Die seedons afdaal as ‘n waas,
Nog witter as renosterrook,
Nog dunner as die jongste spook.
Die onderdeur staan ope nou,
Al is die naglug nog so koud,
Al is die water nog so rou,
Al glans die weerlig bont as goud:
Die seelug is mos nie ’n dief —
Ek hou van hom, ek het hom lief!
My kers is amper uitgebrand:
Dit kwyn nog net ‘n vlammetjie;
Ek het ‘n snuiter by die hand —
Die ouderwetse ding, hierdie;
Maar ek wil maar die kers laat staan:
Dit kan nog meeding met die maan —
Die maan, wat deur die wolke loop
Soos ‘n fisant deur ruigtegras —
Nou vol, dan halfpad oorgedoop
Deur wolke, dan weer in die kas;
Nou skemer oor die strand, dan swart,
Stikdonker skadu, koud en hard.
Geen ster skyn deur die vensters hier;
Geen mot vlieg om my kersievlam;
Geen gogga gons of maak getier;
Ja, selfs die wind se stem is lam:
Die hele nag het dit gedreun,
Die hele aandlang deur gekreun.
Dof slaan die see daar oor die sand,
Eentonig oor die klippers weg;
Die seegras strooi die hele strand,
Waar skuim nog met die skulpe veg —
Grys as ‘n blinde man se oog,
En troebel as ‘n emmer loog.
Hier binne gooi my kers se skyn
Groot skadu-spoke teen die muur,
Wat flikker, fladder en verkwyn
Soos spinnekoppe in ‘n skuur;
En hoog daar bo, daar by die dak,
Waai vlaggies van vuil spinnerak.
Nou luister maar: daar hoor jy raas,
Sag as ‘n muis, wat bruidskoek kna,
Of vir sy maters in ‘n kaas
Trakteer, op wat hul weg kan dra.
‘n Dof geritsel by die deur —
Iets koddigs nou kan jy bespeur:
‘n Voetstap op die stoep; ‘n ding,
Wat sagter as ‘n blootvoet kind,
Dwars rondloop as ‘n vreemdeling,
So vinnig amper as die wind —
Wat skielik in die duister blink,
En dowwer oor die drumpel klink;
Iets, wat jy nie met oë kyk;
Iets, wat jy nie met vingers vat;
Wat deur die hele kamer reik,
Wat kruip so deur die sleutelgat —
Miskien ‘n bietjie mis of rook,
Of Wolraad Woltemaad se spook!
Jy sien hom nie; jy voel maar glo
Die yskoud lug, waarin hy gly!
Die spinnekoppe spartel so,
Asof hul bewerasie kry;
Die kat krimp weg, sy rug is krom;
Die hond die huil; die wind is stom!
En elke nag teen middernag,
Dan ry die yskoud spook op land,
En kuier op die strand, en wag
Sy lewe, wat die see as pand
Moet hou, totdat die eerste slag
Geslaan word op die laaste dag.
En as hy oor die drumpel waai
En inkrimp in jou huis, dan kreun
Die ou skarniere, en dan swaai
Die onderdeur; ‘n dof gedreun
Klink in jou ore, want dis ook
Die koms van Woltemaad se spook!
Jy moenie daarvoor bang wees nie:
‘n Spook het mos geen been of murg:
Wat kan hy kwaad doen, of vir wie
Kan hy so goedsmoeds dood verwurg?
Nee, glo nie, hy sal rusie stook!
Hy is mos Woltemaad se spook!
Hy kom net om die strand te sien,
Waar eenmaal hy ‘n heldestreek
Begaan het om die Plig te dien.
Verbeel jou, hy is dood en bleek:
Hy kan jou nie moveer, en jy
Moet trots wees op sy koms en bly.
Net goeie mense sien sy spook!
As jy miskien op sterwe lê,
Gewaar jy hom as gryswit rook,
Waaruit ‘n stem klink sag, en sê:
(Al dink jy ook, dis maar die wind)
“Kom saam met my; kom huis toe, vrind!”
Al is jy goed of goddeloos,
Sit net maar stil alleen en wag;
Alleen, met twak en tonteldoos,
Gewaar jy hom op middernag —
Nie met jou oog, nie met jou hand:
Net met jou siel en jou verstand.
Gevoel — alleen aan dit gewoon,
Kan jy vir Woltemade sien:
Het jy dan ook gevoel nie, loon
Dit jou niks, want jy word miskien
So vaak en teemrig, dat jy gaap,
En netnou sluimer vas aan slaap.
Dan droom jy, Woltemade kom
Net soos Klaas Vakie deur die dak
Of skoorsteen — want ‘n spook is dom
En gee nie om die spinnerak —
En as jy slaap, dan bo jou kop
Lê hy sy koue hande op
Dan skrik jy wakker en kyk rond:
Die kersie gluur nog om die pit,
Die skadu flikker oor die grond,
Die sterre en die maan skyn wit,
Jy hoor nie eers ‘n kreun of sug,
Jy voel net maar die yskoud lug;
Maar in jou kamer, by jou bed,
Daar het sy spook gestaan, en hy
Het op jou in jou slaap gelet;
Oor jou sy hande uitgesprei:
“Ek het my plig gedoen, gegee
My lewe aan ons Moedersee.
“Ek het my plig gedoen; en jy,
Jy, wat so sedig droom en gaap —
Wat het ons land van jou gekry?
Het jy gewerk of net geslaap?
Jou lewe, was dit werk of rook,
‘n Droom—soos Woltemaad se spook?”
Hierdie gedig het oorspronklik in 1926 verskyn in Oom Gert vertel en ander gedigte.
“Wolraad Woltemade – ‘n epiese huldedig” is ‘n ander gedig van Leipoldt.
Hierdie verse is geskryf in die laat 1900’s toe Leipoldt ‘n koerantman was by The South African News in Kaapstad.
Hoe moet ons nou in 2015 hierdie gedig lees?
In 1987 verskyn Brian McHale se Postmodernist fiction.
Hier verwys hy na metalepsis, oftewel die violasie van ontologiese grense (1987: 227).
In die slot van Leipoldt se vers:
“Ek het my plig gedoen, gegee
My lewe aan ons Moedersee.
“Ek het my plig gedoen; en jy,
Jy, wat so sedig droom en gaap —
Wat het ons land van jou gekry?
Het jy gewerk of net geslaap?
Jou lewe, was dit werk of rook,
’n Droom — soos Woltemaad se spook?”
Woltemade dus as held vir Leipoldt; ‘n spook wat bly loop.
Op 31 Mei 1773 het ‘n noordwestelike stormwind die VOC-seilskip De Jonge Thomas, op Woodstock-strand naby die monding van die Soutrivier op die sand gestrand.
Christiaan Ludwig, die seun van Woltemade, moes die wrakgoed oppas en die plundering probeer verhoed. Die vader het op 1 Junie na sy seun gegaan met kos en water. Hy het sewe keer met sy perd Vonk die see ingery en veertien mense gered. Die agtste keer het hy en die perd verdrink toe mense aan hom en die perd vasgeklou het.
McHale se studie is belangrik veral oor die dood. Hy verwys na die “ontological limit of death, but also the dream of a return” (1987: 235).
Dit staan opgeteken in die Coda van die teks. En dis hoe ‘n mens dan ook die drumpel by Leipoldt kan benader. Soos in Finnegan’s Wake.
Die “commodius vicus” van hersirkulasie …
De Jonge Thomas
Op sy perd genaamd Vonk
het Wolraad Woltemade
die see trotseer
en op die agste keer
verdrink, word beweer.
As jong kind dié heldedaad
aangehoor op ‘n laerskool:
soos die een oor Racheltjie de Beer
in ‘n plakboek langs
ander helde van weleer.
Piet Retief en Dingaan se kraal
besoek op ‘n skooltoer;
rooi en groen krale opgetel
en agterna vir my pa
onder die Wonderboom als vertel.
Nou soos Johan van Wyk dig,
weet ons heldedade kom nie
dikwels voor nie. Is onsterflik-
heid werklik ydel?, geliefde
digtersvriend.
Of sal ons saam met geskied-
skrywers snags in die sneeu
waak by die miernes
uitgehol deur ‘n aardvark
en red wat te redde
is?
© Joan Hambidge
III
Daar is eweneens ‘n huldeblyk opgeneem vir Dan Sleigh (1938 – 2023) in Van Bart se boek.
Sleigh digter van die bundel Duif oor water (1971), navorser en veral romanskrywer van o.a. Eilande (2002) en Afstande (2010).
Met ‘n aangrypende afdruk van George William Pilkington se uitbeelding van die reddingsdaad staan in die boek.
Akademici, opvoedkundiges, kultuurliefhebbers en toerorganiseerders wat in die Wolraad Woltemade 250 Gedenkboek belangstel, kan Marthinus van Bart kontak by selfoon: 072-740-5203 of e-pos: kultuurkroniek@gmail.com
Joan Hambidge
9 Februarie 2025
Bronne:
Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. Londen: Methuen.
– 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.
Kannemeyer, J.C. 1999. Leipoldt: ‘n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.
Leipoldt, C. Louis. Oom Gert vertel en ander gedigte.
https://www.gutenberg.org/cache/epub/19729/pg19729-images.html Besoek 4 Februarie 2025
McHale, Brian. 1987. Postmodernist Fiction. Londen: Methuen.
Wolraad Woltemade 250 Gedenkboek Marthinus van Bart
R480
200 bladsye (sagteband)
9781234 567897
2024
Novus Print, Milnerton
‘n Kort resensie het op die boekeblad Netwerk24 verskyn op Maandag 2 Februarie 2025.