
I
Hoekom kry sekere digters nie genoegsame aandag nie? Onbekroond “verdwyn” hulle. Tog lewer hulle ‘n enorme bydrae tot die digkuns. Só ‘n digter is Johan van Wyk.
Heldedade kom nie dikwels voor nie is ‘n belangrike bundel binne die sub-genre van ekfrastiese digkuns.
Genadiglik het die digter, toe hy nog gelewe het, dit op ‘n blog bewaar:
https://johanvanwyk.oblogs.co.za/texts/heldedade-kom-nie-dikwels-voor-nie/ Besoek 10 Februarie 2025

Perspective II Manet’s Balcony 1950

Edouard Manet in 1869 (Parys, Musée d’Orsay).
PERSPEKTIEF: DIE BALKON VAN MANET
Na ‘n skildery van Magritte
Vanaf die balkon
kyk doodskiste en ‘n krismisroos
hoe baniere
HENDRIK FRENSCH VERWOERD LEWE
deur die strate stroom.
Tenks gaan soos kangaroes verby.
‘n Plaag sprinkane
hop om die lourierkrans
van Hendrik Frensch Verwoerd wat weer gekom het
in sy oopdakmotor.
Die doodskiste strooi krismisroos‑confetti
oor die oopdakmotor.
Twee skilderye: Magritte in 1950 en Edouard Manet in 1869.
Magritte se skildery word afgebeeld op Linda Hutcheon se studie oor die parodie wat in 1985 verskyn het.
Twee skildery en ‘n gedig. En tussen die twee skilderye, ‘n digterskilder se interpretasie en die leser wat dit moet dekodeer.
‘n Perspektief met die klem op kyk.
Waarom staan daar op die baniere dat die vermoorde Verwoerd nog lewe?
Dalk omdat die impak van sy politiek steeds lewe?
Tenks is soos kangaroes. Met ander woorde, hulle dra geweld in hul buik en ‘n sprinkaanplaag (beeld van verwoesting) hop om die lourierkrans, ‘n uiters ironiese beeld.
Die oopdakmotor verwys ook na die moord op John F. Kennedy in Dallas Texas en die verskillende teorieë oor wie hom vermoor het. Klaarblyklik gaan hierdie dokumente nou openbaar gemaak word.
Die doodskiste strooi confetti asof dit ‘n bruilof is.
En die toevallige samekoms van teorie en digkuns laat ‘n mens weer nadink oor die dood van die outeur via Roland Barthes en Michel Foucault. Johan van Wyk had ‘n enorme kennis van literatuurteorie.
Die dood van die outeur dui immers op die geboorte van die leser.
II
En waarom dan die titel Heldedade kom nie dikwels voor nie.
In ‘n privaat-gesprek het die digter aan my bely dat hy eendag na die radio geluister het. Audrey Blignault het een van haar boekprogramme met hierdie gevleuelde woorde afgesluit. Hy het ook terwyl ‘n mens kuier notas gemaak in ‘n swart notaboek. Maar alles gehoor wat gepraat word.
Hy het eweneens bely hoe belangrik Bartho Smit en Ernst Lindeberg was vir hom as mentors.
Wie was Johan van Wyk?
Ek het hom Johnny genoem. ‘n Briljante skilder en digter. Ook ‘n drama Wieretuin (in 1980) by die Mark-teater opgevoer en ‘n fotoverhaal Trollop slaap te veel wat indertyd in Stet gepubliseer is. Daar is eweneens ‘n (semi)outobiografiese roman: Man/Bitch.
http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/johan-van-wyk-man-bitch-20012006.html Besoek 11 Februarie 2025
Tekste versend wat op CD’s geplaas is.
Maar daar is ook ‘n storie agter die storie. Die seun van ‘n myningeneur wat grootword in Welkom en later skoolgaan in Harare. Vlug na Swaziland (eSwatini) weens sy politieke sieninge. Hy woon tydelik in ‘n woonwapark.
Hy weier om diensplig te doen. Met sy terugkeer na Suid-Afrika word hy in hegtenis geneem en opgesluit in die militêre detensiebarakke en later in ‘n militêre hospitaal. Hy word as skisofreen gediagnoseer en vrygelaat. Hierna volg studies in die letterkunde en kunsgeskiedenis aan Unisa en Wits. Voor sy vertrek na Durban in 1983 woon hy in Boksburg op ‘n kleinhoewe.
Hy skryf ‘n proefskrif (onder leiding van Brink) in 1987 Die dood, die minnaar en die Oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks.
Lank voordat dit mode was, het Van Wyk multidissiplinêre navorsing gedoen oor post-apartheid en postkoloniale studies aan die Centre for the Study of Southern African Literature and Languages (CSSALL) aan die Universiteit van Durban-Westville. Hierdie sentrum publiseer ‘n tydskrif Alternation.
In 1998 woon hy Gillespiestraat in die Punt (Durban), ‘n plek waar verskillende mense uit alle rasse en klasse ontmoet. Hieruit volg die heerlike Gillespiestraat-slenters indertyd op Litnet.
In 2002 is daar ‘n beroerte-aanval en later word hy aangeval deur ‘n minnares wat ongelukkig lei tot sy vervroegde aftrede in 2003. Hy woon hierna by sy ouers in Bloemfontein. Hy was getroud met Liesbet Grobler, die bekende uitgewer. Hulle het saam twee kinders gehad.
In 1988 publiseer hy met Pieter Conradie en Nik Constandaras die alternatiewe bloemlesing van Suid-Afrikaanse poësie S.A. in poësie / S.A. in poetry uit.
Eweneens ‘n belangrike teoretiese teks is Rethinking South African Literary History saam met Johannes A. Smit en Jean-Philippe Wade in 1996.
Johann de Lange het insigryk oor hom geskryf en die volgende onderdrukte verse geboekstaaf:
XLV
eers onsekerheid: ag nee man dit kan nie so wees nie
later luister jy met woede na die liegstories oor die radio
lees jy die liegstories in die koerante
word jy verbluf deur toesprake
die woede
laat jou te vinnig begin breek
aan jouself en hulle
jy breek met opregtheid
hulle arresteer jou in die middel
van ‘n lesing
hulle martel jou vir 180 dae sonder verhoor
hulle beveel jou om van die 10de verdieping te spring
van jou vriende gly in die stort en sterf
party bly naamloos
dankie dat dit op hierdie manier moet gebeur
so behou ons opregtheid
so sal ons onthou word
nie soos hulle ons bekend gemaak het nie
*
XLVI
Teen die tonnellig
vlug silhoeëte droewig
met sakke en tasse oor die treinspoor
– gedoemdes voor
‘n wit skare. Bevestigings van hulle menswees
verban verbrand, hulle is gedoem
om met minder as ‘n mens tevrede te wees
ek bevestig hulle. Met my toedoen
word die rewolusie bevorder, roep
hulle vir regte. Soos David
word ek gevang gesnoer.
Soos Marat, vermoor in badwater
met my wit vel soos melaatsheid sweer ek trou
om die gedoemdes van hulle ellende te bevry
ek verkondig ek is ‘n sosialis
ek sing dit. Afrika hulle mag my
van jou wegstuur maar my gees
sal bly ons
sal oorwin. Wees
vry van wraak
wat ‘n siekte is
soos my vel behandel
hulle wat julle beledig het goed
hulle het geen slaapplek nie.
*
XLIX
na gedigte van agostinho nato
wie maak die witman ryk?
boss boy
die boss boy slaap met luise in die kampong
sy vrou se heupe beweeg op ‘n karos
in die stroois,
hy byt moederaarde daagliks
reg in die hart
met bore wat teen sy hart stamp
sy een oom is ‘n waiter
sy ander oom ‘n plaasarbeider
sy ander oom ‘n driver
wie maak die witman ryk?
hy wonder of hy messe en vurke moet koop om mee te eet
die kinders speel met ‘n sakbal
die kinders van baie pa’s
wie maak die witman ryk?
wie gee die witman ‘n swanger maag,
‘n kar, ‘n huis, messe, vurke
en kos vir die honde en die asblik
(Uit: Deur die oog van die luiperd – Johan van Wyk)
En in ‘n voetnoot skryf De Lange:
Hierdie drie verse is uit die gepubliseerde bundel weggelaat as gevolg van sensuur, & vrees vir die reperkussies wat die publikasie daarvan kon hê: op sy minste ‘n verbod op die boek of, op sy ergste vervolging van die digter en/of uitgewer.
Dis moeilik om te glo dat hierdie verse die Nasionale Party bedreig het, maar die harnas van die onderdrukker is onverwags broos, die nerf dun. Dit was ‘n ander tyd, een wat die jong skrywers van vandag eers nóú, met wat om ons gebeur, begin verstaan. Dis moeilik om ‘n verskil tussen die NP & die ANC te sien 22 jaar later.
http://johanndelange.blogspot.com/2016/11/johan-van-wyk-drie-onderdrukte-verse.html Besoek 11 Februarie 2025
III
‘n Nomaad en buitestaander. ‘n Kenner veral van Sigmund Freud en Julia Kristeva se werk.
Hierdie huldeblyk is indertyd oor hom geskryf:
http://joanhambidge.blogspot.com/2022/04/huldeblyk-johan-van-wyk-1956-2022.html
Besoek 11 Februarie 2025
As hy tot die hoofstroom behoort het, was die siening en taksering dalk anders.
Soos ons telkens beweeg tussen die skilderye en die gedig deur Johan van Wyk, is ons eweneens iewers tussen die teoretiese werk én die nomadiese bestaan. Digter en dramaturg. Fotoverhaalskrywer en een wat voortdurend ‘n nuwe persona of identiteit geskep het.
Oor Ingrid Jonker het hy beweer dat die teks IJ die grafsteen is (geboorte- tot sterftedatum).
Sy oeuvre eis eweneens van die leser ‘n nuwe manier van interpreteer. Vanoggend ontdek ek in my eksemplaar van A Theory of Parody ‘n brief wat hy vir my geskryf het.
Hy is een van die mees radikale voorbeelde van intertekstualiteit binne ons letterkunde.
Inderdaad: oë in ‘n kas.
(word vervolg)
Joan Hambidge
11 Februarie 2025
Bronne:
Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. Londen: Methuen.
–1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. Londen / New York: Routledge.
Johan van Wyk
| Jaar | Publikasies |
| 1976 | Deur die oog van die luiperd |
| 1978 | Heldedade kom nie dikwels voor nie |
| 1981 | Bome gaan dood om jou |
| 1996 | Oë in ’n kas |
| 2006 | Gedigte 1976–1996 |
By sy dood hierdie gedig oor hom geskryf:
Johan van Wyk
(1956 – 2022)
Laasnag skuif my deur
oop in ‘n nag gesteur:
vanoggend stuifreën
dit toe ek hoor jy’s heen.
Badi en arunquiltha geleer
by Jung in die verbintenis
(onsigbaar) tussen lewendes
en dooies, droom en reële.
Bad magic? Die son ingesluk
in ‘n volledige verduistering
want nog ‘n digter weggeruk
met net gedigte ter stawing.
© Joan Hambidge

‘En Sloper? En die Kabelkarnimf ding? En Yeoville se trein? En die harpye in die kragdrade ja, ek onthou daai hoed.
Ek onthou die voorkamertjie op die plot en die rastas in die kombuis en ander kamers. Die vleespyn wakker onder n hoed vol hede, in die nuwe sitkamer. Ons was trappe vir baie voete deur die tagtigs. As Johan weer kom kom haal hy sy perels. Maar helaas het ons kontak verloor toe die kontak slaan.’ Edm edm die aanhouer nef.