In 2020 skryf Gunther Pakendorf op Versindaba:
M.M. WALTERS, TER NAGEDAGTENIS (1929 – 2020)
“Met die oorlye van M. M. Walters op 28 Julie 2020 het die Afrikaanse letterkunde `n belangrike kritiese stem en `n beduidende digter verloor.
“Aan die begin van 2020, toe hy al oor die negentig jaar oud was, het hy `n vers aan my gewys wat in sy bedrieglike eenvoud `n hele verhaal vertel. Dit moet een van sy laaste gedigte gewees het:
Elke voëltjie
het sy lied –
selfs die seevoël
en die kokkewiet.
Of dit nou fraai
of goor of gek is,
elkeen sing maar
soos hy gebek is.”
In 1995 in my boek “Moenie ‘n mielie kielie nie” is daar hierdie vers van my:
Elke voëltjie
het sy lied:
krokodil
en zoeiii-muskiet,
elke kokkerot
of sysie
met sy
eie sysiewysie.
Elke gogga, elke mensie
elke omie met sy pensie
moet kan skinner, krys of kweel
kwinkeleer of koer of neul.
Of dit fraai, of goor of gek is,
jy moet sing soos jy gebek is.
Later het ek self hierdie versie verkort na:
Elke voëltjie het sy lied:
hadida en kokkewiet.
Of dit fraai of goor of gek is –
Jy moet sing soos jy gebek is.
In 2015 toe ek ‘n kykNET Fiësta lewenstoekenning gekry het vir my bydrae tot letterkunde, musiek en visuele kunste in Suid-Afrika , het ek juis my bedankingstoespraak met hierdie woorde afgesluit.
As dit een van Walters wat in 2020 dood is se laaste versies is, en ek wat reeds tevore in 2015 my versie in die openbaar gelees het, is daar iets vreemd aan die gang. Ja, êrens is ‘n skroefie los.
Sien Philip de Vos se video op 25 Februarie op sy Facebook-blad:
https://web.facebook.com/philip.d.vos