I
Eers ‘n virale oorlog met Covid; toe die inval op die Ukraïne en nou die nuwe spanning tussen Israel en Palestina. Op 1 November 1973 het Golda Meir die VSA besoek om ‘n oplossing te vind en alle pogings daarna het misluk. Met die moderne media se aanslag sien ons hartbrekende skendings van menseregte en hospitale sonder krag. Hoe reageer ons hierop?
In M. M. Walters se reeks Poësie uit Verre Lande van 1991 lees gedigte oor die Midde-Ooste saamgestel deur Johan Steyn met die olyfboom as ‘n belangrike simbool.
Met reise deur Jerusalem, Egipte en Turkye beleef ‘n mens hierdie landskap.
In 2016 skryf ek as volg oor die struktuur van die religieuse vers op my blog Woorde wat weeg: http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=freda+plekker Besoek 18 November 2023
So dig Freda Plekker:
Gesprek met ’n olyfboom
Jerusalem 1966
In wasgoedtaal gesels die wind
oor balkonne
blind
en wimperloos
wat oor die Negev staar
en twintig eeue ween en klae
deur smal skagte
oor die mea culpa mea culpa
wat hulle dra
kringvormig
’n viëtnamese sirkeldig
bid Chagall se brandglasvensters
die gryswit stad
uit gryswit steen
tot feller lig
bondels olywe groet my
met ’n shabat shalom
een
met ’n duisend jare
om haar hoof
soos ’n duisend blare
het my in gedempte groen gevra
wat in die albasterkruike
van my oë was
ek antwoord:
dis die wêreld wat ek dra
dis mea culpa mea culpa maxima.
In 1967 word daar as volg geskryf:
In a statement at the Western Wall, Minister of Defense Moshe Dayan indicated Israel’s peaceful intent and pledged to preserve religious freedom for all faiths in Jerusalem:
To our Arab neighbors we extend, especially at this hour, the hand of peace. To members of the other religions, Christians and Muslims, I hereby promise faithfully that their full freedom and all their religious rights will be preserved. We did not come to Jerusalem to conquer the Holy Places of others.
(1967/ Reunification of Jerusalem. Besoek 18 November 2023
Met hierdie agtergrondskennis wil die gedig dus daardie religieuse vrede sien gebeur. In 1967 word Jerusalem teruggegee met die simboliese Westerse Muur. By ‘n besoek aan hierdie stad het ek oor die via dolorosa geskryf. Die spreker kyk uit oor die Negev (ook genoem Negeb) is ‘n woestyn in die suide van Israel, ‘n landskap waarin olyfbome gedy. Die (Bybelse) geskiedenis van oorlog en ellende word deur hierdie landskap vergestalt met sy dorheid. Die beeld van verdere troosteloosheid word deur die wasgoed in die wind uitgedra.
In die tweede strofe word daar verwys na Chagall, die Joodse kunstenaar se glasvensters wat alombekend is vir die spirituele simboliek. Maar die spreker aktiveer ook die Luc bat-digvorm, wat letterlik in Sino-Viëtnamees 6/8 beteken. Hierdie populistiese gedig begin met ses sillabes en eindig met agt sillabes. (Lụcbát – Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 18 November 2023).
Probeer haar gedig die oorlog van daardie land aktiveer, naamlik die universaliteit van oorlog? Of probeer sy die sirkelvorm van hierdie vers naboots? Of probeer sy die religieuse verskille tussen verskillende godsdienste gelykmaak? Dat oorlog/versoening/spiritualiteit in sirkels beweeg?
Die derde strofe aktiveer immers die geskiedenis van Jesus Christus. Die wekroep of groet hier is om te rus op die sabbat soos die Torah versoek. ‘n Ou vrou wat metafories “bondels olywe” is, dra die geskiedenis van hierdie land óm haar hoof soos wat Jesus ‘n doringkroon om sy hoof gedra het. Die duisend jare om haar hoof is myns insiens ‘n positiewe beeld. Sy aanvaar haar lewenslot.
het my in gedempte groen gevra
wat in die albasterkruike
van my oë was
ek antwoord:
dis die wêreld wat ek dra
dis mea culpa mea culpa maxima.
Die vrede van hierdie persoon dra die spreker in die “albasterkruike / van my oë” en sy word eensgesind in die dra van die religieuse geskiedenis van hierdie streek en die mens wat sondig is en hierom moet boete doen.
Die albasterkruike verwys letterlik na die kruike van hierdie landskap, maar dit aktiveer ook “the breaking of the vessels” van die Kabbala, waaroor Harold Bloom so indringend geskryf het: die Shevirat ha-Kelim.
In die Lurianiese Kabbala dui hierdie proses op ‘n nuwe begin, veral op die soeke na ‘n nuwe spirituele begin. En dit is wat hierdie gedig van Plekker so uitstekend verwoord. (Breaking of the Vessels, Shevirat ha-Kelim. 18 November 2023)
Die vraag is egter nou: het dit gebeur? Is daar sprake van religieuse vrede en erkenning van almal se regte?
II
Tydens ‘n besoek aan Jerusaslem dig ek só oor die via dolorosa:
Via dolorosa
Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ’n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ’n sokkertelling ’n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
’n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ’n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ’n tatoe.
’n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ’n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ’n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ’n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ’n raam
op my digitaal.
Jerusalem
Uit: Visums by verstek. Human & Rousseau. 2011.
In reaksie op ‘n sms wat ek op die via dolorosa vir hom gestuur het, skryf Johann de Lange “Google Golgota” opgeneem in Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange in 2010.
Google Golgotha
Sondagmiddag in Kaapstad
en ek kry ‘n sms van Joan
uit Jerusalem: Ek loop nou
die via dolorosa.
Was vandag U sterfdag
sou ons U volg
op Twitter, mekaar sms
of vir laas U profiel
op Facebook besoek, spyt
ons het nie eerder
gevra dat U ons byvoeg
as vriend. Elke blogger
agter sy rekenaar
besig met sy Golgota-scoop.
Die pers sal kameras en
mikrofone in U gesig druk
vir ‘n sound bite, of advies
oor global warming, duisende
websites opgaan in U Naam, promosies,
boek- en filmregte. Advertensieflitse:
Hoe kry ons daardie kleed
weer witter as sneeu?
Regoor die aarde sal kort
oorsigte oor U lewe uitgesaai word,
onderbreek met terugflitse
na die smal stegies,
die keistene waaroor U moeisaam vorder,
nuushelikopters oorhoofs.
Joan, stuur my asb ‘n 8 megapixel foto,
‘n poskaart of brief in Sy handskrif,
of ‘n repie van Sy kleed, ek begeer
iets om op eBay te adverteer.
By die dood van die digter I. L. de Villiers het ek hierdie gedig geskryf:
Shevirat ha-Kelim
vir Izak
So vra jy my op ’n keer oor die Kabbala,
oor die kruik wat in ligtende stukke breek,
oor vorms wat sig in nuwe vorms wreek.
Jy is glo in jou vroeë slaap weg
– soos ’n potlood wat onverwags breek –
maar glo my, alles word nóú besleg.
In ons Blou Bybel lê jy tussen
D. Sleigh en P.H. Roodt se wit boom,
koerantman, prediker, digter: ondertussen,
onderweg, terwyl ons, blote afdrukke
van hoër waardes, probeer takseer:
was jy meer Mensch of blote droom?
Dalk, dalk is dit reeds geskryf:
die digter moet uiteindelik verdwyn,
sodat ons nou, by nabaat, weet:
as niks meer heilig is, sal ’n vers steeds
uitwaaier soos skerwe, na God se lig.
Uit: Matriks. Human & Rousseau. 2015.
III
Al die indertydse vrae en besinnings is nou komplekser as ooit. Ek lees Olga Kirsch en Darwiesj. Bester Meyer en Breytenbach.
Dink na oor die kafan (lykskleed).
Ek lees weer Louise Viljoen se besinning oor Kirsch:
https://www.academia.edu/10096104/_Die_hart_n_dro%C3%AB_blaar_verlies_rou_en_melancholie_in_Olga_Kirsch_se_Afrikaanse_po%C3%ABsie Besoek 18 November 2023
Sy verwys ook na “Die Blokhuis” van Kirsch:
Die fondamente van die fort was vrees,
haat het die deure een vir een gesluit.
Kyrie Eleison
Genade O Heer, genade gevra
in ‘n tyd van ‘n oorlog slopend durend
met wedersydse haatlikhede
opdat ons weg beweeg het van U
dog die Onsienlike immer sigbaar
in die natuur buite versperrings
Kyrie Eleison Kyrie Eleison
waar U naam God of Allah
misbruik misken geminag word
gebede in Jerusalem se sinagoges
klink teen die Wesbank op
met Allah wat terugroep in moskees
Kyrie Eleison Kyrie Eleison
bid ons nou tot U in hierdie stryd
waar babas buite broeikaste sterf
dog U is lig en lewe en lug
al word name op liggame geskryf
vir die uitvaart se ontsyfering
met die stank van die dood
Kyrie Eleison Kyrie Eleison
oor die windsels gebede
van kafan en kleed tot uniform
by die grafgebede geroep Salat ul Janazah
Kyrie Eleison Kyrie Eleison Kyrie Eleison
mag die konifers van woede eindig
om saam met Olga Kirsch tot rus te kom
in die onuitroeilikheid van U naam
waar die Jodin oor die hart ‘n droë blaar dig
nes Magmoed Darwiesj praat oor die palmbome
en deurkliefde tempels soekend na ‘n howdah
albei getuies van dié woestynlandskap
en die dorre dorre eindelose swerftog
van wraak en weerwraak hoon en haat.
Kyrie Eleison Kyrie Eleison Kyrie Eleison …
SubhanaK-Allahumma wa bihamdiKa, wa tabaarak-asmuKa,
wa ta-‘aala jadduKa, wa la ilaaha ghayruK’
Kyrie Eleison Kyrie Eleison Kyrie Eleison
Joan Hambidge (Asindeton. Werk-in-aksie)
Bronne:
Breyten, Breytenbach. 2010. Oorblyfsel / Voice Over. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2010. Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human Rousseau.
Hambidge, Joan. 2015. Matriks. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Visums by verstek. Kaapstad: Human & Rousseau.
Meyer, Beyer. 2010. https://versindaba.co.za/2020/01/03/bester-meyer-darwiesj-vertalings/
Besoek 17 November 2023
Walters, M.M. 1991. Poësie uit Verre Lande (reeks). Johannesburg: Perskor.