drie uiteenlopende ballette
Beeld, 21 Feb. 2025
(i)
die bos is in beweging gestol:
op die donker dekor van blaar en tak
is die dansers ʼn bleek silhoeët
van bloekoms en papierbasmelaleucas
wat voor die oog verby patroon.
iets flikker die lig breek uit
en kyk!
die bome ballet
(ii)
ʼn voël waaier op soos ʼn fluit
een hoë, dringende melodie –
ʼn kraai, ʼn reier dalk, ʼn valk
wat bo die bome ʼn solo pirouette
in middelpuntvliedende tollende uitvlerkende vlug
asof ʼn vuurvoël uit die bos ontsnap het
en terugkeer na die lug
(iii)
in die vleuels begin dit knetter
en rook swymel tussen stamme
ʼn driepuntdans van bos en voël en vlamme
© Ilse van Staden 2025