Athol Harold Lannigan Fugard
(1932 – 2025)
Stem en teenstem: ‘n mini-drama
Helen Martins meen iets so
onbenulligs as ‘n voëlgesang
kan ‘n beeldjie inspireer.
Gistermiddag roep ‘n uiltjie
by my voordeur: so broos,
uit sy groen nessie geval.
Helen Martins meen iets so
beskeie as ‘n voëlgesang
kan ‘n reis na Mekka begin.
‘n Voorbode van jou dood,
by nabaat, toe ons verneem
van jou finale reis na Prawaas.
Helen Martins meen iets so
nutteloos as ‘n voëlgesang
kan borskanker dalk oorwin.
Meester van die tweegesprek
of selfontbloting, soos lesse
te lere uit bitter aalwyne.
Helen Martins meen iets so
gering as ‘n voëlgesang
kan die NG Kerk verjaag.
Jou beleef by ‘n kongres
sittend in ‘n rolstoel, laggend
toe ek uitroep: ”Meester, jy is befok.”
Helen Martins meen iets so
futiel as ‘n voëlgesang
kan blindheid dalk oorwin.
‘n Hallo en koebaai? ‘n Vertrek
nimmer as te nooit vir jou:
jy begryp alles rondom uilhuise.
Helen Martins verklap helaas niks
oor eindes of deure wat sluit;
daardie wyse uiltjie wis dit uit.
© Joan Hambidge, 2025
Lieflik!
Mooi gedig!