In reëlmaat van donker en lig
I
Oor geestesiektes (soos depressie, bipolariteit of skisofrenie) is daar al dikwels geskryf. Robert Lowell (1917 – 1977) se klassieke gedig som dit alles op:
Man and Wife
Tamed by Miltown, we lie on Mother’s bed;
the rising sun in war paint dyes us red;
in broad daylight her gilded bed-posts shine,
abandoned, almost Dionysian.
At last the trees are green on Marlborough Street,
blossoms on our magnolia ignite
the morning with their murderous five days’ white.
All night I’ve held your hand,
as if you had
a fourth time faced the kingdom of the mad—
its hackneyed speech, its homicidal eye—
and dragged me home alive. . . .Oh my Petite,
clearest of all God’s creatures, still all air and nerve:
you were in your twenties, and I,
once hand on glass
and heart in mouth,
outdrank the Rahvs in the heat
of Greenwich Village, fainting at your feet—
too boiled and shy
and poker-faced to make a pass,
while the shrill verve
of your invective scorched the traditional South.
Now twelve years later, you turn your back.
Sleepless, you hold
your pillow to your hollows like a child;
your old-fashioned tirade—
loving, rapid, merciless—
breaks like the Atlantic Ocean on my head.
Vir Lowell se lewensloop:
https://www.britannica.com/biography/Robert-Lowell Besoek 22 Maart 2025
All’s misalliance.
Yet why not say what happened?
Pray for the grace of accuracy
Vermeer gave to the sun’s illumination
stealing like the tide across a map
to his girl solid with yearning.
We are poor passing facts,
warned by that to give
each figure in the photograph
his living name.
https://literaryreview.co.uk/poor-passing-facts Besoek 22 Maart 2025
Danksy Johan van Wyk en die herontdekking van sy werk, word ander digters besoek oor die afgebreekte mure …
Die donker en lig van die psige is duidelik te siene in Wilhelm Knobel (1935 – 1974) se digkuns. Marius Crous het hieroor ‘n tersaaklike artikel geskryf: Wilhelm Knobel: ’n Psigotiese siektebeeld in digterlike taal
Wilhelm Knobel – A portrait of psychotic suffering expressed in poetic language
This article examines the link between creativity and madness, or better known as psychiatric disturbances. After a brief introduction to thinking on the topic the emphasis is on depiction of psychological suffering and disturbances in the work of the Afrikaans poet Wilhelm Knobel. Knobel comments on his psychotic episodes, the effect thereof on the body as well as the role of such episodic disturbances in his poetry. Knobel discusses the medicine he had to take, comments on the institutions where he had spent time as well as focuses on the influence of the disease on his creativity.
Crous merk tereg op in die Stilet-artikel: “Knobel het egter ’n paradoksale verhouding met die stilte. Hy verkies ’n vorm van kontemplatiewe en meditatiewe stilte, maar terselfdertyd vrees hy ’n digterlike stilte” (2011: 10).
https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC109964 Besoek 22 Maart 2025
II
So het ek indertyd op my blog geskryf oor Wilhelm Knobel:

Wihelm Knobel
Wilhelm Knobel het Salvatore Quasimodo se “en skielik is dit aand” vertaal in 1961:
Elkeen staan alleen op die hart van die aarde
deur ‘n straal van die son deurboor
en skielik is dit aand.
Die ongewapende man op 80 bevat ‘n handvol vertalings van Knobel se gedigte met kommentaar van literatore agterin opgeneem, soos Petra Müller wat meen dat hy as “vervloekte” digter op eweveel aanspraak kan maak as Ingrid Jonker. Sy het dit dan oor die “verval van die gemoed” en ingeligte lesers is bekend met Knobel se sensitiewe psige en manies-depressiewe gemoed.
Die titel kom uit “Brief vir Breyten” wat hy afsluit: “Die gekheid kom nie soos ‘n gewapende man nie”.
Dit is dalk die hoogste tyd om ‘n studie te onderneem tussen die werk van die Amerikaanse digter Robert Lowell (1917 – 1977) en Wilhelm Knobel. Beide digters het aan ernstige depressies gelei; beide het die digkuns gebruik as ‘n ontsnappingsroete, as ‘n soort “bloedsteen”. Lowell se klassieke “Man and wife” is ‘n ikoniese vers wat so begin:
Tamed by Miltown, we lie on Mother’s bed;
the rising sun in war paint dyes us red;
in broad daylight her gilded bed-posts shine,
abandoned, almost Dionysian.
Met Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Twee siklusse (2005) en As die woorde begin droom (2011) het Wilhelm Knobel ‘n unieke bydrae tot ons digkuns gelewer.
Suiwer is hierdie elegiese vers van Knobel:
Elegie
vir V. Cuenod
Êrens in die Atlantiese oseaan is jou liggaam ter see gelaat
In geen benouende seil gewikkel nie
het dit stadig deur die skemergroen lig gesak
tussen kleurige tropiese vissies wat vir ‘n oomblik
verskrik is
om dan weer soos mossies nuuskierig byeen te drom
en die vreemde gebeure gretig maar geheim in die
roering te bespreek
‘n besorgde dolfyn
het jou ‘n rukkie meer waardig op jou tog vergesel
jou ledemate wat net effens
in suggestie van ‘n dans beweeg
het hom ‘n tydjie laat vermoed dat jy leef
en jou hare wat jy kort geknip gedra het in jou lewe
het lank en donker in die stroom geroer
Êrens op jou reis die diepte in
waar die skemerte oorgaan in donker
het die vae gestalte van ‘n haai
(of twee?)
geduldig, genadig
gewag
… die beelde hier word minder duidelik
maar in drome sien ek reeds hoe ‘n hopie bene
ewig en wit begin vasgroei in koraal
Johann de Lange het sy gedigte versorg en saamgestel in 2010.

Wilhelm Knobel. As die woorde begin droom: ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Bel Monte uitgewers, 2010. ISBN 0 620 48688 0.
Wilhelm Knobel sal immer onthou word vir sy gedig “Elegie”, ‘n vers wat ‘n mens nooit kan vergeet nie. Oor daardie persoon wat in die see sterf en wie se hopie bene uiteindelik vasgroei in ‘n koraal. Sopas het daar ‘n keur uit die digter se verse verskyn As die woorde begin droom, deur Johann de Lange versorg en saamgestel. Daar is verse gegroepeer in vyf afdelings: Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Onversamelde verse (1956-1972) en ‘n vyfde en laaste afdeling wat heet Vertalings / Translations. Verder is daar ‘n handige alfabetiese register van eerste reëls en titels met huldewoorde van Gerrit Komrij en Petra Müller.
Komrij noem hom een van die indrukwekkendste digters uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Die kranksinnigheid, doodsangs en “mededogen met het weerloze, opstandigheid en de sarcastische onhebbelijkheid om zichzelf tegen beter weten in moed in te spreken”, terwyl Müller verwys na die “verskriklike selfinsig, van nugtere aanskoue van ‘n koue noodlot”. Daar is terselfdertyd vir haar lewensliefde en openbaring aanwesig in hierdie proses. Sy skryf verder:”Hy het as digter waarlik nie sy eie doodsgang versaak nie”. Komrij se uitspraak is in die jaar 2000 gemaak in die NRC Handelsblad en Müller s’n in 2005. Johann de Lange skryf tereg in die binneflap dat hy dieper gevoel het as ons meer siniese generasie. Hy op sy beurt voel dat die kritiek hom nie reg ingeskat het nie.
Die titel van die bundel word in die digter se handskrif weergegee, met ironies genoeg, ‘n gedig op ‘n soort doktersvoorskrifbladsy waar daar staan: Butazolidin Cream.
Die broosheid van alles loop reg deur hierdie bundel met sy inkantiewe aanslag: die dag breek oop soos ‘n okkerneut (67) en in ‘n brief aan Lina Spies word erotiese begeerte onverhuld en sonder skroom bely. In ‘n gedig waarin die digter vertel hoe hy ’n pak, onderbaadjie en das dra van die vader (71) kry ‘n mens ‘n direkte aanspreek van die ontslape vaderfiguur in ‘n soort eenwording, wat elders as vermanend beskryf word. In hierdie aangrypende vers word daar gevra:
Maar smôrens
as ek die beige onderbaadjie aantrek
en die warmte daarvan voel deur die dag
wonder ek
hoe koud is jy nou
of straal daar tog warmte uit
van die idee van die wolstof dig teen my lyf
Dit is duidelik dat die digter se familie uit ‘n eng en voorskriftelike familie kom en vele gedigte spreek dit aan.
Daar is mooi beelde (“oorryp lemoene in ‘n ontydige herfs”, 77) en gesprekke met skilders en digters (Phil du Plessis, Jeanne Goosen, Wopko Jensma). “5 Junie 1968” is aangrypend:
die woorde stap nie langer geduldig
paar-paar in die ark van die gedig nie (114)
https://joanhambidge.blogspot.com/2013/01/wilhelm-knobel-as-die-woorde-begin.html Besoek 22 Maart 2025
III
En so dig Johan van Wyk:
XLV
eers onsekerheid: ag nee man dit kan nie so wees nie
later luister jy met woede na die liegstories oor die radio
lees jy die liegstories in die koerante
word jy verbluf deur toesprake
die woede
laat jou te vinnig begin breek
aan jouself en hulle
jy breek met opregtheid
hulle arresteer jou in die middel
van ‘n lesing
hulle martel jou vir 180 dae sonder verhoor
hulle beveel jou om van die 10de verdieping te spring
van jou vriende gly in die stort en sterf
party bly naamloos
dankie dat dit op hierdie manier moet gebeur
so behou ons opregtheid
so sal ons onthou word
nie soos hulle ons bekend gemaak het nie
https://johanndelange.blogspot.com/search?q=johan+van+wyk Besoek 22 Maart 2025
En hierdie gedig som alles op in die “ontmoeting” tussen Francis Bacon en Vincent van Gogh:
DIE VOYEUR
I’ve got nothing to say about the
human condition ‑ Francis Bacon
‘n verskrikte Van Gogh
in die pad en die kwasstrepe
loop dwarsdeur hom
met sy hoed wat skaduwees maak
oor sy gesig verwilder geraam
tussen kaal bome en die hondsdoltande van sy skedel
knor
dit is ‘n obsessie met die lewe
‘n perverte spioenasie op die private
knor
in die visier
van die sleutelgat
‘n ou hond in ‘n hok
verwilder blootgestel
raf met sye skurend
teen die onsigbare draad
https://johanvanwyk.oblogs.co.za/texts/heldedade-kom-nie-dikwels-voor-nie/ Besoek 22 Maart 2025
Is digters en kunstenaars dalk net gevoeliger vir politieke onrus? Dalk meer in opstand teen ‘n sisteem wat ongesteld maak?
T.T. Cloete verwys tereg na die “skugter” poësie met ‘n gedempte toon van Knobel en sien veral Mure van mos as ‘n bewys van sy talent. Oor die latere verse is hy minder gunstig (1980:189 -192).
‘n Herbesoek wys op iets anders, soos Marius Crous ten slotte aanvoer: saam met die digter moet jy die worsteling deurloop alvorens die “swart letters /op die wit blad” kan verskyn.
Hierdie digters bewys dat heldedade wel voorkom in die stryd teen Othering.
22 Maart 2025
Bronne:
Cloete, T.T. (red.). 1980. Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Kaapstad: Nasou.
De Lange, Johann. 2010. As die woorde begin droom: ‘n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Kaapstad: Bel Monte uitgewers.
Hamilton, Ian. 1984. Robert Lowell: A Biography. Londen: Faber & Faber.
Knobel, Wilhelm. 1970. Mure van Mos. Kaapstad: Human & Rousseau.
Knobel, Wilhelm. 2015. Die ongewapende man op 80 in vertaling (The Unarmed Man in translation). Kaapstad: Bel Monte Uitgewers.
Lowell, Robert. 1977. Selected Poems. New York: Farrar, Straus & Giroux.
Artikel:
Crous, Marius. Wilhelm Knobel: ’n Psigotiese siektebeeld in digterlike taal. Stilet — Jg. XXIII:2 — September 2011.
Mure van mos
Brief vir Wilhelm
In jou laaste dae was jy
erg lastig vriende en familie
gesteur met besoeke onvas
(niemand kon jou ellendes begryp
voorskrifte kon niks tem nie).
En ons? Soveel dekades later
lees ons jou elegieë met daardie somber
toon wat bekoor, verruk en meesleur;
gedigte sonder ‘n noodluik of patryspoort
op ‘n swart see vol ysgebergtes sonder dolfyne.
Poësie is bevry van mooiweersvriende
of beloftes van sien-gou-weer. Ons kyk
steeds na jou, soos na Sylvia en haar susters,
na onbesuisde dade, gelegger en weggepak in kratte
waarop in swart geskryf staan: Breekbaar / Fragile.
© Joan Hambidge
