Weskuskind
Kind, ek plant vir jou fynbos en heide
om jou terug te bring na die skadukoelte
magrietjies, geelgombos en gonnas
met Kaapse wewers wat kirrrr,
ek gooi ʼn peulemat onder die groot ou boom
want té lank, kind, het steierende winde oor jou gewaai
het dorings in Middelpos se skoot gesweer;
verdriet lê bloedrooi kelke.
Pas op, more se tik en sade is nie eetbaar nie!
Watter woord sal die dooie vel voor ‘n ieder se oê wegskeur
en die Weskus son na binne laat
sodat óns kinders weer eens drome kan groei?
Kyk, daar waar die tarentaal dans op rooisand
stingel ʼn Maartlelie uit die aarde
één met die lig,
onskuld het ‘n naam
haar naam is Joslin Smith.
© Theresa Postma, 2025

Google weer dat ek op WordPress kommentaar lewer, maar hierdie gedig is Ń SKREE van MOEDER NATUUR! Hart-roerend mooi!❤️
Baie dankie David.