I
Gister doen die uwe banksake. Langs my val The Coroner’s Wife, my bundel met vertalings o.a. behartig deur Johann de Lange, Jo Nel en Douglas Reid Skinner (met Michèle Betty as die finale redakteur). Die bloemlesing is opgedra aan De Lange. Opnuut kom ‘n mens onder die indruk van die feit dat die afsterwe van ‘n digter ‘n mens anders laat kyk na die digter se werk en bydrae. Alles kry skielik ander implikasies.
Verlede week is daar ‘n nuusbrief van die WAT.
WAT wys sy kleure met die aankondiging van die wenner ene Christo Els wat die woord “nagkantoor” geborg het:
Els het die woord “nagkantoor” gekoop as geskenk aan sy vriend en eienaar van die Nagkantoor Kuierkroeg op Kaapsehoop, oudjoernalis De Wet Potgieter. Hulle het bevriend geraak terwyl hy self ook op Kaapsehoop gebly het. “Nagkantoor is ’n baken in Kaapsehoop en het ook ’n groot teenwoordigheid op sosiale media. Daar ek en De Wet uit dieselfde generasie spruit en omdat ons ook baie raakpunte deel, het ons redelike goeie vriende geraak,” verduidelik Els. “Toe ek weer woorde wou koop, het ek gedink dit sou ’n gawe geskenk wees vir ’n vriend om sy handelsmerk te verewig op ’n unieke manier en as blyk van waardering vir sy vriendskap.” Naas “nagkantoor” het hy oor die afgelope jare ook die woorde “leeu”, “lieplapper”, “niksnut”, “padloper” en “vagebond” gekoop om sy waardering vir die werk van die WAT te illustreer: “Ek lees soms die HAT en WAT vir ontspanning!
wat@sun.ac.za sal die nuusbrief aanstuur.
Hierdie berig inspireer hierdie lopertjie:
Nagkantoor
Johann de Lange
WAT se borg ‘n woord se wenner:
Nagkantoor en nou wonder jy sekerlik
watter een die uwe sal verkies?
Verknot, verknoop, verweer, afleer
of dalk sintaksis nou dat niks meer
sin maak en ek my só erg verknies?
Of dalk verlange, want dit rym
mos met jou van, my blouoog-vriend,
kenner van e.e. cummings se ont-ruim.
Ek hoor jou lag: hierdie vers is helaas,
helaas nog nie dáár en beslis vér van klaar.
Akuut of gravis. Geen rym vir dié opruim.
© Joan Hambidge
II
Johann de Lange het immer woordeboeke geraadpleeg. En sy verse getuig van ‘n digter wat sy verse tot in die vesels afgewerk het. In die bekroonde Die algebra van nood (2009) lees ons:
Van al die woorde wat ek het
Van al die woorde wat ek het
is dood onweerlegbaar
dood, ’n woord wat welig
náwerk in die brein:
vir oulaas stryk ons
die beduimelde gesig
& stuit teen wat verganklik was
maar nou raar & onoorganklik bly.
Beduimel beteken bevuil én bevat. Onoorganklik aktiveer die spel tussen oorganklik en verganklik. En onoorganklike werkwoorde (waar die werkwoord nie ‘n direkte voorwerp het nie) teenoor oorganklike werkwoorde. Die dood – dit weet ons – breek op. Die digkuns wel stuit teen die verganklike.
En hierdie vers praat terug met “Fantoomkop” In Snel grys Fantoom (1986):
Fantoomkop
Hoe meer ek kyk hoe minder is jy
klip, en hoe feller die blik
van jou rots-ooggate op my
sagte sterflikheid: ‘n Medusa-staar
wat my wil laat versteen, verstar.
Ek probeer dit weer omkeer:
klip weer net klip, en rots-
ooggate net gate in rots,
en lank nadat jy weer net klip
is in my oë, bly die beeld
nog ontstellend in my spook
*
En hoe ironies klink hierdie vers nie nou op nie:
Miskien is dit nou die tyd
Miskien is dit nou die tyd om nie meer
die ongehoorde goed te sê
wat aans op dowe ore val,
om weer binne die grense
van die skoonheid onpaar dwars te lê.
Die gesprek met Van Wyk Louw in hierdie vers is opvallend eweneens uit Die algebra van nood.
Joan Hambidge
16 April 2025
Bronne:
De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Neruda, Pablo: https://enothingblog.blogspot.com/2014/04/poem-of-day-ode-to-federico-garcia.html Besoek 13 April 2025.
Daniël in die leeukuil
Die Wet van Meders en Perse,
was dit, Koning koning Daríus, ja hy
wat jou in die leeukuil gegooi
het met siekte se bevelskrif,
word finaal en absoluut opgehef.
Al die ministers van die koninkryk,
die bevelhebbers, landvoogde,
die raadsmanne en die goewerneurs,
van ons onvoorspelbare bedryf;
ja nie een sal jou nou aanraak nie.
Soos Neruda treur in sy Ode
aan Federico García Lorca,
sien ek ook die vere van engele
vermink deur oorlog en boosheid
met nesbouende swaels in ruïnes.
Daríus, die Meder, was twee-en-sestig
toe hy die koningskap ontvang het.
En jy was vyf-en-sestig jaar oud met
jou ontslag uit hierdie leeukuil
om aardlief, Aarde; dog vry te word.
Jy sal voortleef in jou palimpses-
beelde geplaas langs die foto’s
van Eugène N. Marais en Leipoldt,
ene Daniël Johannes de Lange,
beklee ‘n ereplek in my hartargief.
© Joan Hambidge
