I
Die hele kwessie van die postmodernisme as beweging of “mode” kom nou weer aan bod.
https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/gesels-saam/repliek-as-volgelinge-in-vreemde-tale-begin-spreek-20250415 Besoek 17 April 2025
George Claassen, ‘n senior joernalis en navorser, maak sterk kapsie. Hierdie skrywer het hom al by herhaling uitgespreek teen onder andere RSG se godsdiensprogramme en mense se aanvaarding van onbewysbaarhede.
Die hele gesprek tussen wetenskap en religie is o.a. uitstekend verwoord deur J. Wentzel van Huyssteen, van Stellenbosch en Princeton Universiteit. Hy was sowel teoloog as filosoof. Oorlede in 2022.
Maar dit is ‘n debat vir ‘n ander keer. As dit nie vir geloof was nie, sou ons nie die Messias van Händel gehad het nie.
Of Mozart se Kyrie kon beleef nie. Veral Barbara Hendricks se voortreflike vertolking bly ‘n mens altyd by.
Die gesprek tussen Johann Rossouw en Jo Prins (met Francois Bekker as gespreksleier) wys op vele kompleksiteite rondom geloof en geloofsverandering:
https://www.litnet.co.za/die-johann-rossouw-gespreksreeks-gesprek-met-jo-prins-en-francois-bekker-oor-johann-en-jo-se-geestelike-reise/ Besoek 24 April 2025
II
Nou wat is die sogenaamde postmodernisme? Dit is ‘n beweging wat die modernisme kritiseer as idealisties en dat universele beginsels wel sou bestaan.
In my reaksie word daar veral gefokus word op die literêre aspek van die postmodernisme wat parodie, palinode, pastiche en persiflage insluit. Geleerde terme wat die ewige wisselwerking tussen die bestaande teks en antwoorde daarop verduidelik. En dekonstruksie impliseer.
Die ewige verband tussen modernisme en postmodernisme is eweneens bekend. Trouens, reeds in die modernisme is die tekens van onsekerheid aanwesig. Ulysses van James Joyce word gesien as ‘n modernistiese teks en wanneer dit nou gelees word, sien ons die oerteks en ander aspekte van Dublin wat na vore kom. In Louis Esterhuizen se pas verskene én aangrypende bundel Klaarte (Naledi) is daar vele gesprekke met ander digters soos N.P. van Wyk Louw en Opperman, o.a.
Ook Dante, Kafavis, Wisława Szymborska, D.H. Lawrence is hier; met klassieke verwysings na Sokrates en Asklepios …
Die ewige odusseia tussen tekste.
Daar word binnekort gebie op ‘n koper en silwer sakhorlosie gevind in tweedeklas-reisiger in die Titanic. Ene Hans Christensen Givard, ‘n Deen. Die horlosie het gestaan op die oomblik wat Givard en die skip in die koue Atlantiese Oseaan verdwyn het. Ek vermeld it omdat dit ‘n impak het op die wetenskap en ons bestaan.
https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/internasionaal/historiese-sakhorlosie-van-titanic-slagoffer-binnekort-opgeveil-20250416 Besoek 17 April 2025
In 2013 het ek gereis in Kanada tot by Halifax om die Titanic-museum te besigtig en ‘n reisverslag hieroor geskryf:
Om alleen te reis: ‘n Lacaniaanse ondersoek. Aantekeninge tydens ‘n reis deur Frans-Kanada.
Lacan se ondeurdringbare en moeilike styl is bekend. Ook dat hy op ‘n metavlak met taal werk en metafore gebruik om die ondeurdringbaarheid van die verhouding tussen taal en die onbewuste uit te werk.
Lacan skryf in ‘n ingewikkelde styl, die sogenaamde alambiqué:
Die alambiqué-styl wat volgens die Middel-Engels soos volg verduidelik word: Alembyk, sb. a retort (used in alchemy), C3; alambic, NED; limbeck, ND, Sh.; lymbecke, (Minsheu).—OF. alambic, Sp. alambique (Minsheu); Arab, al-anbA-q; Gr. [Greek: ambic]. stem of [Greek:ambix], a cup. Retort dan as wederwoord of skerp antwoord, is hoe ‘n mens hierdie styl moet verstaan wat aan Jacques Lacan toegedig word.
Vir Lacan is daar vier diskoerse: die Meester, die Universiteit, die Histeriese persoon, die Analis… Vir die skrywer van hierdie essay is die vier diskoerse die Reis, die Intellektueel, die Digter en die Waarnemer of Belewer.
https://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/om-alleen-te-reis-n-lacaniaanse.html Besoek 17 April 2025
III
Enige beweging, stylfiguur of mode kan afgeskiet word wanneer teoretici buite konteks aangehaal word. Of sonder om te vermeld wanneer dit gepubliseer is en wie die gehoor was.
Jacques Derrida en sy navolgers het belangrike werk gedoen oor die kwessie van die uitgestelde betekenis. Die begrip différance (die woord wat betekenis uitstel en verskil van die teken aktiveer) is ‘n ingewikkelde gesprek met onder andere Ferdinand de Saussure. Dieselfde geld Jacques Lacan se werk wat reageer op Freud en dit linguisties “vertaal”.
Trouens, die oomblik wanneer ‘n teks gepubliseer word, kry dit ander implikasies en betekenisse waaroor die skrywer geen beheer het nie. Die konsep asindeties is hier tersaaklik. Wat uitgelaat word. En wat die leser terugplaas.
In die reeks onderhoude met belangrike Amerikaanse teoretici het Imre Salusinszky in sy boek Criticism in Society (1987) gewys op verskillende leesbenaderings. Van Derrida tot Northrop Frye; van Harold Bloom tot Frank Kermode; van Frank Lentricchia tot Barbara Johnson, unsw. word daar gepraat oor ‘n gedig van Wallace Stevens. Hierop is daar reeds gefokus.
IV
My lewe as digter en navorser is enorm verryk deur in gesprek te tree, in die werklikheid of deur middel van boeke, met denkers wat véral verskil van my.
Wanneer vriende wat agnostici of ateïsties is wil stry oor geloof (of die teodisee) word die gesprek eerder verander. Want religie en wetenskap, dit meen die uwe na jare se lees, is twee kante van dieselfde munt. Miskien het die munt (dalk) drie kante met KI?
Niemand het die volle waarheid in pag nie. Geen persoon kan alles weet van digterlike tegnieke of al die probleme rondom die wetenskap nie. ‘n Marxis gaan nie ‘n teoretikus wat psigoanalities lees oortuig nie. Kyk hoe lees Kermode Wallace Stevens, terwyl Lentricchia anders en meer sosiaal-polities interpreteer.
Dieselfde geld historiese navorsing.
Hierom is die titel van die Wallace Stevens gedig:
Not Ideas About the Thing But the Thing Itself
V
Vervolgens die volgende palinode deur Johann de Lange wat bewys dat die lewe nie eenvoudige binariteite behels nie.
Sheila Cussons (1922 – 2004)
In die ruig-soet vlees setel
ons aardse verknogtheid
aan die lyflike geneugte.
Maar vir jou was lyf méér:
‘n sintuig vir geloof,
die vlammende tong,
spraak & teenspraak.
Deur vreugde & pyn
bly jy Hom verken:
léér-ken met jou
verminkte lyf
Sy sengende vat.
Jy wis die mens
is én helder én obskuur.
Hy hét jou toe oplaas gewen,
jou Christ of the burnt men,
vir die groter avontuur
van gees: jou uit die klein
& donker vlees bevry
dat jy kan volg met angelus
& engele aan jou voet.
In wat jy skryf, jou woord
vir woord aan-
hobbel in Sy haastige
spoor hérken ons jou,
in die lewende perkament,
jou onverminkte gees:
digter van die ontnerfde vlees.
Strofe I
Johann de Lange tree in gesprek met Cussons se beroemde gedig “Christ of the burnt men”.
Die digter Cussons se geloof word gesien as spraak & teenspraak. En dis presies wat ‘n palinode behels.
Geneugte beteken letterlik genot of vermaak.
Die vlammende tong van negatiwiteit dalk?
Strofe II
Die paradoks van die menslike bestaan wat vreugde en pyn insluit.
Die verminkte liggaam is ‘n teken van die offergawe. Hier betrek die gedig die soteriologie, oftewel verlossing in en deur geloof. De Lange intimeer dat die ongeluk ‘n keerpunt was in haar lewe en dat sy Christus so ontdek het.
Strofe III
Die oorgawe aan die religieuse dimensie word verder geneem en die verlossing uit die beperkte liggaamlikheid en die angelus novus van Paul Klee, gekoop deur Walter Benjamin. Die engel wat vorentoe beweeg en ook die destruksie van oorlog oproep. Met Benjamin se pynlike dood.
Slotstrofe:
In Cussons se werk – wat waarskynlik van die sterkste religieuse gedigte in Afrikaans bevat – word die digter se digkuns as ‘n stadige een gesien (hobbel) teenoor Christus se haastige spoor.
Sy word letterlik lewende perkament (‘n beeld om die brandongeluk voor te stel) teenoor die onverminkte gees. Sy word letterlik ont-nerf.
In wat jy skryf, jou woord
vir woord aan-
hobbel in Sy haastige
spoor hérken ons jou,
in die lewende perkament,
jou onverminkte gees:
digter van die ontnerfde vlees.
Veral dan ‘n gesprek met Cussons se digkuns en lewe …
Johann de Lange in Die algebra van nood (2009).
Joan Hambidge
Kaapstad 23 – 27 April 2025
Bronne:
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.
My religieuse besinning:
Samsara
Vanoggend pleitend
by die Boeddha, in meditasie,
om jou terug te bring.
“ ‘n Mosterdsaad van ‘n huis
sonder dood of ellende …”
Dié opdrag, wis ek, nou
onmoontlik. Op my lessenaar
‘n uitgedroogde suurlemoen
langs ‘n gedig van Lorca
vertaal deur Uys Krige.
Die dood bly iets onvertaalbaar;
dit beweeg buite woorde of beelde.
In ‘n puntdig vir jou geskryf in Ljubljana:
Elke nag weg hoor ek die Dom se slae,
my rooi Mondaine glimmer verlange.
As jou hand jou laat struikel,
kap dit af. As gedigte nie meer
troos nie, hou op lees. Vanoggend
opgeteken in Johannes vers soveel
en soveel en soveel (in blou onderstreep):
die dood het sy hakskeen
teen my opgelig. Die Tibetaanse Boek
van Lewe en Dood en Die Bybel
deurgesoek maar kom telkemale
terug by Federico García Lorca:
heuning is soeter as bloed
poësie spruit immer uit
bitterheid, ‘n hemelse heuning
vloeiend uit die onsigbare
vervaardig in die siel.
© Joan Hambidge
