Vergetedal
(vir Ma)
Daar is ’n mooi naam wat in Ma se geheue dwaal,
sy wil dit gebruik om haar storie te begin.
“In die tyd toe Oupa vir die Duitsers sou gaan boer,”
sê sy, en vergeet die res.
Op die plaas sonder die mooi naam,
waar mure eens uit die brak veld sou verrys,
sterlig deur die vensters val,
geure uit ’n kombuis sou draal,
loop Ma nou en soek.
Ek stap saam deur die leë vertrekke,
onder ons voete plof stof uit vergange vloerplanke.
“Ag, wat was die plek se naam?”
“O, ek onthou ek het geweet, Ma.
“’n Naam waaraan die tong hom kon verlustig.”
“Wat was dit dan? Het dit geëindig in ‘fontein’,
of was dit ‘dal’?” wonder Ma.
Nee, vir goed verby, die plesier.
Ma se witkopkind sit hangkop op die bed.
Haar jongste troetelkommer:
Wat was die blinkmooi naam wat Ma dan nou ontgaan?
Namate die tong verstom,
aan die geheue geen vorm meer verleen nie,
kan Ma uit die hoek van haar oog gewaar,
ruik, proe, wens sy was daar;
op die plek met die mooi naam:
Al moes Oupa die knie vir ’n Duitser buig.
Ma, toe jy die laaste maal die plaas se naam uitspreek,
het ons die hek gesluit.
Die plek wat ’n bouval geword het,
lê ver buite ons bereik.
© Celesté Fritze, 2025
Mooi, Celeste!
Soooo mooi beskryf!!!