Altyd Lig
Maggie Laubser
‘n Skildery onvoltooid
gevind met jou afsterwe op 17 Mei 1973.
In ons huis in die yskoue Standerton
hang prente en sketse: van my vader,
van jou suster Hannah en sélfs dubbelportrette.
Op die vele ongeraamdes krabbeltjies agterop.
Ma weier om hierdie skilderye “te leen” veel,
veel later vir ‘n historiese oorsig oor jou kunslewe.
Maar dis daardie selfportret uit 1928
wat meer verklap, verraai as dalk bedoeld?
Hoe jy verminder is deur die kunskritiek,
jou ma wat meen jy sing aaklig, boonop (volgens haar)
onaanskoulik; in die koue Ermelo word jy ‘n goewernante …
Die plaas bemaak aan jou broer span tog die kroon.
Hierdie huldeblyk voltooi nou stamelend stotterend
daardie laaste een én hef alle derisie op finaal:
altyd lig ja altyd immer verwarm jou werk my lewe.
© Joan Hambidge, 2025
Groots.