I
Eveleen Castelyn se debuut in 1978 Tussen hemel en aarde is indertyd met die Eugène Marais-prys bekroon. Daar is ook Menslikerwys gesproke (1984) en Minder as die engele (1990). In 1999 verskyn Castelyn se bundel Kubermens.
Die eenvoud van haar gedigte met ‘n praattrant is opvallend met dikwels ‘n ironiese wending of verhulde betekenis.
Kubermens is ‘n besondere bundel met gedigte geskryf in ‘n Oosterse aanslag.
Ons vind hier tankas (oftewel waka of uta gedigte) of die sogenaamde Japannese liriek, bestaande uit 31 sillabes in reëls van 5,7,5,7,7 sillabes.
Die soort gedig handel oor die natuur, die liefde, gelukwensing of verdriet.
die maan is aandblom
blink satyn op swart fluweel
die nag se juweel
skitter aan die hemeldak
môre bleek gebleikte blom
(62)
In hierdie gedig sien die leser die transformasie van die maan: van blink satyn op swart fluweel (die nag se juweel) wat skitter aan die hemeldak. ‘n Mens voel ook asof daar ‘n partytjie is waar alles blink. Die maan word metafories gesien as die nag se juweel. Maar die volgende dag helaas, is dit ‘n bleek gebleikte blom.
In vyf reëls word soveel assosiasies opgeroep.
Boerneef onder andere:
‘n Aandblom is ‘n wit blom
aandblom is my bloedrooi vers
hartblom is my meisiekind
ek en sy by die opsitkers
blommetjie vergeet my nie
blommetjie gedenk aan my
https://www.dbnl.org/tekst/_jaa003197201_01/_jaa003197201_01_0017.php Besoek 14 Junie 2025
In 1978 verskyn Aucamp se Blommetjie gedenk aan my met die sub-titel: Verspreide prosatekste. So aktiveer Hennie Aucamp die hele kwessie van “onthou / vergeet” in die titel.
Boerneef se pragvers gee die verloop van ‘n liefdesverhouding weer. Van passie tot die hoop dat die geliefde aan hom sal bly dink? Die eenvoudige, bykans Oosterse aanslag is eweneens opvallend. Aandblom tot hartblom. ‘n Opsitkers brand uit (die kortstondigheid van die passie) tot een wat altyd (mag) vergeet. En dan hierdie gedig waarin sy herdenk word.
En hier sing Laurinda Hofmeyr Gisteraand om dusketyd:
https://www.youtube.com/watch?v=YADMTXLLXK0 Besoek 14 Junie 2025
Dusketyd (skemer).
In Kubermens staan hierdie gedig:
Begin van ‘n dag
die maan sit laag
voor die agterdeur
soos winterverdriet
in ‘n boom swaai
‘n sjinese lantern
aan ‘n dun swart riet
die dag begin bibberend
in my kamerjapon: roosterbrood
en tee bitter marmelade
verkluimde lemoen
soos ‘n liefdesballade
soet op my tong
die wildepiesang-smaak
van jou gulsige soen
(40)
Die maan word vergelyk met winterverdriet en in ‘n boom swaai ‘n sjinese lantern aan ‘n dun swart riet. Alles is bibberend en die marmelade is bitter met ‘n verkluimde lemoen (personifikasie). Dan word daar hartstog geïmpliseer deur die wildepiesang-smaak (dalk orale seks?)
In Sjina simboliseer die rooi lantern ook geluk en voorspoed. In hierdie gedig is die lantern ‘n aanwysing van die liefdesgeluk. Dit gaan so ver terug as die Han dinastie (206 VC – 220 NC) wat gedurende feestelikhede te siene is.
II
Met ‘n besoek aan Sjina was die Groot Muur vir hierdie leser ‘n oorrompelende ervaring. Geplaas teenoor die delikate gedigte wat in jou kamer te vinde is in boekies. Bykans soos ‘n GideonsBybel.
In die bundel Meditasies (met ‘n reis-om-die-aarde) loop ek om die hotel en ontdek ‘n dorpie met mense wat bier drink en ofskoon ons nie mekaar se taal begryp nie, raak ‘n oumatjie aan my arm en wys haar kleinkind vir my. Dis warm. Ek koop ‘n bier vir die oubasie langs my, terwyl sy vroutjie vee voor hulle kaia. Uit haar stemtoon kan ek hoor hy word geskel.
Hy bly glimlag en staan eers op wanneer hulle dogter met haar fiets voor die deur stop.
1 Tafereel
‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip.
‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,
in hierdie digterlike tuin.
Joan Hambidge
Kaapstad
14 Junie 2025
Bronne:
Aucamp, Hennie. 1978. Blommetjie gedenk aan my. Kaapstad: Tafelberg.
Castelyn, Eveleen. 1999. Kubermens. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, Joan. 2014. Meditasies. Kaapstad: Human & Rousseau.
