Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 July 2025

Resensie: “Skulpkrale: Kwatryne” (Marié Heese)

 

 

Resensie: Skulpkrale: Kwatryne deur Marié Heese. Turksvy Publikasies, 2025

Resensent: Marlies Taljard

 

Marié Heese het in ʼn skrywershuis grootgeword. Sy is die dogter van die bekende Afrikaanse skryfster Audrey Blignault en haar man Andries. Heese is ʼn bekende skrywer wat reeds heelwat gepubliseer het  – sowel in Afrikaans as in Engels – en wat verskeie genres in haar skrywersloopbaan bemeester het. Twee van haar bekendste boeke is beslis Die uurwerk kantel (1976) en die kinderboek Die Pikkewouters van Amper-Stamperland (1974).

In die ou, 1992-uitgawe van Literêre Terme en Teorieë skryf A.P. Grové oor die kwatryn as literêre artefak dat dit ʼn vierreëlige, rymende of nie-rymende eenheid is wat soms as deel van ʼn langer gedig soos ʼn sonnet kan voorkom, maar wanneer dit alleen staan, ʼn gedig in eie reg is. So ʼn gedig het dan die eienskap dat dit “ʼn ernstige, streng omskryfbare literêre vorm [is] wat emosioneel en tegnies ʼn afsonderlike geheel vorm en op sy beste ʼn bepaalde lewenshouding of -aanvoeling op pakkende, pregnante, epigrammatiese wyse tot uitdrukking bring.”

In Afrikaans is daar talle digters wie se kwatryne legendariese status geniet. Dink aan Hennie Aucamp, Johann de Lange, Daniel Hugo, Elisabeth Eybers, Uys Krige, Ina Rousseau, Ernst van Heerden, I.D. Du Plessis en ander. Ten dié agtergrond kan mens Marié Heese se bundel Skulpkrale: Kwatryne beoordeel.

Besprekings van die kwatryn as digterlike vorm fokus dikwels heel eerste op die vorm wat die 11de-euse digter Omar Khajjam gebruik het: twee strofes in vyfvoetige jambes met die rymskema aaba. (Heese gebruik dit selde indien ooit.) Dit word deur baie kritici as die ideale vorm vir die kwatryn beskou. Natuurlik is talryke alternatiewe moontlik wat eweneens deur groot digters vervolmaak is. In die verkeerde hande kan ʼn  bundel wat net uit kwatryne bestaan egter maklik vervelig raak.

Om nou by Marié Heese se bundel uit te kom. Heese se gedigte voldoen meestal aan die algemene vereiste dat kwatryne ʼn universele waarheid uitdruk in ʼn beknopte maar skerp styl –  by haar dikwels deur middel van ironie. Haar kwatryne herinner my dikwels aan ʼn kompetisie waaraan ek lank gelede deelgeneem het: Skryf ʼn storie in 9 woorde. Die volgende gedig ter illustrasie:

 

Drenkeling, Middellandse See

 

Sy ma’t sy kleertjies vir die boot gepak.

(Miskien moet hulle hof toe bietjie later?)

Dus was hy bitter netjies aangetrek

toe hy Charon ontmoet onder die water.

(p. 15)

 

Praat van ʼn “pregnante” gedig! In hierdie gedig word ou bekende simbole en gegewens uit ʼn antieke mite soos die boot, die bootreis en die water nuut en skreiend ironies gerangskik en verpak om kommentaar te lewer op ‘n moderne dilemma, dié van immigrante-bote met desperate vlugtelinge oorlaai wat die Middellandse See oorsteek. Dit is die afgelope jare ʼn situasie wat al meer in ʼn politieke lig beskou word, maar die mens dikwels buite rekening laat.

Die bundel Skulpkrale bevat 56 kwatryne wat deurgaans keurig en met sorg afgewerk is. Soos van ʼn ervare skrywer verwag kan word, tél Heese haar lettergrepe en gebruik sy volrym in verskillende skemas as addisionele betekenisdraende element. Haar selfbeheersing blyk onder andere daaruit dat sy verskillende vorme van die kwatryn konsekwent en sonder sogenaamde “digterlike vryheid” bemeester.

Heese verdeel haar bundel in 8 onderafdelings en hou telkens streng by die verskillende temas, tewete “Nuusberigte”, “Reise”, “Argeologie”, “Omgewing”, “Moederliefde”, “Troeteldiere”, “Boeke” en “Ouerwordend”. Soms het ek gevind dat dié streng dissipline die digter verhoed om ʼn tema in groter diepte te ontgin. By geleentheid verstom die reikwydte van ʼn gekose tema egter, byvoorbeeld in sommige van die liefdesgedigte in die laaste afdeling, soos “Telepatie” (p. 76)

 

Reeds sestig jaar getroud kan hy

haar maklik lees sonder ʼn bril

kan hy sonder ʼn winkeloor

haar hoor as sy geluidloos gil.

 

Ongeag die verskillende temas, skemer menslikheid en deernis met individue in al die afdelings deur. Die laaste afdeling sou met reg as tipiese laatwerk beskou kon word. “Laatwerk” is ʼn term wat verband hou met Theodor W. Adorno se term “Spätstil” soos hy dit van toepassing maak in sy ontleding van werke uit Beethoven se laaste periode teen die einde van sy lewe. Hy verwys veral na ʼn intense bewustheid van sterflikheid. Fokus op die dood, ouderdom, gesondheid, psigiese toestand en sosiale betrokkenheid word ook dikwels onder die term “laatwerk” verstaan. Die afdeling “Ouerwordend” is die langste afdeling in die bundel en ʼn mens sou met reg kon beweer dat elke gedig in dié afdeling tipiese laatwerk is. Terugflitse na die digter se jeug, verlies aan alledaagse vaardighede, gehoorverlies, verlies aan beweeglikheid, slapeloosheid, die gevoel van hulpeloosheid en besinning oor die naderende dood en spirituele besinning vorm deel van die aanbod in dié afdeling. Ek haal die slotgedig (p. 88) ter illustrasie aan wat ʼn toespeling is op Levitikus 16:10 in die Bybel:

 

Sondebok

 

Ek wens dat ons ʼn sondebok kon kry

op wie se kromgetrekte rug ons pyn

en lyding oor kon pak. Weg, weg in die woestyn –

en laat ons agter, pynloos, jonk en vry.

 

Let hier op die funksie van die enjambement en die aandagstreep, asook die alliterasie van harde konsonante as addisionele betekenisdraende elemente in die gedig.

Skulpkrale is ʼn waardige toevoeging tot die oeuvre van Marié Heese. Hoewel dit sy gebreke mag hê, is hierdie bundel ‘n voorbeeld van toewyding aan enkelgedigte wat deurgaans fyn afgewerk en beplan is. Die digter gee nie toe aan oorhaastige afwerking wat lei tot vormgebreke of ondeurdagte woordkeuse nie. Dit is ʼn bundel wat as voorbeeld kan dien vir onervare digters wat té dikwels té haastig is om te publiseer. My indruk is dat hierdie bundel spreek tot ʼn groot gehoor en nie slegs tot sogenaamde “literêre” lesers nie. Enige leser sal met die gedigte in hierdie bundel kan identifiseer. Baie geluk met ʼn puik publikasie.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Nuwe publikasie. Nogmaals vir die bysiende leser (Joan Hambidge & Marlies Taljard, Reds.)
Nuwe publikasie: Twee overzijden. Vraaggesprekken op de literaire brug tussen Afrikaans en Nederlands (Yves T’Sjoen) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Anne-Marie Bartie. kapitulasie

Nuutste bydraes

  • johan swanepoel. bloudruk
  • Resensie: “Boei” (Jean Meiring)
  • Christa Kleynhans. Omgekeerde Borduurwerk
  • Christa Kleynhans. Oggend inventaris
  • Miel Vanstreels. Weer eens

Nuutste kommentaar

  1. Dewald Koen on Resensie: Vers & Kapittel III (Daniel Hugo)14 October 2026

    Dankie, Joan. Ja, Daniel se kennis is inderdaad verbysterend.

  2. Joan Hambidge on Vertaling: Marc Tritsmans “Hoe ik het wil zeggen”. Vert. Daniel Hugo14 October 2026

    Puik vertaling.

  3. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie vir jou saamlees en kommentaar Gert

  4. Anzé Bezuidenhout on Pierce van Tonder. my vuurvliegie-gedagtes12 October 2026

    Absoluut tasbaar en puik gedoen!!

  5. Anzé Bezuidenhout on Anzé Bezuidenhout. Versteende onthou12 October 2026

    Baie dankie Versindaba vir die plasing en blootstelling

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d