Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 July 202529 August 2025

Resensie: “4.15 And steady rain” (Tony Ullyatt)

Resensie: 4.15 and steady rain: The envelope sonnets deur Tony Ullyatt. Chinkoa Press, 2025

Resensent: Marlies Taljard

 

ʼn Week gelede ontvang ek ʼn dun bundel van my ou vriend Tony Ullyatt: 4.15 and steady rain: The envelope sonnets. Die bundel bevat slegs 11 gedigte en ʼn Inleiding. Ook ʼn soort verklarende naskrif:

 

the morning begins

4.15 and steady rain

I write this for you

 

Die bundel met sy 11 gedigte is ikonies van die sogenaamde “curtailed sonnet” of verkorte sonnet wat deur Gerard Manley Hopkins bekend gemaak is. Die Hopkins-sonnette bestaan gewoonlik uit 11 reëls met ‘n vaste rymskema in plaas van die tradisionele 14, maar behou die verhouding van die Petrarcaanse sonnet wat uit ʼn oktaaf en ʼn sestet bestaan. Die oktaaf word by Hopkins meestal gereduseer tot twee tersines en die sestet tot ʼn kwintet. ʼn Kenmerkende eienskap is die halwe slotreël as ʼn soort stert-reël. Ullyatt gaan losser met dié vorm om. Die meeste van sy 11 rymlose sonnette bestaan uit ʼn kwintet en ʼn sestet waarvan die slotreël ʼn halwe reël is. Sy sonnette is wel geskoei op die inherente vorm van beeld en toepassing wat die Petrarcaanse sonnet kenmerk.

In die Inleiding skryf Tracy Bauer Terblanche dat die sonnette by haar aangekom het in koeverte met haar naam op. Sy skryf: “Within these pages, you’ll find explorations of love, loss, identity, and the search for meaning in an often chaotic world … These poems are a reflection of the world we live in – imperfect, beautiful, and ever-changing.”

Die gedigte is intens persoonlik, maar bevat gelyktydig universele waarhede. Die digter is aan die einde van sy lewe en kyk terugskouend én vooruitskouend na die daaglikse bestaan deur die lens van verganklikheid. Na my mening is hierdie van die mees aangrypende laatwerk wat onlangs verskyn het. Dit verwoord sowel verlies as hoop; verganklikheid én durende waardes. Dit verken die landskap van ʼn lewe wat geleef is met die volle bewussyn van die dood; versoening van verlede en hede in die hoop op dieper begrip en berusting is ʼn deurlopende tema:

 

2

 

As I look back over most of a lifetime

I often wonder how I got to this age

and, ever more bewildered, I wonder why.

If much of our life’s hurt belongs to the past

why is it so hard to leave it all behind?

Regret can’t rectify those years nor should it

be allowed to meddle with what we have now.

We become what we’ve learnt from experience.

While dawn rouses new unpredictable days

every dusk draws the present into the past.

Now is all we have.

(p. 12)

 

Adorno se bespreking van werke uit Beethoven se laaste periode wat hy ook “Spätstil” of “Altersstil” noem, het aanleiding gegee tot studies oor laatwerk in die letterkunde. Volgens Adorno is die mees prominente kenmerk van Beethoven se latere styl nie dat hy met die tradisionele vorm (die sonate-vorm) breek nie, maar dat hy dit radikaal verander. Ons sien ook by Ullyatt dat hy hier die tradisionele sonnetvorm gebruik, maar breek met die konvensie, soos ek hierbo aangedui het.

Een van die mees prominente aspekte van laatwerk is dat dit dikwels meer persoonlik is en dat die ek-vorm dikwels gebruik word. Sou die biografiese besonderhede van die digter bekend wees, is dit ook dikwels voor die hand liggend dat die digter oor “homself” skryf. Ook in die 11 sonnette in die tersaaklike bundel word die ek/ons-vorm byna deurgaans gebruik en word ervaringe rou en emosioneel beskryf, hoewel nooit stroperig nie. Die digter bly, ten spyte van die feit dat die leser die gedigte lees as persoonlike insigte en ervarings, steeds in beheer van sy vorm en sy emosies. Eksistensiële vrae, veral ten opsigte van die kompleksiteit van die lewe, bly hom kwel, maar op tipies Boeddhistiese wyse leef hy in die oomblik:

 

I learnt to be vulnerable, knowing risks

had reasons that experience would explain.

Now decades later, what is is the delight

of being here with you. There is no question.

It was meant to be.

(p. 15)

 

Liggaamlike verval, gesondheidsprobleme en gepaardgaande afname in kragte, sowel as ʼn akute bewussyn van vervlietende tyd word telkens in verskeie gedigte verwoord:

 

Although we’re scarred and battered now, we’ve learnt

to live and love despite those who hurt us

in whatever ways at different times.

(p. 17)

 

Sonnet 8 som die essensie van ouderdom en laatwerk op:

 

8

 

We do not mourn midnight and day’s passing

into yesterday, though our past lengthens

as our future shrinks with every nightfall.

But we can begin to understand why

old people reminisce so frequently:

their past’s stocked with memories, their future

curtailed. Our most precious currency

is time. I’ve never wanted to rush through

my life like an impatient tourist. And now

I have you making each day beautiful.

We hurry slowly.

(p. 18)

 

Die Leitmotiv in hierdie bundel is egter nie liggaamlike of geestelike aftakeling of die oudwordproses self nie, maar liefde tussen bejaardes – nie as emosionele opstuwing nie, maar as stil genade:

 

Despite everything we’ve had to go through

what we share now is sublime tenderness.

(p. 21)

 

Hierdie bundel bewys dat selfs ʼn bundel met 11 gedigte ʼn mens diep kan raak, dat dit gaan om die estetiese kwaliteit en nié om die hoeveelheid gedigte wat opgeneem word nie. Die refleksiewe, eerlike aard van die gedigte tref die leser, sowel as die intensiewe sorg wat aan elke enkele gedig bestee word – elke lettergreep, elke leesteken, elke reëleinde is beplan en sinvol. Dit was nog altyd my mening dat ʼn digter eers die klassieke vorme moet bemeester alvorens vrye vorme en variasies op dié vorme aangedurf kan word. Tony Ullyatt se bundel is ʼn voorbeeld van hoe suksesvolle digters met sowel klassieke vorme as met variasies omgaan. Jong en debuterende digters kan veel leer deur hierdie 11 gedigte intensief te ontleed. Dit is ʼn bundel wat ek ten sterkste aanbeveel aan elke poësieleser.

Bestel die bundel by www.beesbook.co.za

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Nuwe publikasie: Twee overzijden. Vraaggesprekken op de literaire brug tussen Afrikaans en Nederlands (Yves T’Sjoen)
Joan Hambidge. Bakhtin en Wilgenhof →

1e kommentaar op “Resensie: “4.15 And steady rain” (Tony Ullyatt)”

  1. Joan Hambidge says:
    22 July 2025 at 21:14

    Tony Ullyatt is ‘n wonderbaarlike digter. Tegnies afgerond tot in die laaste vesel. Nog altyd sy werk as digter en vertaler waardeer.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. George Steiner, “On Difficulty”
  • Carina van der Walt. Madeleine en Marianne (uit “Paryse Dagboek”)
  • 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)
  • Marthé McLoud. Een aand op straat
  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  2. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  4. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

  5. Bernard Odendaal on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk13 January 2026

    “Lostorring” het my ewe diep getref, Joan.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d