sy Antinoüs
ek roep
Erato
waar ek staan op die skuit
die donker rivier die langs my
voete roer
ek fluister
aan haar
onder die nuwemaan kolk
die donker onder my
lyf vervalle
ek voel
die ril
van hare my dye bene bors
die donker oor my
vel sprei
ek hoor
die prins
se woorde die wolke wat die son
verdonker sy
oë sku
in Bitinië is ek na hom ontbied
ons asem digby mekaar
hoe sag hy sy voorkop rus
teen my onderbuik
ek bloei nou ’n man my
skouers breed my kaak geset
ek voel sy hand terugtrek
van stoppels teen sy palms
eerste is hy onder alle mense
maar ek ken
die prins
die reuk van sy vel sy hare
die span van sy arms sy vlyt
ek roep
Erato
laat hulle nie my derms ryg soos
die donker oewermodder die aan my
hare kleef
in die Nyl val
ons asems weg
die stoppels van my wange
is ek vir altyd
sy
Antinoüs
© Reinhardt Fourie, 2025

Edle Einfalt, stille Grösse.
‘n Meesterlike gedig.