Elvis bly op Niekerkshoop
Op dertien ontmoet ek ‘n sendelingkind
vars ingeboek in ons skoolkoshuis.
Twee jaar later trek sy huis toe – haar pa
nou predikant op Niekerkshoop, ’n onbeminde
spikkeldorpie met ’n skraapsel inwoners.
Juniemaand gaan kuier ek per trein met my blou
koffer vol klere en ’n doos sjokolade vir die ouers,
maar gedurende die nag verdwyn die tas
soos ’n vermiste kind uit die kompartement:
per abuis met die afklim deur ’n handvol niggies gegryp.
Op De Aar-stasie klim ek sonder klere af.
Pep Stores en my vriendin se klerekas moet “maak pas.”
Verwonderd reis ek per huisbesoek saam na plase,
leer ek kwepers ken en vet as botter op gebakte brood
terwyl die Woord sag in geploegde lande val.
Die boere se nagmaal tuishuisies staan in ’n ry
en ons stofvoet daar verby as ons smiddae
vir afleiding deur die dorpie stap. Vir die eerste keer
merk ek bordjies met Blank en Nie-blank
by die ingange van die poskantoor op.
Ses-en-twintig jaar later sing die Zinkplaat-band:
“Elvis bly in Niekerkshoop en ek sien hom saans
deur die strate loop” en ek wonder of hy ook
die boere besoek en smiddae met sy blue suede shoes
’n stofwolk onder die peperbome dans.
© Marthé McLoud, 2025
