Engtevreesavonture
So hang ek aan sy lippe terwyl hy
my van sy engtevreeservaring
tydens sy weermagopleiding vertel:
“Full kit” kruip hulle deur ’n sementpyp
terwyl die peleton agter hom hom teen die gesette
vasgevangde vent voor hom druk.
Hy sit vas soos in ’n verstopte drein totdat paniek
inskop en hy sy R1-geweer se loop soos ’n vuurpyl
in die voorste troep se sagte boudvleis lanseer.
Dié aksie dring soos ’n gul dosis Boraks
deur die verstopping en skielik vloei hulle
amper vinniger as water deur die pyp.
Jare later pas hy selfterapie toe:
In die Kangogrotte gaan hy op ’n watertonnel-
toer die spasie vir asemhaal plek-plek
amper so dun soos ’n afvoerpyp.
Hierdie selftoegediende dosis
het sy hardnekkige engtevrees
soos ’n bakteriële infeksie finaal genees.
© Marthé McLoud, 2025
