
Resensie: Rietspruit deur Johann Lodewyk Marais. Naledi, 2025.
Resensent: Marlies Taljard
Om ʼn nuwe digbundel van Johann Lodewyk Marais in die hand te hou, is vir my altyd ʼn besondere ervaring. Soos die meeste van Marais se 14 ander bundels, is Rietspruit ʼn dunnerige bundel, smaakvol uitgegee deur Naledi. Op die voor- en titelblad pryk ʼn illustrasie wat geïnspireer is deur ʼn foto wat die digter geneem het – ʼn brug oor ʼn spruit met ʼn boom in die voorgrond wat reeds iéts weergee van die belangrikste bundeltemas. Die omslagontwerp is deur Nathan van den Bergh. Sag op die hand en kleurvol op die oog. In die bundel is verskeie sketse van Lynette ten Krooden, soos ook in ander Marais-bundels. Elke gedig ʼn kunswerk, fyn afgerond en op sy plek in ʼn snoer wat die bundel as sinvolle eenheid saambind.
Met inagneming van Marais se indrukwekkende oeuvre, sou mens dalk weer ʼn eko- of spesie-spesifieke bundel verwag. Mens sou nie verkeerd wees nie, maar Rietspruit is veel meer as ʼn eko- of spesiebundel. Dit is veelmeer ʼn bestekopname van ʼn lewe waarin die Rietspruit ʼn belangrike ruimte en plek verteenwoordig. “Ruimte” is veel meer as “plek” – dit is in wese die som van plek, tyd, karakters en belewenis – in die motto-gedig (hieronder) word ook nog ʼn talige ruimte opgeroep. Herinneringe en die outobiografiese inslag is ʼn belangrike tema waardeur die Rietspruit as ruimte beslag kry. Die spruit bind herinneringe uit die digter-spreker se jeug en sy latere lewe aaneen en vorm sodoende ʼn sirkelgang soos dit blyk uit die motto-gedig “Begin” (p. 11):
BEGIN
Wat dryf dié onverwoesbare
na die waters? Kan ek opsom?
Die ink vir hierdie gedigte
kom uit jou are en my hand.
Sweet en bloed van ʼn visserman
is oor dié bladsye gesmeer,
skubbe lê om my uitgesprei
en ʼn vis se oog het gebreek.
Hierdie gedig illustreer die boeiende aspek van retrospektiewe tyd as sirkelvorming: daar word enersyds deur fyn suggestie vanuit ʼn tyd in die hede waar skubbe om die spreker uitgesprei lê teruggekyk na die begin. Aspekte van die verlede word na die hede teruggetrek om kleiner “sirkels” te vorm. Hierdeur word die idee van tydprogressie of sintagmatiese tydsverloop ondermyn, soos ons dit telkemale in hierdie bundel aantref. Dit beteken ook dat tydsbelewenis verdig word deur die hede te “laai” met aspekte van die verlede. Tydsverdigting op ʼn makroskaal word beskryf in “deep time” (p. 16) waarin die digter die geografiese prosesse wat miljoene jare gelede plaasgevind het vanuit die moderne tyd en met moderne insigte beskryf. Die gedig “Aandete” (p. 37) illustreer die konsep tydsverdigting perfek deurdat die vis uit die Rietspruit as’t ware die dooies (waarskynlik in portrette teen die muur, onder andere) oproep:
AANDETE
Uit Rietspruit hier op die tafel
tussen groente uit die tuin
lê die groot geelvis blinkoog
soos ʼn verskietende ster
in die aangesig van die dooies.
Uit hierdie gedig blyk ook interaksie van ruimte en karakter sodat die ruimte van die Rietspruit uiteindelik ʼn soort verlengstuk van die spreker (en hier sy uitgebreide familie) word. Veral die verhouding van die digter-spreker met die vader kom in gedig na gedig in die eerste bundelafdeling uit die verf waarin visvang, die Rietspruit en herinneringe aan die vader vervleg word. Dié afdeling word ook opgedra aan die digter se vader, Hendrik Salomon Marais (1916 – 1970). In die teken van afskeidname staan veral twee gedigte uit, naamlik “Vadersdag” (p. 41) en “Die laaste dag” (p. 45). In eersgenoemde gedig wil die spreker se vader ter wille van sy seun gaan visvang omdat hyself daar “geen erg aan” het om meer langs die water te gaan sit en lyn natmaak nie. Die gedig eindig só:
Hy wil ter wille van mý gaan,
maar ek wil ter wille van hóm.
Dié slot spreek boekdele oor die verhouding tussen vader en seun.
Hoe ruimte en die wyse waarop ons mens is en identiteit het intiem op mekaar aangewese is, spreek uit die volgende gedig oor die vader:
DIE LAASTE DAG
Ná die moegheid en die diagnose
vertel Pa hy was alleen Rietspruit toe –
een middag op sy eie gaan visvang.
Dié dag vis gevang of nie gevang nie,
niks daaroor in sy joernaal geskryf nie
en daarna nooit weer vis gaan vang nie –
dalk daar op sy eie vrede gevind.
(p. 45)
Deur verhale van hulle gesamentlike visvangtogte en die ruimte van die Rietspruit wat ook naasliggende ruimtes oproep soos “Charlie en James se Groothoek stores” (p. 31), “Aluwiaalrant” (p. 26), “Dwaalspruit” (onder andere p. 24 & 25) en selfs die Apiesrivier (p. 32) kom ʼn vader-seun-verhouding geleidelik uit die verf, ʼn verhouding wat versigtig emosioneel gelaai word en sterk outobiografiese trekke bevat. Wat belangrik is, is ook hoe ruimte-verwante rituele bydra tot die skryf van ʼn familiegeskiedenis in die kleine. Hoewel die klem op die vader val, kom ander familie en naby vriende ook in verskeie gedigte voor; ambivalensies, rusies, ongemakke, kuiers en reise word verweef met die ruimte van die rivier en die Oos-Vrystaat waar die spreker se wortels veranker is.
Die eerste bundelafdeling, wat ook beduidend langer is as die ander drie afdelings, staan vir my uit as ʼn outobiografie in die kleine soos mens dit in skrywers se laatwerk aantref. Laatwerk verwys nie spesifiek na die ouderdom van ʼn skrywer nie, maar dit is werk waarin die gevoel van afskeidname en refleksie oorheers; die weiering om te vereenvoudig; die ophaal van ongemaklike en komplekse ervarings; die weiering om sluiting af te dwing; die doelbewuste inskryf téén aanvaarde norme.
Die tweede deel van die bundel bevat spesie-spesifieke gedigte oor die rivierkrap, die paddavis, varswatermossel en sewe spesies varswatervis waarin dié spesies se unieke karakteristieke, gedrag en hul verhouding met mense (veral die digter-spreker) ondersoek word. Wanneer daar ʼn nuwe bundel van Marais verskyn, verwag mens reeds gedigte waarin biodiversiteit deur kreatiewe taalgebruik gevier word. Dit is een van die sterkste kenmerke van Marais se digterlike werk.
“Rivierkrap I, Potamonautes sidneyi” (p. 53) is ʼn gedig met verskeie lae. Die digter sluit intertekstueel aan by Ted Hughes wat beweer het die krap is God se enigste speelding; dit verwys terug na die spreker se kleintyd en die “spruit” en hoe hy die krap vang en “aanhou” in ʼn olieblik. Die krap word vir hom ook ʼn speelding tot een knyper afbreek. Die mens se ingesteldheid ten opsigte van nie-menslike lewensvorme word hier geïllustreer: die krap as speelding of wetenskaplike objek wat bestudeer kan word. Sonder enige emosie word berig dat ʼn knyper afgebreek het, soos ʼn pop wat ʼn been verloor. Daarna is die slot oop: Wat het toe met die krap gebeur? Het die spreker toe die krap weggegooi? Of het die fokus toe verskuif vanaf die spelende kind na die krap as lewende wese wat pyn kan voel en vermink kan wees? Die woord “tot” in die slotreël laat mens wonder oor die eersgenoemde opsie.
RIVIERKRAP I
Potamonautes sidneyi
Die krap, sê digter Ted Hughes,
is God se enigste speelding.
By die spruit het ʼn krappie rats
weggeskarrel, maar in my hand
gevang voor hy in die loop glip
en huis toe gebring, lank beskou
en in ʼn oopgesnyde olieblik
soos speelgoed van my vertroetel
tot een knyper afgebreek het.
Die laaste gedig in die tweede afdeling is verdeel in sewe onderafdelings wat elk aan ʼn bepaalde visspesie gewy word. In elk van dié sewe vyfreëlige gedigte staan een spesie sentraal, word dit wetenskaplik benoem en besonderhede oor voorkoms en habitat word verstrek. In die gedig “V Baber Barbus barpus” (p. 58) word die baber direk aangespreek en kom daar sodoende ʼn verhouding tussen die spreker en die vis tot stand. Deur enkelspesies te beskryf word die aandag gevestig op die ontsaglike verskeidenheid spesies wat deel van ons bestaan op aarde uitmaak. Waardering vir die spesies waarmee ons die aarde deel en empatie met lewende wesens word deur spesie-spesifieke gedigte aangemoedig. Ek dink hier ook spesifiek aan nie-poëtiese werke van Marais, soos sy kultuurgeskiedenis oor Mont Pelaan, Verkykerskop en Swinburn, asook sy geskiedenis van die Platberg naby Harrismith waarin hy in besonderhede skryf oor die geologie, plantspesies en diere wat in dié streek voorkom.
In Afdeling III word visvangplekke en -ekspedisies van weleer herbesoek in ʼn soort reis die verlede in. Herinneringe, verlange en selfs iets van ʼn spirituele reis kenmerk hierdie afdeling. Die opnoem van plekname, riviername, die name van spesies word ʼn inkantasie waardeur die verlede na die hede opgeroep word, ʼn ruimte waarin rus en berusting opgesluit mag lê:
LAKENVLEI
Vannag is daar ʼn ritseling
by die dekriet en papirus
waar ʼn forel sonder einde
in die maan- en sterrelig
helder in die dam plas en plons
en ons wonder hoe groot en waar
hy is, onder ruimtes omspan,
wat hier volvoerde rus kom vind.
(p. 68)
Die bundel eindig met een van Marais se mooiste gedigte, “Maan” (p. 75), ʼn gedig waarin argetipiese beelde opgeroep word in ʼn ode aan die maan. So eindig die gedig:
O sielsgenoot, o tydige werpsel
in die groot hemelruim en ewigheid,
laat jou lig skyn oor ons wat iewers is
al trek jy al ons stille waters skeef.
Rietspruit is vir my een van Johann Lodewyk Marais se beste bundels, ofskoon mens byna te bang is om te kies. Die klem op visse in hierdie bundel skakel met temas van transformasie, spirituele reise, selfrefleksie, empatie en die sikliese aard van die lewe. Hoewel die gedigte oënskynlik eenvoudig is, lê daar veel diepte, emosie en selfs simboliek onder die oppervlakte. Enkelgedigte skakel onderling met mekaar, maar praat ook terug met ander digters en tekste. Die fyn spel van suggestie, spot en ironie, die kyk ónder die oppervlak in, die afstandelike blik van die wetenskaplike en die deernis van ʼn wyse siel kenmerk dié pragtige bundel.

Dankie Nini!
Baie geluk aan die digter en resensent met enersyds ‘n puik bundel; andersyds ‘n knap geskrewe resensie.