
Resensie: alles van waarde is weerloos deur Melanie Grobler. Naledi, 2025.
Resensent: Marlies Taljard
alles van waarde is weerloos
wordt van aanraakbaarheid rijk
en aan alles gelijk
Uit hierdie bekende strofe uit Lucebert se “De zeer oude zingt” neem Melanie Grobler die titel van haar vyfde digbundel alles van waarde is weerloos wat pas by Naledi verskyn het. Dit is ’n pragboek met ’n voorbladontwerp deur wyle Christiaan Diedericks – een van sy laastes.
Melanie Grobler is in die Sielkunde en Kunsgeskiedenis geskool. Sy is ’n kenner van Breyten Breytenbach se werk en sy digkuns het ook haar eie skryfwerk beïnvloed. Sy het, volgens Wikipedia, “ongeveer duisend skilderye, tekeninge en installasies van Breytenbach in Parys, Haarlem, Kaapstad, Durban en Pretoria” gedokumenteer. In 2002 behaal sy haar doktorsgraad in Kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif getitel “Against fixity: A hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy”. Haar kennis van Kunsgeskiedenis en Sielkunde kenmerk haar styl en tematiek sedert haar debuut, maar veral vanaf Die Waterbreker wat sterk op Jungiaanse konsepte geskoei is. Soeke na identiteit en die ontginning van die onbewuste is sterk in haar werk teenwoordig. Dieselfde sien ons ook in alles van waarde is weerloos.
Die bundel bevat 46 deeglik afgewerkte gedigte. Wat hierdie leser beïndruk het, is dat die digter inderdaad gehou het by die skrywersmotto “kill your darlings” en – omdat die gedigte in styl en inhoud baie na aan mekaar lê – slegs ʼn beperkte aantal gedigte in die bundel opgeneem het. Dit is die werkwyse van ’n digter wat weet (om maar die cliché te gebruik) dat minder eintlik méér is en dat ’n ooraanbod maklik lei tot verveling by lesers en dikwels ook tot ’n middelmatige of swak bundel. Uiteindelik het die keuse van gedigte tot ’n gebalanseerde tema-bundel met sterk kohesie- en koherensiekragte gelei.
Die bundel as geheel is ’n lament, ʼn elegie aan die digter se gestorwe eggenoot. Die dood en doodsbegeleiding figureer sterk in gedigte wat ryk is aan simboliek en deur aspekte soos fokus op klank en kleur, asook die problematisering en ondermyning van sintagmatiese, logiese taalstrukture die onderbewuste en die liminale ruimtes oproep. ’n Sirkelgang – simbolies van die konsep lewe-dood – word gesuggereer deur die openingsgedig, “Wie’s bang vir Hester Harov” uit Grobler se debuutbundel, Tye en swye in die lewe van Hester H en gedig nommer 44 aan die einde van die bundel wat dié titel dra en waarin die digter se volle oeuvre opgeroep word – iets wat dui op afgeslotenheid en volledigheid. Dit gaan in hierdie bundel sowel om die eggenoot wat haar ontval het, as om ’n aspek van die digtersidentiteit en die einde van ’n lewensfase.
Besinning oor die aard van sterf en dood-wees kom deurgaans voor, veral vervleg met aspekte van landskap en tyd, soos in gedig 2:
Die begin van ewigheid sal soos ʼn dag in Oktober wees
geen lyn tussen Hangklip, Waterblom en die Hemel nie
die profiel van ʼn peerboom sal skuil in jou oë
seeskilpaaie sal uitspoel op die strand: ek slaap oop-oë
toe jy wegglip oor tydlose waters.
(p. 10)
Hierdie gedig bevat belangrike DNS van die bundel met simbole wat gereeld herhaal word: die plekke Hangklip en Waterblom; die peerboom; die seeskilpaaie wat uitspoel en veral die water wat sowel vernietiging en chaos as reinheid en suiwering simboliseer.
Stilte is een van die belangrikste simbole in die bundel: die stilte van denke, die dood, van eensaamheid en van heling. Verwysings daarna kom in gedig na gedig voor:
My man, ek dink aan jou
sluit my oë voor die stilte van jou denke
die kerslig flikker en gee
betekenis aan die donker stilte
(p. 16)
En ook in die slot van die bundel:
Hoe sal ons ooit oor die stilte kom?
(p. 51)
Die sterfteproses (dié uitéindelike Stilte) as iets heiligs word in een van die aangrypendste gedigte in die bundel verwoord:
24
Heilig, om die vuil lappe tussen jou bene, badkamer toe te neem
om jou vuil lyf en lakens af te spuit op die groen grasperk
toe die noordwester bebloede kussingslope van die draad afruk
toe jy jou grysgestreepte sterfpajamas kies.
Heilig, die purper flanelkombersie om jou sterwende lyf
Heilig, die wit kussings wat die meisiekind lig
Heilig, die sussie wat die heilige slukkie water na sy lippe bring,
Sterfbed is leeg, die droewe suidooster vergesel
die tenger prosessie deur die fynbospaadjies
die skraal weduwee, haar drie kinders
oorkom deur seestrome van ʼn reuse brander uit die ooste.
Ek en my kinders vlug die toekoms in maar die gedig
spartel op die bitter rotse, vandag môre en die wigheid
dit was Boeta wat in Pa se oor gefluister het
“Staan op en gaan, anders bly jy hier vir altyd.”
(p. 32)
Hier spreek die digter die mees abjekte element, naamlik die dood en sterfte, dapper aan as deel van die rou- en herstelproses soos Kristeva voorstel. Die slotreël resoneer met Jesus se bevel aan Lasarus om uit die dood op te staan in Johannes 11, maar – ironies – is dit hier ʼn oproep aan die lewende wat in ʼn liminale ruimte tussen lewe en dood verkeer, om die drempel van die dood oor te steek (waar hy ʼn nuwe identiteit sal hê – aldus Van Gennep). Treffend is dat juis in hierdie gedig die skryfproses met sterfte in verband gebring word. Deur verwysing na Lasarus sou mens die skryf van gedigte waarskynlik hier as vernuwing en suiwering kon lees, as opstanding uit ʼn metaforiese dood. Antjie Krog se bekende “skryfode” resoneer sterk in dié reëls (Kleur kom nooit alleen nie, Kwela, 2000).
Opvallend van die bundel as geheel is die herhalende temas, simbole, metafore en frases as deel van ʼn deurlopende (self)gesprek. Sodoende word logika en sintagmatiese verloop doelbewus ondermyn en word die gesprek geplaas in die ruimte van Jungiaanse “logika”. Dit behels ‘n raamwerk waarbinne die “self” verstaan kan word (ook “individuasie” genoem) wat sowel rasionele as irrasionele elemente integreer en die psige se behoefte aan heelheid bo suiwer logiese of bewuste denke prioritiseer. In dié opsig sou ek dan wil aanvoer dat die bundel eweneens die soeke na selfbegrip, suiwering en heelwording as tema het – ʼn proses wat geaktiveer is deur die dood van ʼn geliefde.
Benewens gedigte van die donker en die skadu, bevat die bundel alles van waarde is weerloos ook pragtige liefdesverse, soos in die gedig wat ek hieronder aanhaal:
42
Wanneer wit gordyne lui-lui deur die bries gevee word
sal hy die ruimte tussen sy arms oopmaak
om haar skraal lyf teen syne te druk
om die weerlose soetheid tussen haar lende te verken
sagte onderarmvelletjies afdop
soos ʼn geskilde nartjie sal hy die misterie
van die liefplek ontsyfer
om haar te soen is die bewus word
van die opkoms van die môreson
(p. 50)
Die bundel alles van waarde is weerloos is op teoretiese vlak ʼn komplekse bundel. Die gedigte kan egter ook sonder begeleidende teorie gelees word en dan is dit eenvoudige gedigte wat spreek tot enige iemand wat al verlies en pyn ervaar het. Die digter se Afrikaanse taalgebruik is verbluffend en ryk, emosioneel gelaai, en metafoorryk. Haar werk is deurdrenk met verwysings na ander digters en denkers plaaslik en wêreldwyd. Die landskappe wat sy oproep is eksoties én bekend – ook die landskappe van die gees wat sy nie huiwer om te verken nie. Hier is ʼn boek wat in jou boekrak hoort!
