Ars melancholiae
Wilhelm Jordaan en JdL
Wie die wind bly dophou, saai nie,
wie na die wolke bly kyk, oes nie.
Prediker 11: 4
In die knoeiboel van my solobestaan,
is selfbejammering geen uitweg meer.
In hierdie dae vol van vertrek en afskeid
met nog ‘n vriend, wat sterf ná twaalf,
in daardie kil oorgang van dag na nag.
Op hierdie Sondagse winter, in sy uitvaart,
wonder ek, sal daar iets wees soos kajuitraad
hou oor Totius se die wêreld is ons woning nie?
Mag julle daar tog broederskap ervaar
in ‘n ruimte sonder asemnood of gevaar.
Jy sal hom herken aan sy hare grys, oë vol
lag en lewenswysheid; met ‘n ring liefdevols
om die sirkelgang te sluit. Niks van ‘n koue gril
se deurhuiwering of eikebome se knars of kraak.
Inmiddels vergeet ons van die wolke en die wind.
Die wolke en die wind, ja die wolke en die wind.
© Joan Hambidge, 2025
