I
Vele digters het al met Tristia in gesprek getree. “Groot Ode” bly ‘n baken in ons digkuns.
Hierdie gedig aktiveer Boek IV van Vergilius se Aeneïs. Dido, die koningin van Kartago se liefde vir Aenas en haar wanhoop wanneer hy haar versaak.
Sheila Cussons se antwoord op hierdie gedig wat heet “Dido op hoogte aan Aeneas” in Membraan lui as volg (1984: 48):
Nie jý is dié einde werd nie, Aeneas,
jy wat geen lêplek was nie,
maar ék wat my vuurbed maak
uit brandhout van ‘n eie besetenheid.
Hoekom ‘n holte wees luidend van jou aandag,
‘n omtrek wat ingevul wou word en nie kon raai
hoe alles moet binne- en ineenstort nie?
En jy, hoe gek lyk jy, ‘n driftige suil
met ‘n hele ent bokant waar ‘n hart moes wees
‘n dotjie hoof, soos ‘n onderstebo uitroepteken.
Daar wás dan ten minste ‘n uitroep. Thanks.
Ek is terug in my tale, nie meer van my wysie af nie.
Die dolk het my maklik gevind, soos botter,
en geil bemes ek die vlam, en dit jaag so
dat ek vlot verteer. Geen pyn nie, hoegenaamd.
Daaraan gedink, jý was ‘n pyn, in die nek,
en dié al verkool. Stig jou dinges. Trouens, gaan stik.
‘n Woedende antwoord op die minnaar, Louw wat haar in Tristia verminder én verheilig. Sy is slet, nozem, voyou en heilige. Catullus se “odi et amo”, so bekend aan die liefdesvers: ek haat en ek het lief.
Die liefde wanneer dit verkeerd afloop, het dikwels haat tot gevolg.
Die onderstebo uitroepteken aktiveer uiteraard Spaans. Die unieke tekens: ¿, ¡ …
In “Groot ode” is daar verwysings na tekens.
Cussons se brandongeluk word ook opgeroep in hierdie vers. So sien Johann de Lange haar in Die algebra van nood (2009):
Sheila Cussons: Brief aan ’n skrywer
Ek is ’n baie “lyflike” wese: pure sintuig,
& minder as die puur engele, pure gees,
maar oneindig heerlik veelsydiger verwikkeld
vanweë ons “woord-het-vlees”-gewordheid.
Katoliek wórd, wanneer dit regtig met jou gebeur:
wanneer jy nie net intellektueel
maar geheel-&-al die hele ding ondergáán,
is niks anders nie as ’n herkénning
(’n meteense sién)
van die vir-jou-tot-dusver verborge,
onvermoede, bínne-heid van jouself:
“Anima naturaliter Christiana”.
Dis nie ’n “buite” nie; dis die ontdekking
& bevryding, stort & uitstroom,
van wat die hele tyd “binne” was.
Die siel is wesentlik Christelik. Maar:
het ek dit nie aan lewende lywe ervaar nie,
na my jare van flirteer met alles onder die son!
Augustinus se skroeiende woorde,
daar in die vierde eeu, is die nuutste woorde:
“U het ons harte vir U gemaak, & nooit
sal hulle rus nie tot hulle rus in U”:
Woorde wat ’n wakkerword voorafgaan …
Christus was nie net sommer ’n man nie:
Hy is oneindig iets méér, oneindig iets ánders.
Hy is die Syn waardeur ons stroom
& deur hom stroom ook, by the same token,
al die demone, alle legendes & mites,
hemel & aarde, als van watter menslike
bewussyn daar ooit nog was, is, of sal wees.
Katoliek wees is iets wat as jy wil,
jou sal pel tot die been, sal lei
langs die hardste weë denkbaar (dánkbaar),
óp tot waar die lug te dun vir jou bloot
“natuurlikheid” is, & jou “jy”
verskrompel in vlam, tot jý jóú eindelik
vir die eerste keer werklik sien, hét, próé, ís.
Ek, lawwe lou-warm net-meer-as-mens
haas-onbeskryflike gekompliseerde
chiaroscuro-wese weet dít:
nie uit eie ervaring nie,
maar deur middel van ’n instink,
ouer – én eindeliker – as die wêreld.
In Die algebra van nood word daar ‘n uitvoerige gesprek met Tristia gevoer.
II
Louise Viljoen wys op al die digterlike gesprekke met Louw. https://versindaba.co.za/2011/08/18/louise-viljoen-digterlike-gesprekke-met-np-van-wyk-louw/ Besoek 9 Augustus 2025
Helize van Vuuren het uitgebreid geskryf oor Tristia in haar belangrike studie wat in 1989 verskyn het waar sy vanuit blikhoeke kyk na hierdie grootse bundel.
Cussons is inderdaad ‘n gekompliseerde chiaroscuro-wese wat telkens terugkeer na haar mentor en gespreksgenoot Louw.
Daarom staan daar in “Groot ode”:
-heiligheid en volledigheid-
ander name die sluimer nog.
Mal d’Archive: une Impression Freudienne oftewel Archival fever: A Freudian Impression vra Jacques Derrida tereg:
The question of the archive remains the same: What comes first?
Even better: Who comes first? And second? (1995:37).
Hierdie lesing was deel van ‘n kongres by die Freud museum in 1994.
Lank voor Louw en Cussons se ontmoeting, het hierdie Abélard en Heloise met mekaar gepraat.
In “Abélard” skryf Louw reeds:
My hart was droef en rusteloos van pyn … in Die halwe kring (1958).
Joan Hambidge
Kaapstad
1 September 2025
Bronne:
Cussons, Sheila. 1984. Membraan. Kaapstad: Tafelberg.
De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.
– 2009 Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Derrida, Jacques. 1995. Archive Fever: A Freudian Impression. Chicago: Johns Hopkins University Press. Vertaler: Eric Prenowitz.
https://monoskop.org/images/e/ef/Derrida_Jacques_Archive_Fever_A_Freudian_Impression_1996.pdf Besoek 9 Augustus 2025
Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.
– 1988 Versamelde gedigte. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.
Van Vuuren, Helize. Augustus 1988. file:///C:/Users/User/Downloads/849-2398-1-SM.pdf Besoek 9 Augustus 2025
– 1989 Tristia in perspektief. Kaapstad: Vlaeberg.
