Ys-eskapades:
“I feel of no use to anyone unless I am outfacing the storm in wild lands.”
(Ernest Shackleton)
In ‘n wedren oor die sneeu en ys
om die Suidpool presies uit te wys
verloor hy en Scott teen die Noor
maar hy word eervol as ridder geslaan:
dit gee hom impetus en spoor
hom steeds nog verder aan
ʼn nuwe Don Quixote-reis:
om dwarsoor Antarktika se pool-ys
te seil: maar word meteens brutaal gestuit
want hul Endurance hou nie uit
nie: hak vas en lê totaal verpletter,
ingevries: die skeepsvolk dryf
op kraakwit stukke ys wat sketter-
skaterlag vir hulle desperasie
— koekepanne: kan soos kartel-wiele kantel
elke blok wil op sy eie houtjie wandel —
tog lei hy almal êrens veilig na ‘n destinasie
oor sewe dae (‘n hele skeppingsweek!)
om die dood loef af te steek
en dan, twee lang jare later,
tuis: veilig uit die ysvrieswater
en dus kan hy alweer
as held uit nog ‘n episode stap
word nuut ge-akkoleer
en bly vergetelheid ontsnap
maar op ‘n later poolkruis-taak
kan sy hart nie meer verduur
nie en het hom nou totaal versaak
alleen in sy finale uur
eis die ysklou van die dood
koue laaste porsie lewensbrood.
© Meyer van Rensburg, 2024
