I
O rijkdom van het onvoltooide is ‘n bloemlesing van J.H. Leopold se gedigte met Johan Polak as die redakteur.
Waarom gebruik digters motto’s?
Wat is die funksie van die motto?
Die motto weet ons moenie die gedig oordonder nie …
Alles van waarde is weerloos, is al soveel keer gebruik as motto dat dit nou geyk raak.
Herman Wasserman in sy bundel waterman wend motto’s sinryk aan.
Die motto neem die leser na ander tekste en verryk die gedig. Opperman se spel met Totius in “Ballade van die grysland” is ‘n belangrike voorbeeld.
In ‘n gedig speel my vers in op Leopold se beroemde gedig.
Nogmaals die liefde
O nachten van gedragene extase
en diep gedronkene verzadiging
Leopold
Vanoggend in ‘n gastehuistuin in Kleinmond
denkend oor die rykdom van die ónvoltooide:
‘n vlugvertraging, ‘n notaboekie leeg, my pen
(opgedroog) in ‘n Lufthansa-sakkie gehou.
In daardie rosetuin in Wene jou sagte mond
voel oopgaan, jou borste skerp soos ‘n dubbel-
punt (jou hande agter my kop gevou) …
Vanoggend in ‘n gastehuistuin in Kleinwond.
© Joan Hambidge
‘n Liefdesvers ja, ‘n terugkeer in die tyd. ‘n Fabrikasie en dat die skryfproses dalk belangriker is vir die spreker as die liefde?
Pier Paolo Pasolini se film Theorem (1968) gebruik Die Bybel, Mozart se Requiem, Rimbaud (en natuurlik Dante) met Terence Stamp as die besoeker wat almal se lewens verander. Daar is ook verwysings na sy ander films wat verdere implikasies het. En akteurs wat ons al gesien het in sy klassieke films.
Die motto’s draal in die dialoog met die musiek wat alles bind. Met berg Etna as ‘n simbool van onheil. Die tydloosheid van die spirituele word geplaas teenoor politieke onreg en uitbuiting in Milaan.
Die pous het die film vir alle Katolieke verbied wat Terence Stamp beskou het as die beste publisiteit denkbaar vir die film. Theorem beteken ook om te kyk.
II
Wat kry Wasserman reg met sy besonderse bundel?
Hy verklap waar hy geleen en gesteel het. Die leser wat die Afrikaanse digkuns ken, (h)erken die motto’s, die intertekste en toespelings.
Die gedigte waaier uit na soveel ander verse, maar elke gedig kan jy eers as outonoom benader en láter word die gedig iets heel anders.
Opperman en Van Wyk Louw tot Ernst van Heerden, Breytenbach tot Ingrid Jonker en Philip de Vos onder andere.
En Stephan Bouwer se klassieke vers “Die mense wat ek liefhet”:
Die mense wat my liefhet
kom groei op my soos mos
daar laat ek hulle na hartelus gedy
en loop deur die wêreld
– beskut teen die koue –
die snoesigheid self:
ek met my moskombers
En as daar oorlog kom
word die mense wat my liefhet
‘n ekstra horinglaag
so marsjeer ek deur die wêreld
– gepantser teen die vuur –
die ontasbaarheid self:
ek met my harnas van been
Maar as iemand wat op my gegroei het
weggaan
kom sit daar ‘n wond
dan sluip ek deur die wêreld
die kwesbaarheid self:
ek met my seerplek
wat nie wil genees nie
https://strokesofhappiness.wordpress.com/2017/01/10/die-mense-wat-my-liefhet-stephan-bouwer/ Besoek 24 September 2025
Luister hoe mooi vertolk Laurika Rauch hierdie gedig soveel so dat dit al aan haar toegedig is:
YouTube·Laurika Rauch – Topic·21 Nov 2021
Die weerloosheid van die spreker is aangrypend soos in “Voorsmaak”:
die dag was lank en moeilik en seer
maar nou is dit heelwat later
en met die aandbries sak ‘n stilte neer
oor die tafels op die terras
die desperate straatmusikante
is eindelik stil, en daar is niks
meer om te bestel nie
as sy die rekening voor my neersit
val die kelnerin se hare oor my skouer
en dan, na die warm, bitter dag,
maak iemand êrens
‘n venster oop na die koelte van die nag
(88)
In hierdie gedig is Ingrid Jonker ingebed. Dit was nie nodig om ‘n motto na “Bitterbessie dagbreek” te gee nie. Die leser voel en sien en hoor dit wanneer die kelnerin die rekening neerplaas. Die sirene van bloeisels om Stephan Bouwer by te haal.
https://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/stephan-bouwer-sirene-van-bloeisels-2000.html Besoek 24 September 2025
Kniebuigings en erkenning aan voorgangers.
III
‘n Motto moet nie net ‘n oorbel of versiering wees nie. Eerder ‘n tatoe.
Inderdaad die rykdom van die onvoltooide.
Joan Hambidge
Kaapstad
24 September 2025
Bronne:
Bouwer, Stephan. 2000. Sirene van Bloeisels. Kaapstad: Human & Rousseau.
Leopold, J.H. 1977. O rijkdom van het onvoltooide: een bloemlezing uit zijn verzen. Amsterdam: Bert Bakker.
Wasserman, Herman. 2025. waterman. Kaapstad: Queillerie.
