I
‘n Postume bundel is dikwels nalatig en dalk deur ‘n familielid of persoon saamgestel wat helaas nie veel weet van die digkuns nie. Dit is soos ‘n begrafnis waar net die goeie dinge gehoor word van die afgestorwene. En ingeligtes nie hul ore kan glo nie of maar beleefd niks laat blyk nie.
Of dalk probeer die samesteller of opdraggewer eie skuldgevoelens so demp?
Daar is vele voorbeelde van só ‘n nalatenskap en Johann de Lange het dikwels verwys na nalatige verse. Hy sou weet, omdat hy ‘n bundel moes saamstel met ‘n koppige broer wat nie van beter wou hoor nie.
https://joanhambidge.blogspot.com/search?q=wilhelm+knobel Besoek 1 Oktober 2025
Pirow Bekker se Die bloei van blomme is ‘n belangrike antologie.
Marlies Taljard en die uwe het gekyk en gekeur toe die worp verse by Naledi beland het.
Uitgegooi en geselekteer. Gepraat, getoets. Die essensie behou. En Johann Lodewyk Marais het eweneens raad gegee. En die digter het die keuse gesien. Dus eerder dan laatwerk postuum gepubliseer.
Daniel Hugo skryf insigryk oor hierdie bundel:
https://versindaba.co.za/2025/09/26/resensie-die-bloei-van-blomme-pirow-bekker/ Besoek 26 September 2025
II
Hierdie bloemlesing beslaan 104 bladsye en is besonder lywig. ‘n Mens sien die komplekse digter hier aan die woord: van die klein vers soos ‘n kwatryn tot jeugherinneringe en satires. En die opnames van siektes wat die ouerwordende mens tref.
In die openingsvers lees ons:
Oulike tuin
Alte grys raak my tuin
die blomme bloei wys
wyl reikafstand kwyn
(11)
Regdeur word die blom-motief op verskillende maniere ontgin en weergee. Ons hoor ook “Rosa Rosarum”:
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-rosa-rosarum/ Besoek 1 Oktober 2025
Tot by “Skakeltuin” (97) met die siening dat optelgoed hoeka jakkalsgoed is. ‘n Vernugterde digter in ‘n oord vir afgeleefdes, maar steeds sterk aan die woord.
III
In die vierde afdeling sien ons die digter as bedrewe en goeie beheerser van die kwatryn.
Aan ‘n kardioloog
Hierdie skrif, geagte dokter Van der Laan,
is van ‘n ou tieker, so hittete geskors:
Hartlik dank vir die pasmaat aan die bors –
saam kan ons die lewenslas gemaklik tors.
(76)
Eybers is in die agtergrond en ‘n woord soos tieker pas perfek hier. Ook ironies: aan ‘n kardioloog; nie my kardioloog nie.
Die skrif was (amper) aan die muur? En die dubbelpunt en aandagstreep wys op die digter se aanpassing met die “nuwe pasmaat”.
Plekname soos Eensgevonden, Viervoetvassteekberg, Modderpoort vertel van ‘n ou wêreld. Die kruime van onthou.
Die digter verwys na vele ander digters en skrywers: hebban olla vogala, Goethe, Hemingway, Jan F. Celliers, E.N. Marais, Van Wyk Louw …
In “Veldbrand” (51) is daar ‘n gesprek met “Winternag” ingebed. Hoe hierdie klassieke vers in sy gemoed ‘n ander lewe kry, is tersaaklik. Gedigte is in hierdie opgawe ‘n voortdurende spel tussen hoe dit eens was en nou in die “deurmekaarhoutbos” (50) iets anders geword het. Die digter is ‘n uitstekende satirikus en “Pronatalistedag in Silicon Valley” (82) werk selfs met KI. Vol ironie: koek en in die ander tyd.
‘n Sentrale vers is “Lyklelie” (58) met die pynlike slot:
By geboorte kry ‘n mens die angel en die blom,
lewe en dood, in een goddelike paket.
Joan Hambidge
Kaapstad
2 Oktober 2025
Bronne:
Bekker, Pirow. 2025. Die bloei van blomme. Gansbaai: Naledi.
