Die smaakmaker van puin
https://www.youtube.com/c/Aurikatariina
Aurikatariina Kananen, smaakmaker en filosoof van skoonmaak,
verskuif weekliks kraters vullis,
haar smerige video’s vergader ’n biljoen likes op TikTok.
Kosmiese puin tuimel in wentelbane om die Aarde,
SpaceX – die gerieflike sondebok – se vuurpylreste,
fragmente van ruimtelike botsings, lê braak vir Auri.
Op haar pienk planeet ontwaak depressielyers,
uit nood genoop tot afstof, besiel deur skrop-terapie.
Auri vat ’n bodemlose put van smet aan,
een Scrub Daddy op ’n slag.
Die eens kindbestande inwoner van Pirkanmaa
sloof haar af vir ruimte op die aarde,
asof sy kon raai haar taak sou stellig wyer kring.
X-botte braak gal, begoëlde volgelinge voel verraai:
“Die impregnasie van Auri is ’n ramp vir die mensdom.”
Aurikatariina Kananen raak bestand teen trolle.
Op Amazon pryk haar opruim-boek: Omarm jou gemors,
huis skoonmaak kan jou sielsvreugde bring,
lui die titel van die silwerskoon blitsverkoper,
gewilder nog as Finse noir.
© C Fritze. 2025

Aurikatariina sal mal wees oor jou suiwer, kreatiewe Afrikaans, Celeste.
Sy mis uit!
So ‘n besonderse talent. Geniet dit altyd en sien uit na die volgende gedig.