I
In The Godfather Deel III vergiftig Connie Corleone haar peetpa, Don Altobello (Eli Wallach) met cannoli. Sy het ontdek dat hý die persoon was wat die Corleone’s wou leed aandoen. Michael (Al Pacino) was eweneens bewus hiervan.
Hy sterf tydens die opera-vertoning van die Cavalleria Rusticana.
Connie, vertolk deur Talia Shire, is die jongste suster van die regisseur Francis Ford Coppola. Sy transformeer van ‘n vrou wat aangerand word deur haar man tot ‘n eiesinnige vrou wat deur haar broer Michael (Al Pacino) betig word wanneer sy agter sy rug besluite neem tydens sy siekte. Hy word in die hospitaal opgeneem weens ‘n diabetiese toeval weens stres. Opvallend dat hy die hele tyd water drink wat sinspeel op sy toestand. Wanneer hy die Eminensie besoek, vra hy vir iets soets, alvorens hy met sy konfessie begin.
En siekte is ‘n belangrike tema in hierdie film. Michael beveel die verpleegster om sy vader uit die hospitaalkamer te verwyder uit vrees dat hy vermoor sal word.
En konfessie is eweneens ‘n ander tema in hierdie film. Wanneer hy langs sy vader se doodskis bieg oor al sy vergrype, kan hy eerlik wees. Want die vader kan hom nie hoor nie, aldus Coppola in die dokumentêre besinning oor hierdie film.
II
Wat ons opnuut laat nadink oor die regisseur se analise van ‘n film. Of die nawoord in digbundels of romans. Dikwels blote Erkennings.
Die leser (kyker) weet egter daar is meer op die spel hier. Waarom gee skrywers erkennings of dankbetuigings?
Is dit die uitgewer / redakteur se werk of besef die skrywer dikwels dat ‘n goeie redakteur meer as ‘n blote proefleser is?
‘n Mens sou ‘n hele studie kon onderneem oor digters se erkennings.
Of dalk dit wat verswyg word.
Dikwels staan daar in die Erkenning:
Gesteel, gebaat, geleen, gebruik, ontleen, ‘n kniebuiging, ‘n eggo, steun sterk op, unsw.
Sommige leser mag argumenteer dis onnodig. Dis tog die leser se werk om al die verwysings uit te snuffel.
Vir die leser as argivaris-cum-speurder werp dit ‘n nuwe lig op die bundel.
III
Met Coppola se besinning in die ekstras tot die film kyk ‘n mens anders na die films.
Frozen time is een van die punte wat hy maak.
Gevriesde tyd …
Sy dogter Sophia waar sy gedoop word én later transformeer tot ‘n gedugte teenspeler. Coppola merk op dat dit ‘n manier was wat hy familiefoto’s kon behou.
Coppola glo in die familieskap van akteurs en neem hulle na sy wynplaas in Kalifornië en vertel hoe ingewikkeld dit was om véral die derde film te maak. Almal was toe bekend en ryk en in die media.
Maar juis omdat hy deur die jare ‘n intense vriendskap met hulle kon sluit, was dit moontlik om hierdie epiese film te voltooi.
Voorheen sommer in ‘n restaurant; later op die wynplaas kom almal bymekaar.
Die allerbelangrike punt van hierdie nawoord is die rol van familie en die ensemble.
Ook die werk van sy vrou, sy dogter én sy suster. En sy harde werk om Paramount te oortuig oor Marlon Brando en Al Pacino se talente. En dan James Caan wat in die ekstras Brando perfek naboots.
IV
Een van die grootste illusies oor die digkuns is dat die digter skryf sonder invloede of hulp.
In kreatiewe skryfwerkswinkels is daar mentors en ander digters wat raadgee.
Met die publikasie van ‘n bundel is daar altyd onsigbare hande en oë.
Taal- en feitefoute word opgetel. Reggestel.
Die digter word eweneens gementor deur die lees van ander digters se werk of ontmoetings met groot digters, hetsy in vertaling of in ‘n bekende taal.
Dit is ten slotte ‘n ensemble-spel.
Meer as wat lesers altemit besef.
Joan Hambidge
Kaapstad
2 November 2025
