I
In die wonderbaarlike roman Balthazar (in The Alexandria Quartet) is daar ‘n vrou Leila met twee seuns: Nessim en Narouz. Sy bly in ‘n somerhuis in die tuin met ‘n kobra wat melk uit ‘n piering drink soos ‘n kat. Sy is eensaam, maar haar hele uitkyk op die lewe word deur lees bepaal. Sy het haar afgesluit van die buite-wêreld, onder andere vanweë ‘n troebel psigiese aard en haar skoonheid wat verdwyn het.
In Alberto Manguel se The History of Reading wys hierdie outeur ons hoe die blinde Borges aandagtig luister wanneer ‘n verhaal voorgelees word. En die leesaksie héf alleenheid op, meen Manguel (5).
Tristia (Sketsboek) verskyn op 11 Junie 1966 ter viering van Louw se sestigste verjaarsdag. 400 genommerde en getekende eksemplare. Hardeband. Luuks.
‘n Krabbelboek en afdrukke uit die manuskrip en ons sien hoe gedigte ontstaan het. ‘n Streng leser en redakteur was Van Wyk Louw.
Johann de Lange dig in Miniatuur:
Grammatika
Ek’s verbuig & vervoeg deur Tristia,
ek stamel, verknot & verknoop deur sy sintaksis,
die stigmata van akuut & gravis,
my visie beleër deur sy ars amatoria.
II
Manguel praat ook oor die boeke wat ons nog nie gelees het nie en nooit sal skryf nie. Opgeneem in die donkerte van die universele biblioteek se vérste ruimtes.
Gebore in 1948 hierdie Argentyns-Kanadese bloemleser, vertaler, essayis, romansier, redakteur én voormalige direkteur van Nasionale Biblioteek in Argentinië. Ofskoon gebore in Buenos Aires, sien hy homself as ‘n Kanadees.
Ook ‘n kenner van Borges en Alice in Wonderland.
The Dictionary of Imaginary Places (geskryf saam met Gianni Guadalupi in 1980) is ‘n baken, nes sy gay erotiek. Pasolini in sy film The Canterbury Tales laai die oorspronklike vertellings met meer erotiek en naaktheid. Dit word ‘n soort raamvertelling met Pasolini as die verteller, wat glimlag oor al die karakters se streke. ‘n Duiwel poep al die sondaars uit.
Groot en belangrike boeke en films bly staan ten spyte van doemprofete wat meen dat lees nou moeiliker raak, omdat moderne fone en media ons aandagspan verander en verklein het.
Manguel skryf insigryk oor die outeur as leser, die outeur as self-vertaler, die sogenaamde “boek-gek”. Ten minste het die 100 beste romans-projek in Rapport Afrikaanse lesers aan die praat gesit. Want hoe kan ‘n mens Karel Schoeman vergelyk met Etienne Leroux? Of in die digkuns: Louw met Opperman? Eliot met Wallace Stevens?
Tog tog. Die uwe was self al skuldig aan so ‘n soort lys.
Maar die onvermelde, ongelyste skrywer (digter) wat jare later sig aanmeld, laat alles uiteindelik intuimel soos ‘n kaartehuis.
‘n Digter waarsku immers:
Ginkgo biloba
Binne die mure van ‘n boeddhistiese tempel
in China staan ‘n ginkgo veertienhonderd jaar oud.
In die herfs val sy blare, ’n geelkoper reën,
kanariegeel deken rondom die stam, in bladgoud.
In Louw se Sketsboek lees ons:
van ons volste wete //
word gemasker, beitelaars …
Onderaan:
Kom ons sing dat die dwaasheid van ene
die volheid ge-masker’t
Joan Hambidge
Kaapstad 17 November 2025
Bronne:
De Lange, Johann. 2024. Miniatuur. Gansbaai: Naledi.
Durrell, Lawrence. 1957. The Alexandria Quartet. Londen: Faber and Faber.
Louw, N.P. van Wyk.1966. Tristia (Sketsboek). Kaapstad: Human & Rousseau.
Manguel, Alberto. 1997. The History of Reading. Londen: Harper Collins.
