vooraand
laat ons dan gaan, jy en ek,
met die skemer wat oor die meer uitstrek
soos ʼn ooglid
en veraf blitse wat aar
oor die retina van die aand
laat ons gaan, want die kanse op gevaar
is skraal, die swart slang
het lank in die laatmiddagson gelê
vlak teen die paadjie waar ons voeteval
dit vroeër sou versteur, maar nou
bly net ʼn droë sug soos wat skubbe
saggies in die onderbos versit
in die bome kom en gaan die wind,
ons voel die na-reën van ʼn vroeër bui
as die bos soos ʼn nat hond sy vag uitskud
en miskien sal ʼn volgende vlaag
swaar takke uit die bloekoms breek
wat knallend in die ruigte val
maar sal dit vanaand wees?
hier is net die naskyn van ʼn gewone dag
hier dryf die laaste pelikaan
hier tru ʼn man sy boot die water in
met die sagte sloef-sloef van golfies
en miskien sal die storm draai
of die ankertou breek of die net,
maar sal dit vanaand wees?
want iemand stap met ʼn hond
wat teen lamppale sy been lig
iemand kook kos vir ʼn geliefde
iemand praat oor ʼn telefoon
iemand lag
bo die duinebos oorkant die meer
flits die ligtoring uit oor die see
en binnekort
sal dit ook hier waar ons stap
donker word.
© Ilse van Staden, 2025
