I
In 1977 het ek Lawrence Durrell se Balthazar aangekoop. En begin lees. Klein potloodmerkies in die kantlyn. Deel van my projek oor die belydenisroman. Oor briewe en dagboeke. Nou in 2025 word The Alexandria Quartet herbesoek.
Hierdie vierdelige roman vertel die verhaal kaleidoskopies en dus vanuit verskillende perspektiewe. Die verdwyning van Justine se kind; die besoeke aan die Cecil Hotel; Clea, die skilderes, wat in wese hunker na Justine; die impak van Joodse wroeging op ‘n karakter se psige; ‘n vrou wat haar afsonder van die wêreld, verbitterd omdat sy nie as ‘n dokter kon praktiseer nie en moes terugkeer na ‘n onderdrukkende bestaan; ‘n jong man met ‘n haaslip wat op skool geboelie en as ‘n kameel uitgekryt is; ‘n makgemaakte kobra wat melk uit ‘n piering drink; ‘n vrou wat haar neus verloor het en ‘n masker dra; ‘n man wat vra dat sy geliefde Clea na hom moet kom, terwyl hy sterwend is en haar naam uitroep …
Nou met ‘n herbesoek is daar ander aspekte wat opval. ‘n Karakter op soek na die nuwe Kafafis-manuskripte.
Alles toegesluit. Onbeskikbaar. In die roman dus.
Constantine Cafavy (in Afrikaans Kafafis) loop reg deur die romans as ‘n fiksionele karakter. Soms word daar verwys na hom as “the old poet” of “a Greek gentleman in a straw hat”. Geleef tussen 1863 – 1933.
Durrell verwys ook na sy gedigte “The City” en “The God Abandons Anthony” onder meer.
Hierdie digter word ‘n fiksionele karakter in die roman. Ons lees van die man met die strooihoed.
In Clea word ‘n karakter se Rilke-snorretjie beskryf.
Durrell is benewens romanskrywer, ook digter. Hy het ook ‘n versdrama oor Sappho geskryf benewens sy reisverhale belangrike sketse oor die diplomatieke wêreld (Esprit des Corps en Stiff Upper Lip) vir ons gegee het.
II
Die komplekse stad word geteken met Arabiese en Franse woorde. Malgré (ten spyte van) en die Arabiese siening dat Afrika ‘n “kiss of thorns” is. Die verteller, Darley wat alles waarneem vanuit sy Britse perspektief as buitestaander.
In die vier romans word ‘n asterisk vir die leser gegee wat jou neem na die teks of gedig waarna verwys word. Met aforismes soos Jouir c’est pourrir on peut of Vision is exorcism.
Alexandrië met sy biblioteek en die Pharos, die lighuis wat as een van die sewe wonders van die wêreld beskou word.
Argiewe is belangrik. Dit sien ons in Karen de Wet se intreerede (nou onlangs aan die Universiteit van Johannesburg) en die feit dat die Ingrid Jonker-manuskripte nou huis toe gekom het. Daar was Saterdag 22 November by SASNEV ‘n viering van hierdie historiese geleentheid en die werk van Jan Mutton, Andries Visagie, Eureka Barnard o.a. moet beklemtoon word. En die uiteindelike berging aan die Universiteit van Stellenbosch met hul dokumente-bewaring oor soveel jare.
Beluister gerus De Wet se intreerede:
https://versindaba.co.za/2025/11/20/professorale-intreerede-professor-karen-de-wet-uj/ Besoek 24 November 2025
III
Die continual inner abdications, waarvan Durrell praat, sal in die komende weke ondersoek word. Kafafis se gedigte, die vele vertalings en gesprekke met sy werk en hoe ‘n stad ‘n karakter word in die digkuns en in hierdie roman. Ons sal eweneens kyk na die wyse waarop hierdie digter deur Johann de Lange besing is en deur Louise Cilliers vertaal is.
Die “paper-thin mirages of the city, whose fig-shaped minarets changed colour with every lift of the sun” (Clea, 1960: 24). Hierdie soort beskrywings maak van die vier romans iets uitsonderliks.
Hierdie leser was driekeer in Egipte en beoog ‘n besoek binnekort.
Joan Hambidge
Kaapstad
24 November 2025
Bronne:
Durrell, Lawrence. 1957. The Alexandria Quartet. Londen: Faber & Faber.
Lawrence Durrell. The Art of Fiction No. 23
Interviewed by Julian Mitchell & Gene Andrewski
Issue 22, Autumn-Winter 1959-1960
Hambidge, Joan. 2022. Sanctum. Pretoria: Protea.
Cavafy
This room, how well I know it.
Now they’re renting it, and the one next to it,
as offices. The whole house has become
an office building for agents, businessmen, companies.
This room, how familiar it is.
The couch was here, near the door,
a Turkish carpet in front of it.
Close by, the shelf with two yellow vases.
On the right—no, opposite—a wardrobe with a mirror.
In the middle the table where he wrote,
and the three big wicker chairs.
Beside the window the bed
where we made love so many times.
They must still be around somewhere, those old things.
Beside the window the bed;
the afternoon sun used to touch half of it.
. . . One afternoon at four o’clock we separated
for a week only. . . And then—
that week became forever.
Vertaler Edmund Keely
https://allpoetry.com/poem/14329058-The-Afternoon-Sun-by-Constantine-P-Cavafy Besoek 24 November 2025
Ithaka
Kavafy
Onderweg na Itaka,
mag jou reis ‘n lang een wees,
vol avonture en ontdekkings.
Laistrigoniane, Siklope,
‘n woedende Poseidon – wees nie bevrees vir hulle nie:
Jy sal nooit soiets ontmoet, onder weg,
solank as wat jy jou gedagtes suiwer hou,
solank as wat vreemde ervarings
jou gees en liggaam sal raak.
Laistrigoniane, Siklope,
wilde Poseidon – jy sal hulle nie ontmoet nie,
tensy jy hulle inlaat in jou siel,
tensy jou siel hulle uitspeel voor jou.
Mag jou reis ‘n lang een wees.
Mag daar vele someroggende wees,
vol vreugde en plesier,
wanneer jy hawens wat jy vir die eerste keer sien, binnegaan;
mag jy vertoef by die Fenisiese handelstasies
om mooi goed te koop,
pêrels en korale, amber en ebbehout,
soetruikende parfuums van alle soorte –
soveel geure as wat bestaan;
en mag jy vele Egiptiese stede besoek
om te leer en steeds meer te wete kom van die geleerdes.
Hou Itaka altyd in jou gedagtes.
Om daarheen te reis, is jou bestemming.
Maar reis langsaam, stadig …
Dit is verkieslik dat dit vir jare duur,
sodat jy oud is wanneer jy by die eiland aankom,
verryk deur dít wat jy onderweg verkry het,
sonder verwagting dat Itaka jou sou verryk
Itaka het vir jou hierdie ongelooflike reis gebied.
Sonder haar sou jy nooit begin het nie.
Sy het niks om jou meer te bied nie.
En as jy haar armoedig aantref, Itaka het jou nie bedrieg nie.
Wys, soos wat jy geword het, so vol ervaring,
sou jy begryp teen hierdie tyd wat al hierdie Itakas bedui.
Vertaling Joan Hambidge
