Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
24 November 2025

Nini Bennett-Moll. Die ambivalensie van selfdood

 

 

wie het die eerste maal die woord psigose gesê

neurose of stres of trauma

of die eufemisme selfdood

T.T. Cloete. “Lewensafrigters”, p. 17, Karnaval en Lent

 

 

Ariel

To write poetry: you have

to be prepared to die. – THEODORE ROETHKE

 

Die slim dogter

van Smith College

Phi Beta Kappa

(later selfs in die redaksie

van Mademoiselle)

gil geluidloos

haar lewe gestulp

in ’n glasklok.

 

Die sjarmante vrou

van Ted Hughes

skryf verse

soggens voor haar baba

se eerste voedingstyd

– word onverklaarlik mislik

kool brand

op die gasstoof

 

Hoe helder breek

die glasskerwe

van ’n fles; hoe apart

staan die vinger

oopgevlek met ’n mes;

blomme bloei

soos bloed in die tuin.

 

“Dying

is an art, like anything else.

I do it exceptionally well.”

So dissekteer die intellek

na nog ’n gefnuikte selfmoordpoging

populierbome is selfmoordbome…

hanteer huishoudelike roetine

opgewende metronoom.

 

Dood ’n kuns

tot in die vesels

toe verken

– lewe klakkelose

nabootser hiervan.

 

Parys 6 Julie 1986

Joan Hambidge, Groot Verseboek 3, p. 987

 

Wanneer ’n mens bogenoemde gedig lees, kom A. Alvarez se ikoniese werk, The Savage God: A Study of Suicide (1971) onmiddellik voor die oog.

The Savage God: A Study of Suicide is die Spaanse digter en kritikus A. Alvarez se meesleurende en persoonlike verkenning van selfdood as kulturele, sielkundige en artistieke verskynsel. Die boek begin met Alvarez se eie selfdoodpoging in 1959 en sy vriendskap met Sylvia Plath, wie se dood in 1963 hom diep getref het. Hy ontleed daarna die voorkoms van selfdood in die letterkunde – van Shakespeare en Donne tot Romantici soos Goethe se Werther – en toon hoe die geslote Calvinistiese tradisie selfdood as sonde veroordeel het, terwyl die oop Romantiese tradisie dit soms verheerlik het as die uiteindelike daad van vryheid. Alvarez argumenteer dat die 20ste eeuse geweld en anomie selfdood uit die skaduwees gelig en dit in ’n moderne heldedaad omskep het vir kunstenaars wat die grens tussen pyn en kreatiwiteit wou toets. Met diepgaande insig en sonder sentiment, meng hy memoir, literêre kritiek en sielkundige analise tot een van die belangrikste werke oor dié onderwerp – steeds ontstellend relevant vyf dekades later.

In The Savage God beklee Sylvia Plath ’n sentrale, byna mitiese posisie as die moderne vergestalting van die selfdood-kunstenaar. Alvarez, wat Plath persoonlik geken het en een van die laaste mense was wat haar lewend gesien het, skets haar nie bloot as ’n tragiese gevallestudie nie, maar as die uiterste infleksiepunt waar digkuns en selfvernietiging onafskeidbaar word. Hy beskryf die kreatiewe vitaliteit van haar laaste maande – die “Ariel”-gedigte, wat enersyds verwys na die perd waarop sy gery het, en andersins na haar gelyknamige bundel (1965) as ’n soort jukstaponerende kontras van ekstatiese vernietiging. Die kunstenaar wat op die perd Ariel na die opkomende son toe jaag totdat sy deur haar eie visioen verswelg word. Vir Alvarez was Plath se selfdood op 11 Februarie 1963 nie swakheid of waansin in die gewone sin van die woord nie, maar ’n logiese, byna onvermydelike uitkoms van ’n persona wat alle kompromieë met die lewe se middelmatigheid negeer het. Haar dood, beweer hy, het haar werk voltooi; dit was die finale gedig, die uiteindelike daad van beheer en suiwerheid in ’n lewe wat ondraaglik geword het. Met hierdie leeswyse word Plath self ’n “savage god”: ’n woedende, dog stralende godheid wat alles eis en, omdat sy nie veel terug ontvang nie, selfvernietiging verkies. Alvarez se werk staan as beide ’n treursang én ’n nadoodse ondersoek van Plath.

Die argetipiese wrede, of brutale god – die oeroue, vernietigende krag wat gebore word uit wanhoop, perfeksionisme, en die kunstenaar se onontkombare pakt met hul eie duisternis, word op veelvlakkige wyse ondersoek. Deur sy boeiende liriek en skerp intellek oorskry The Savage God die blote patologie rakende selfdood, en nooi lesers om dit te konfronteer as ’n diepgaande en tragiese uitdrukking van menslike outonomie in ’n onverskillige wêreld wat nie ‘n duit omgee nie.

Alvarez vertel van hul laaste ontmoetings in ’n koue Londen in 1963, waar Plath se huishoudelike ontwrigting – ballingskap in haar eie huwelik met Ted Hughes, en die genadelose greep van haar depressie wat die belydenisagtige krag van haar “Ariel”-gedigte gevorm het.

Alvarez weerhou hom van oordele, en bevraagteken of Plath se selfdood met ’n gasoond ’n doelbewuste aanvaarding van haar eie eksistensiële krisis was, en of dit ’n desperate kans was wat deur omstandighede gefnuik is. Hierdie dubbelsinnigheid, argumenteer hy, beklemtoon selfdood se ambivalente aantrekkingskrag – Eros en Tanatos se ewige dialektiese dans om ewewig.

Tog temper Alvarez die psigoanalitiese jargon in sy werk met filosofiese inkledings en beroep hom op Kierkegaard se wanhoop van moontlikheid en Adorno se waarskuwing dat as die wêreld is soos dit is, mens nie bang genoeg kan wees nie.

Nog ’n belangrike werk binne die korpus selfdoodlektuur is Jennifer Michael Hecht se Stay: A History of Suicide and the Philosophies Against It (2013): ’n dapper, dog deernisvolle boek wat dien as antidoot teen wanhoop, en historiese vertelling met filosofiese argumentvoering meng om te bevestig dat selfdood nie net voorkombaar is nie, maar ook moreel verwerpbaar op sekulêre gronde is. Deur twee millennia te deurkruis – van die antieke Stoïsyne wat selfdood as “oop deur”/uitkoms gedebatteer het, asook die denkers van die Verligting wat dit verwerp het, openbaar Hecht ’n volgehoue kontra-tradisie van stemme wat daarop aandring dat lyding ons gedeelde menslikheid, asook ons toekomstige self, eer. Sy staan die romantiese mite, dat selfdood ’n edele uitkoms mog bied, teen, en lewer bewys dat dit as vernietigende krag ’n rimpeleffek dwarsdeur gemeenskappe skep en beroep haar op ’n “verbond met die dag van môre”: Dit is ons etiese plig om uit te hou, omdat ons pyn tydelik is en ons afwesigheid permanent. Sy spoor lesers aan om te bly leef, nie uit vrees of dogma nie, maar uit eerbied vir die brose web van lewens wat selfdood sou skeur. Sy haal onder meer die filosoof, Emile Cioran aan, een van my gunsteling filosowe wat skakel met Albert Camus se beskouing van die mite van Sisyphus. Volgens Cioran is daar hoop, al is dit die hoogtepunt van wanhoop. Cioran is sinoniem met eksistensialisme, nihilisme, pessimistiese filosofie, die absurde en selfmoord. Om te bly lewe, is die onwaarskynlike antitese, die kontra-kontrak van die lewe.

Camus vergelyk die lewe met die mite van Sisyphus (wat vir ewig ’n rots teen ’n berg moet uitstoot net om te sien hoe dit weer afrol) as die uiteindelike simbool van die menslike toestand. Die lewe is absurd en sinloos, en die absurde mens erken dieselfde absurditeit, maar kies om te leef – nie uit hoop nie, maar uit opstand en veragting vir die sinloosheid. Ware vryheid en waardigheid lê nie in die dood/selfdood nie, maar in die bewuste, passievolle aanvaarding van ’n lewe sonder uiteindelike betekenis. Ek haal aan uit Stay: A History of Suicide and the Philosophies Against It:

The first, Romanian-born French philosopher Emile M. Cioran (1911–95), is important because of his thoughts on vacillating between the desire to kill oneself and the desire to live. Cioran wrote, in The New Gods, “The obsession with suicide is characteristic of the man who can neither live nor die, and whose attention never swerves from this double impossibility.” Cioran’s use of the word “obsession” helps provide a strong vision of the person whose “attention never swerves” both from imagining death and from rejecting it. Zilla Gabrielle Cahn has written of Cioran that “throughout his work one finds this refrain: I cannot live, I cannot die.” Cioran speaks of this vacillation as intensely painful in itself and sympathizes with others in his situation. Camus joked that most of us are in this situation, writing that “just as one does or does not kill oneself, it seems that there are but two philosophical solutions, either yes or no. That would be too easy. But allowance must be made for those who, without concluding, continue questioning. Here I am only slightly indulging in irony: this is the majority.” Like Camus, Cioran seems almost morbid in his willingness to speak about death and suicide so openly, but it is essential to note the philosophical distinction between accepting suicide and accepting thinking about it. Living can be too hard, and we can find ways to refuse to do it, at least in the ways that we were taught it had to be done. But though we may refuse a version of life, we must also refuse voluntary death. Cioran is much more interested in suicide than popular culture’s purveyors of life-affirming sentiments, but he does not actually advocate suicide.

Die sosioloog Émile Durkheim se beskouing van selfdood, soos dit gestalte vind in Suicide: A Study in Sociology (1897), handel oor die sosiale en kollektiewe kragte wat selfdood omring. Dit is nie bloot ’n individuele handeling nie.

Deur die noukeurige statistiese ontleding van die onderskeie selfmoordkoerse in Europese streke, godsdienste en demografiese groeperinge, het Durkheim vier duidelike tipes selfdood geïdentifiseer – egoïstiese, altruïstiese, anomiese en fatalistiese selfdood, elk verbandhoudend in verskillende grade van sosiale integrasie en regulering.

Egoïstiese selfdood ontstaan uit oormatige individualisme, geïsoleerdheid en swak gemeenskapsbande, soos gesien by enkellopendes in groot stede; altruïstiese selfdood is byvoorbeeld soldate wat hulself vir volk en vaderland opoffer; anomiese selfdood is die gevolg van skielike ontwrigtings in sosiale norme, soos ekonomiese krisisse – ’n welaf persoon wat skielik alles verloor; en fatalistiese selfdood betrek byvoorbeeld mense in onderdrukkende sisteme soos in die gevangenis.

Durkheim verduidelik dus menslike gedrag en selfdood deur gebruik te maak van empiriese patrone, in stede van blote introspeksie.

’n Ander belangwekkende werk oor die onderwerp is Man Against Himself (1938), die psigoanalis Karl Menninger se baanbrekerswerk en ontstellende studie oor selfdestruktiewe gedrag as ’n universele menslike eienskap. Met Freud se doodstryd (Tanatos) as vertrekpunt, toon die outeur hoe selfdood nie ’n geïsoleerde daad is nie, maar die uiterste punt op ’n kontinuum wat kroniese selfsabotasie, verslawing, selfverminking, martelaarskap en selfs oënskynlik “normale” masochisme insluit. Hy ontleed kliniese gevalle – van pasiënte wat hul eie operasies saboteer, tot soldate wat op roekelose wyse hulle dood najaag – en wys hoe die mens onbewustelik straf soek vir vermeende skuld, of aggressie wat na binne gekeer of geïnternaliseer word in die afwesigheid van ’n uitlaatklep. In ’n tyd toe selfdood nog as morele mislukking of kranksinnigheid beskou is, het Menninger dit herdefinieer as ’n logiese, hoewel tragiese uitdrukking van innerlike konflik. Dié boek bly ’n hoeksteen in psigiatriese literatuur en dit hou ’n ongemaklike spieël op vir diegene wat durf om na die donker kant van die menslike psige te kyk. Weer eens kom die ambivalensie – om te lewe of om selfdood te pleeg – aan die bod; en ek stel Menninger aan die woord:

But the question arises: If some great impulse toward death dominates all of us, if at heart we all want to die, why do so many of us struggle against it as we do, why do not all of us commit suicide, as many philosophers have advised? In some ways, it seems more logical to investigate why anybody lives in the face of the difficulties both external and internal than to prove why we die, because not all people do continue to live and all do ultimately succeed in dying. In other words, why does the wish to live ever, even temporarily, triumph over the wish to die? Freud makes the further assumption that the life- and deathinstincts – let us call them the constructive and destructive tendencies of the personality – are in constant conflict and interaction just as are similar forces in physics, chemistry, and biology. To create and to destroy, to build up and to tear down, these are the anabolism and katabolism of the personality, no less than of the cells and the corpuscles the two directions in which the same energies exert themselves. […] A sort of equilibrium, oftentimes very unstable, is achieved and maintained until disturbed by new developments in the environment which cause a re-arrangement with perhaps a quite different outcome.

Verreweg die meeste boeke – as sogenaamde selfdoodlektuur – handel oor die waaroms, die filosofieë of patologieë verbonde aan dié toestand. Maar selfdood skep, nes die primêre slagoffers van so ‘n daad, ook sekondêre slagoffers wat agterbly en vir jare worstel met die pyn en skuldgevoelens waarom hulle geliefdes gesterf het aan selfdood. Dié beskouing skakel waarskynlik met die brose web van menselewens wat selfdood skeur, om na Jennifer Hecht hierbo te verwys. Left behind: Surviving a loved one’s suicide deur Anria Delport het onlangs by Naledi verskyn. ’n Broodnodige boek, inderdaad, want Delport bied ’n andersoortige blik op selfdood; dit is ’n daad wat nooit in isolasie geskied nie. Sy maak onder meer gebruik van Elisabeth Kübler-Ross se onderskeie fases van rou.

As ’n Suid-Afrikaanse outeur en selfdood-oorlewende, deel Delport haar eie hartverskeurende reis ná die selfdood van haar vader toe sy slegs dertien jaar oud was, en skep sy ’n brug van empatie vir dié wat agterbly. Hierdie boek is nie net ’n memoir nie, maar ’n gids vir genesing – een wat die rouproses ontleed sonder om dit te versag.

Sy beskryf nie net die emosionele chaos nie, maar ook die praktiese uitdagings: hoe om met familie, vriende en selfs die gemeenskap te praat oor ’n selfdood wat taboe was. Die boek is gestruktureer om die roureis te volg, van die eerste dae van ongeloof tot die langsame, onseker pad na aanvaarding.

Wat dit uitsonderlik maak, is Delport se fokus op die vier komponente van selfdood-verlies: die stigma, skaamte, geheimhouding en stilte. Sy breek hierdie emosionele mure af deur eerlike, rou anekdotes, geïnspireer deur haar eie ervaring en dié van ander oorlewendes. Temas soos die fisiese impak van rou (slaaploosheid, angsaanvalle) en die soeke na hoop word met deernis hanteer, sonder die vals beloftes van ’n maklike herstel. Delport integreer ook kulturele nuanses – veral in ’n Suid-Afrikaanse konteks, waar geestesgesondheid dikwels geïgnoreer word – en moedig lesers aan om hul persoonlike verhale te deel as ’n vorm van bevryding. Anders as suiwer narratiewe fiksie, sluit die werk refleksie-oefeninge en die besonderhede van uitreik-aksies en ondersteuningsgroepe in.

Die ambivalensie wat kenmerkend is van die meeste mense wat selfdood oorweeg, word deur kenners beskryf as gelyktydige en intense teenstrydige impulse: ’n sterk wens om te sterf én ’n ewe sterk wens om te leef. Óf: selfdood as ironiese poging om weer beheer oor jou ‘lewe’ te neem. Dié ambivalensie is dus nie ’n teken dat so ʼn oorweging “nie ernstig genoeg” is nie, maar eerder ’n universele menslike kenmerk van die selfdoodkrisis self – wat inderdaad ’n kritieke venster bied op intervensie en redding.

Verwysings:

 

Alvarez, A. 1971. The Savage God: A Study of Suicide. New York: Random House

Delport, A. 2024. Left behind: Surviving a loved one’s suicide. Gansbaai: Naledi

Durkheim, E. 2002. Suicide: A Study in Sociology. Routledge: Routledge Classics.

Hecht, J.M. 2013. Stay: A History of Suicide and the Philosophies Against it. Londen: Yale University Press.

Menninger, K.A. 1938. Man Against Himself.     New York: Harcourt, Brace & World, Inc.

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Digtersprofiel: Joan Hambidge
Joan Hambidge. Lawrence Durrell: biblioteke en argiewe →

1e kommentaar op “Nini Bennett-Moll. Die ambivalensie van selfdood”

  1. Koos de Wet says:
    27 November 2025 at 17:09

    Briljant nagevors en deeglik weergegee; vir die leser om hom- of haarself tot ‘n mening uit te daag. En ek wil dit na soveel inligting hierbinne, oor hierdie delikate onderwerp, so graag doen. Maar hierdie stuk is so intens vol dat mens dit eers wil fynkam om selfs die puik aanbieding en taalgebruik verder te verken. Dankie Nini.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Stephan du Toit. Moed

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Eerste sneeu
  • johan swanepoel. tafel vir een
  • Resensie: Steierwerk  deur Johan Myburgh
  • AVBOB Persverklaring
  • Wat lees jy? Living the ultimate carnivore lifestyle (Hendrik Marais)

Nuutste kommentaar

  1. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  2. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  3. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

  4. Dr PS Swathe on Resensie: “Krap – oop toe om rond uitkrap” (Koos de Wet)6 August 2026

    Naledi, wat het hier gebeur ??

  5. Hester Steenkamp on Digtersprofiel: Melt Myburgh3 August 2026

    Oewerbestaan is een van my kosbaarste besittings. Die bundel lê my baie na aan die hart.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d